Tongaat Hulett se aandeelverhandeling opgeskort

Foto: Tongaat Hulett

Die JSE het Tongaat Hulett se aandeelverhandeling op versoek van die suikergroep opgeskort weens die vertraging in die bekendmaking van sy finansiële resultate.

Die maatskappy het in ʼn Sens-verklaring gesê die verhandeling van sy aandele op die Londense aandelebeurs is ook opgeskort. Volgens Tongaat Hulett wil hy sy finansiële resultate vir die boekjaar tot einde Maart vanjaar teen einde Oktober bekend maak.

Die maatskappy het gesê hy sal ook teen daardie tyd of selfs vroeër sy aandeelverhandeling op die JSE hervat.

“Terselfdertyd gaan die maatskappy voort om sy deurlopende strategiese hersiening en omvattende omkeerstrategie te formuleer wat onder andere kostevermindering, moontlike verkope van sekere bates, herstrukturering van bedrywighede en verbeterings in bedryfsprestasie insluit.”

Volgens Tongaat Hulett het hy sy aandeelhouers op 31 Mei in kennis gestel dat die raad besluit het dat hy nie meer kan staatmaak op die finansiële state vir die boekjaar tot einde Maart verlede jaar nie en dat dit ook onserkheid tot gevolg het rakende die halfjaarsyfers tot einde September verlede jaar.

“Die raad se primêre doelwitte met die opskorting van sy aandeelverhandeling is om beleggers te beskerm in omstandighede waar onvoldoende betroubare finansiële inligting in die mark is waarvolgens ingeligte besluite geneem kan word en gevolglik is daar ’n risiko van spekulatiewe handel.”

Volgens Tongaat Hulett kort die bestuur ook meer tyd sodat die forensiese ondersoek deur PwC na boekhou-onreëlmatighede rakende die 2018-syfers afgehandel kan word. “Dit is ook om die maatskappy toe te laat om die strategiese oorsig te voltooi, remediërende aksies te implementeer en die ommekeerstrategie te versnel.”

Die maatskappy het gesê die besluit is nie ligtelik geneem nie en dat hy verstaan dat sommige aandeelhouers of potensiële beleggers sou verkies om steeds aandele te kon koop of verkoop. “Die raad glo egter dat die tydelike opskorting in die beste belang van aandeelhouers is.”

Volgens die maatskappy glo die raad ook dat die opskorting net tydelik is tot die maatskappy in ʼn posisie is om voldoende verdere inligting aan die mark te verskaf.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Iemand gaan Streep-suiker kry, dis vir-Seker!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.