Tonne krewe spoel uit met rooigety

Tonne krewe by Elandsbaai (Foto: Deon En Judith DuToit via Weskus is Mooi)

Meer as 100 ton se kreef het Dinsdagoggend weens rooigety by Elandsbaai aan die Weskus uitgespoel. Die strand vol krioelende seegediertes het inwoners op sosiale media aan die gons gehad.

Dit is ’n herhaling van die rooigety wat in die middel van Januarie ook tonne krewe aan dié baai laat uitspoel het.

Volgens Anthony Mlata, kommunikasiebeampte van die Cederberg-munisipaliteit, is die munisipaliteit saam met die Weskus-distriksmunisipaliteit, departement van omgewingsake, bosbou en visserye, polisie en provinsiale verkeersdepartement besig om die strand op te ruim.

Die krewe word van Dinsdag opgeruim (Foto: Deon En Judith DuToit via Weskus is Mooi)

“Die lewendige krewe word opgetel en weer in die see teruggegooi. Die dooie krewe word begrawe,” sê Mlata.

Volgens die munisipaliteit word die publiek versoek om van die strand af weg te bly. Die polisie hou ook ’n wakende oog oor die strand om te verhoed dat gemeenskapslede krewe optel vir eie gewin.

“Die dooie krewe kan ʼn gesondheidsrisiko vir mense inhou omdat dit al lank in die son lê.”

Volgens Mlata word die rooigety weens ’n tekort aan suurstof in die water veroorsaak. Natuurlike alge in die water onttrek suurstof uit die water. Dit kan ook biotoksiene afskei wat skadelik vir baie mariene spesies is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kensy ·

Hoekom affekteer die min suurstof in die water dan net die een spesfieke kreef spessie?

Johan ·

Tog net ASB nie die vervuilde goed vang en eet nie. Die weskus het km op km se ongerepte kus maar niemand mag n kreef uithaal nie. En moenie kom met julle permit stories nie, dit is onverkrygbaar.

piet ·

Ja dis belaglik. Die gewone man kan nie eers ‘n paar uithaal sonder moeite nie en dis in elk geval onbekostigbaar duur. Hier spoel daar nou sommer tonne uit wat in elk geval vrek.

Swerwer ·

Natuurlik sal daar burgers wees wat ‘n kans neem en o wee as hul siek word , wonder wie se skuld dit dan gaan wees……………..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.