Tolhuis by George hopelik binnekort herstel

Die ou tolhuis in die Montagupas by George is op 29 Oktober in puin gelê toe ’n veldbrand dit verswelg het. Foto: Facebook

Die oomblik toe sy hoor die 173 jaar oue tolhuis in die Montagu-pas buite George het afgebrand, het die voorsitter van die Vriende van die Tolhuis besluit: “Hierdie kosbare kultuurskat moet weer opgehou word.”

Gerda Stols het Donderdag aan Maroela Media vertel die hartseer oor wat op 29 Oktober verlore gegaan het toe ʼn veldbrand die tolhuis verswelg het, het gou plek gemaak vir vasbeslotenheid om dit ten volle te herstel.

Dit sal nie die eerste keer wees dat Gerda aan die hoof van die restourasie van die tolhuis staan nie. Haar man, Johan, het kultuurhistoriese navorsing gedoen oor die gebou, wat in 1845 opgerig is om die tolmeester te huisves wat die tolgeld op die pas tussen George en die binneland ingevorder het.

Die tolhuis is van 2011 af liefdevol deur die Vriende van die Tolhuis gerestoureer. Foto: Facebook

Johan is in 2006 oorlede, tien jaar nadat hulle Suid-Kaap toe verhuis het van Pretoria, waar hulle by kultuurbewaring betrokke was. In 2008 het Gerda toe die Vriende van die Tolhuis gestig met die doel om die gebou te herstel en te bewaar.

Van die drie argitekte wat betrokke geraak het, was die oudste Charles Westman, wie se oupa die laaste tolmeester in die Montagu-pas was. Hy is dood voor die tolhuis gerestoureer is, vertel Stols.

Die Vriende van die Tolhuis was opgewonde toe hulle ’n klavier present kry. Daarvan het net die staalraam ná die brand oorgebly. Foto: Facebook

Die Vriende het met geen geld begin nie, maar het heelwat hulp van die gemeenskap gekry. Ook sakeondernemings het betrokke geraak, soos die destydse Penny Pinchers in George wat die dak geskenk het.

“Die oomblik toe die dak geborg word,” vertel Stols, “het ons besef ons moenie geld vra nie, maar die goed wat ons nodig het. Iemand het die rame vir die vensters gemaak, PG Glass het die ruite voorsien, iemand het die vloere geborg….”

Die tolhuis is gemeubileer met Africana. waarvan baie onvervangbaar was, maar wat alles uitgebrand het. Foto: Facebook

Die restourasie het so vlot verloop vandat die Vriende in 2011 toestemming gekry het om daarmee te begin dat die FAK hulle drie jaar later met ʼn toekenning vir hul uitstekende werk vereer het. Die geldprys wat daarmee saamgekom het, het die Vriende gebruik om die plafon met riet van die dorp De Rust uit te voer.

“Toe die gebou reg was, het ons besluit om meubels te kry,” vertel Stols. “Ek het ʼn klomp erfstukke van my ouers gehad wat ons daar uitgestal het. Ons het ook heelwat meubels op bruikleen gekry en sommige as geskenke, soos ʼn pragtige jonkmanskas. So het die dinge bymekaargekom en uiteindelik het ons ʼn wonderlik versameling seldsame items gehad.”

Die vlamme het die silwerteestelle tot amper niks laat wegsmelt. Foto: Facebook

Dit is alles einde Oktober vernietig, vertel Stols. Van die klavier wat hulle present gekry het en gebruik het vir geleenthede soos doopplegtighede en troues, het net die staalraamwerk oorgebly. Silwerteestelle het weggesmelt en van die onvervangbare versameling houtskawe en ander ou gereedskap is net stukkies staal oor.

Nadat hulle die tolhuis gemeubileer het, het hulle besef dit sou onderhoud verg en verdere verbeterings, soos ablusiegeriewe. Daarvoor het die Vriende gereeld Saterdagoggende pannekoek en koffie verkoop.

Intussen het hulle ʼn transportwa present gekry soos dié wat in die ou dae die moeisame tog oor die pas aangedurf het, en ʼn perdekar. Dié rytuie het gelukkig in die brand behoue gebly.

Die tolhuis is omstreeks die tyd van die Montagupas se opening in 1848 by die suidelike ingang van die pas voor die Keurrivierbrug gebou. In 1855 is dit ná ’n brand herbou. Foto: Facebook

Die tolhuis, wat in 1971 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar is, se gewildheid as ʼn venue vir allerlei geleenthede het die afgelope tyd toegeneem, vertel Stols. Mense het dit vir doopgeleenthede, troues en ander geleenthede begin gebruik. Onlangs het die Vriende daar hulde gebring aan prof. Chris Lamprecht, ʼn seun van ʼn togryer, wat ʼn liedjie oor dié outydse beroep geskryf het.

Al is Stols en die Vriende hartseer oor die reuseverlies van al die onvervangbare items in die tolhuis, is hulle vasbeslote om dit tot sy volle glorie te herstel.

“Die gemeenskap is ongelooflik,” vertel sy. “Ons het reeds skenkings gekry van dakplate en geute, en verskillende persone het aangebied om groot geldinsamelings namens ons te hou.”

Hulle kort nagenoeg R1,5 miljoen, maar “alles is herstelbaar” aan die struktuur van die gebou. “Ons gaan ʼn gedeelte van die swart gebrande klipwerk aan die buitekant van die gebou so los, want die brand is ook deel van die tolhuis se geskiedenis,” vertel Stols.

Sy vra enigeen wat wil help met die restourasie of items wil skenk om in die tolhuis ten toon

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anoniem ·

Ons wil ook kom kyk as dit weer herstel is ! Sterkte vir die Projek

Ekke ·

Dit is wonderlik en ‘n regte historiese skat.

Wat is ‘n togryer?

IK ·

‘n Togryer is ‘n transportryer, d.w.s. om goedere met gewoonlik ‘n ossewa te vervoer. Die woord ‘tog’ het ek ook leer ken wanneer vanslewe se boere tydelike werkers in diens neem. Sulke werkers word dan ‘togwerkers’ genoem. Hulle werk dus slegs wanneer benodig word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.