Tom ‘cruise’ nou in KwaZulu-Natal

Een van Kevin McDonald se foto’s van Tom Cruise in Hoedspruit. (Foto: Kevin McDonald)

Hoewel Kaapstad ’n gewilde bestemming vir internasionale rolprentvervaardigers is, blyk dit dat dit nou ander Suid-Afrikaanse provinsies se tyd te wees om die kollig te geniet.

Die bekende Hollywood-akteur Tom Cruise het inwoners van Ladysmith laat gons nadat hy verlede week in ʼn helikopter by dié dorp se vliegveld geland het.

Luidens mediaberigte het die Mission Impossible-akteur vinnig ʼn draai in die omgewing gemaak en daarna teruggekeer na die Drakensberge om verfilming vir die agste aflewering van dié lokettrefferreeks, wat gedeeltelik in Suid-Afrika verfilm word, voort te sit.

Cruise het vriendelik vanuit sy helikopter vir die groep plaaslike inwoners wat by die vliegveld bymekaargekom het, gewuif voor hy in die rigting van die berg gevlieg het.

Plaaslike inwoners en amptenare is ook opgewonde oor die positiewe impak wat Cruise se besoek op die provinsie se ekonomie en toerisme kan hê.

Maroela Media het vroeër berig dat die 59-jarige akteur in Februarie by die Hoedspruit Wildlife Estate in Limpopo tuisgegaan het, waar hy ook inwoners se harte gesteel het. Gillian Soames, ʼn inwoner en amateurwildlewefotograaf van dié omgewing, het aan Maroela Media vertel dat Cruise se veiligheidspan aangenaam en vriendelik met inwoners was. Kevin McDonald, ook ʼn fotograaf en inwoner van dié dorp, het op Facebook geskryf dat Cruise se veiligheidswagte so gaaf was om hulle te laat weet voor sy helikopter sou land en aanhangers gewys het waar die beste plek was om hul staanplek te kry om Cruise te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter ·

Skiet sommer die fliek met plaaslike akteurs wat in die parlement is. Genoeg ondervinding van kriminele aktiwiteite. Min toneelspel nodig.

Swerwer ·

Ai tog, dit gee nou net weer die wonderlike ANC wesens inligting om toe te slaan op die arme man en sy span want dit is mos hoe dit in SA gedoen word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.