Tom Cruise-koors loop hoog op Hoedspruit

Die Hollywood-hartebreker waai vir aanhangers op Hoedspruit. Gillian Soames, ‘n inwoner van die dorp, het die foto geneem.

Jy kan dalk ʼn leeu of ʼn luiperd of ʼn olifant agter elke tweede bos in Hoedspruit uitskop, maar klaarblyklik internasionale bekendes ook. Die Hollywood-hartebreker Tom Cruise word die afgelope week gereeld in die Hoedspruit-omgewing opgemerk waar gedeeltes van die lokettrefferreeks Mission: Impossible 8 verfilm word.

Hoedspruiters, só vertel amateurwildlewefotograaf Gillian Soames, is egter A-lyssterre gewoond met Cruise wat hom by bekendes soos die sanger Harry Styles en YouTube-sterre Logan Paul en David Dobrik aansluit wat óók al in Hoedspruit gekuier het.

Soames woon in die Hoedspruit Wildlife Estate, waar Cruise ook tuisgaan. Om Cruise se privaatheid te help beskerm, swyg sy soos die graf oor waar presies hy woon. Maar dis ʼn klipgooi van die Soames-gesin se huis.

“Ons is baie trots om hom in ons dromerige klein dorpie te hê. Dit is hierdie kolle van vreugde wat ʼn positiewe gevoel help skep, ʼn gevoel van verligting ná die Covid-19-inperking, asook ʼn verbintenis met die buitewêreld.”

Cruise pendel daagliks in ‘n helikopter en is volgens inwoners baie gaaf met aanhangers op die dorp. (Foto: Gillian Soames)

Soames is eintlik bekend vir haar wildlewefoto’s van luiperds, maar sy kon dit nie weerstaan om Cruise, wat soggens en smiddae per helikopter na en van die landgoed vlieg, die afgelope week ook met haar kamera te kiek nie.

“Hy vlieg die afgelope week elke oggend en elke aand oor ons huis,” sê Soames.

“Maar ons handhaaf ʼn eerbiedige afstand – ons wil nie hê hy moet dink ons is niks gewoond hier nie,” skerts sy.

“Of jy nou mal oor hom is of nie, jy kan hom nie ignoreer nie. Hy is immers Tom Cruise!”

Soames sê Cruise se lyfwagte is boonop besonder aangenaam. Nadat sy aanvanklik ʼn foto van die akteur geneem het, het een van hulle haar genader. Sy het haar yskoud geskrik en het sommer weggetrek met die verweer dat sy niks verkeerd gedoen het nie.

Die wagte was egter baie vriendelik en een van hulle het haar selfs bedank omdat sy op so ʼn eerbiedige manier foto’s geneem het, sê Soames. Gewoonlik oorval aanhangers die akteur en is dit ʼn opdraande stryd om hom deur ʼn skare te kry.

Kevin McDonald, ook ʼn inwoner van die dorp, het ook op Facebook foto’s gedeel van Cruise se heen-en-weerdery in sy helikopter. McDonald skryf hy het eintlik ʼn passie vir wildlewefotografie, maar nadat iemand hom uitgedaag het om ook ʼn foto van ʼn filmster te kry, kon hy nie die kans laat verbygaan nie en het hy hom by die helikopter se landingsplek gaan inwag.

Een van Kevin McDonald se foto’s van Tom Cruise wat hy op Facebook gedeel het. (Foto: Kevin McDonald)

McDonald sê een van Cruise se “vriendelike” veiligheidswagte was so gaaf om hulle te laat weet dat die helikopter amper daar is en het aanhangers selfs gewys waar die beste plek is om hul staanplek te kry om Cruise te sien.

Nadat hy uit die helikopter geklim het, het Cruise na sy voertuig gestap, maar pleks daarvan om net weer in te klim, het hy om die voertuig gestap, vir die mense gewuif en sy duim gelig. Hy het verder gewaai nadat die voertuig al vertrek het.

“Dankie, Tom Cruise, dat jy ons klein Laeveld-dorpie gekies het as die ligging vir jou fliek en omdat jy so gulhartig teenoor jou aanhangers is. Geniet jou verblyf in Hoedspruit.”

Soames sê Hoedspruiters woon hier vir die leefstyl, die kalmte, vreedsaamheid en veiligheid. “Ons sal nie mense ongemaklik of geteister laat voel nie.

“Die mense van Hoedspruit trap sag op die aarde, ons is veel meer ontspanne en toegeeflik as stedelinge.”

En nes die liedjie “Take My Breath Away”, wat deel vorm van die Cruise-lokettreffer Top Gun se klankbaan, hoop Soames die Hoedspruit-omgewing slaan ook elke dag Cruise se asem weg. “Ek hoop elke dag wat mnr. Cruise in sy helikopter vlieg, slaan Hoedspruit sy asem weg – maak nie saak hoeveel keer hy dit doen nie.

“Ek hoop hy ondervind ook daardie vreugde. Ek hoop hy geniet dit hier en ek hoop hy is mal oor ons klein stukkie vreugde aan die voet van die klein Drakensberg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

BOKKIEBEK ·

Die movie het beslis die regte naam… “Mission impossible..” hahahahaha

Frances ·

Ons is dankbaar hy besoek die dorp en omliggend, en hopenlik sien hy nie al die slag gate wat die dorp al hoe meer ontsier raak nie, dit is voorwaar nie n adverstensie vir Hoedspruit nie!!

Agge nee ·

Mission Impossible? So hy is hier om korrupsie uit te roei, die werkloosheid hok te slaan, kader ontplooiing te stop, om Eskom te help, skole te bou, om al die slaggate te herstel, die drukker van die lisensies te vervang, ens.”Indeed Impossible, Mr Cruise, not even superman can do it”

Marie ·

Mission impossible 8. Hy probeer sy bestuurderslisensie hernu….

JohanR ·

Het hy nie met sy F16 SA toe gevlieg nie? Soos ons almal word die ou ook nou oud, en soos met die jongste James Bond fliek is James Bond ook nie meer nie. Sal interessant wees om te sien hoe die volgende Mathilde Bond fliek lyk?

Marthina79 ·

Blykbaar gaan die film oor n man wat sy bestuurslisensie moet hernu….

RekmyBek ·

Ai tog. Los die man in vrede. Kyk al die agies wat staan en video’s en fotos neem…
Ek sal maar wag vir movie om hom te bekyk.

Marina ·

Ten minste het ons Suid-Afrikaners respek vir die bekendes en gaan nie tekere soos in die buiteland nie, soos die Papparazzi. Selfs toe Prinses Diana hier was het min geweet sy is in SA. Ek dink selfs hy en sy lyfwagte het verwag dat hy oorval gaan word, deur mense en leeus lol, en toe wys ons hom die teendeel en dit is so iets wat sal maak dat hulle sal terugkom SA toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.