Tolgeldverligting op KZN-roetes

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) het in ooreenstemming met sy mandaat ’n besluit geneem om die betaling van tolgeld op die N2-tolroete in KwaZulu-Natal tydelik op te skort.

Dié besluit volg op vertoë van geraakte gemeenskappe en ’n formele versoek deur die KwaZulu-Natalse provinsiale regering om die las van padgebruikers – wat nou gedwing word om die N2 te gebruik weens die sluiting van alternatiewe paaie – te verlig.

Talle alternatiewe paaie is gesluit weens vloedskade wat nou herstel moet word en dit het daartoe gelei dat plaaslike inwoners en ander motoriste genoodsaak word om tolgeld op die N2 te betaal.

“Ons het na die pleidooie van die geraakte gemeenskappe en die provinsiale regering geluister en gereageer in ooreenstemming met ons houding as ’n regering wat omgee,” het Fikile Mbalula, minister van vervoer, in ’n verklaring gesê.

Die Sanral-raad het die volgende besluite geneem:

  • Die betaling van tolgeld by die oThongathi- en Mvoti-tolplazas op die N2-tolroete sal as tussentydse maatreël met ingang van 18:00 op 22 April opgeskort word.
  • Die herstel van die alternatiewe paaie, terwyl hierdie tussentydse maatreëls geld, sal geprioritiseer en versnel word om dit vir die geraakte gemeenskappe moontlik te maak om dit so gou moontlik weer te kan gebruik.
  • Die koste vir Sanral as gevolg van hierdie besluit, sal ’n bykomende bydrae deur Sanral tot die verligting van die ramp uitmaak.

Sanral sal oor die volgende paar maande die hoofagentskap wees, soos aangekondig deur president Cyril Ramaphosa, vir die uitgebreide werk wat nodig is om paaie in die provinsie te herstel.

“Ons moet saamwerk as die regering, besighede en alle organe van die burgerlike samelewing om te reageer op die lot van diegene wat deur hierdie verwoesting geraak word. Ons moet ook alles in ons vermoë doen om te verseker dat hul lewens so spoedig moontlik na normaal terugkeer.”

Toestand van paaie skokkend

Volgens die portefeuljekomitee oor vervoer is hy bekommerd oor die toestand van die padinfrastruktuur in KwaZulu-Natal.

Die komitee het Vrydag ’n aantal van die paaie besoek wat deur die onlangse vloede geraak is, asook paaie wat weens gebrek aan instandhouding onbegaanbaar raak.

Die waarnemende voorsitter van die komitee, Lawrence McDonald, het gesê die paaie in die omgewing van Bergville hou ’n ernstige gevaar vir motoriste in. “Die komitee sal nie verbaas wees as ’n groot ongeluk aangemeld word nie. Die situasie is kommerwekkend, veral omdat die impak nie net oor die paaie gaan nie, maar ook lewens wat tot stilstand gedwing is. Besighede is besig om hul deure te sluit,” het McDonald gesê.

Volgens McDonald is ’n aantal sinkgate op die bekende R74-pad gesien, wat die pad gedeeltelik of geheel en al geraak het. ’n Ineengestorte brug het gelei tot die sluiting van die R74-pad naby Mazizini in Bergville.

Volgens McDonald is dit betreurenswaardig dat rekenpligtige beamptes en politieke hoofde nie opgedaag het om vrae van die komitee te beantwoord nie. “Gevolglik sal die komitee dit oorweeg om in sy verslag aan te beveel dat hierdie amptenare uit hul eie sak na die parlement ontbied word.”

Verder het McDonald gesê dat die komitee dit onaanvaarbaar vind dat so ’n ernstige en hartseer situasie soos vloede, wat soveel van die provinsie se mense geraak het en steeds doen, amptenare en politieke hoofde in die provinsie net kan laat stilbly asof niks het gebeur nie.

Die komitee het twee gemeenskapsvergaderings in Mazizini en Winterton gehou, waar McDonald inligting oor die uitwerking van die onbegaanbaarheid van paaie op die geraakte partye ingewin het.

“Die regering moet geen moeite ontsien om hierdie geraakte gemeenskappe te probeer help nie. Dit is so hartseer as mense van KwaZulu-Natal ontwikkeling elders sien en steeds vra ‘wat van ons in ’n demokrasie’.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

pompies ·

Toe my pa nog die gras gesny en my ma die kos gekook het was die Natalse paaie die beste in die land almal het daarvan geweet en gepraat en toe gebeur tolhekke ens en alles val uitmekaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.