Tonne visvrektes ‘nie ernstig opgeneem’

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Die DA meen die jongste geval van visvrektes in Mpumalanga, wat deur ʼn suurwaterstorting van ʼn ongerehabiliteerde myn veroorsaak is, word nie ernstig opgeneem nie, want soortgelyke gevalle gebeur keer op keer.

Ondanks die vinnige ingrypings van verskeie natuurbewaringsgroepe, word ou en onwettige myne steeds verwaarloos. Dit kan tot massiewe ekologiese rampe lei.

Die jongste voorval het tot vrektes van sowat drie ton visse in die Wilge- en Olifantsrivier in Mpumalanga gelei. Uiteindelik is inheemse visspesies in die gebied glo byna uitgewis.

Annerie Weber, ʼn DA-LP en woordvoerder oor bosbou, visserye en die omgewing, sê gelukkig kan van hierdie visspesies nog stroomop en -af gevind word. Tog sal dit tussen 15 en 20 jaar neem om eindelik die beskadigde rivieroewers te herstel en al die visspesies weer aan te vul.

“Dít is ʼn reuseramp en niks word oënskynlik daaraan gedoen om nog sulke voorvalle te voorkom nie,” sê Weber.

“Niks word ook gedoen om onwettige en ongerehabiliteerde myne te beveilig nie en intussen kan dit skadelike stowwe in die omgewing vrystel wat grootskaalse besoedeling veroorsaak.”

Boonop word die betrokke partye nie ingevolge wetgewing aanspreeklik gehou vir sulke voorvalle nie.

“Die uitvoering van die wet is vrot en die nodige boetes word nie eens opgelê nie.”

Die departement van bosbou, visserye en omgewing voer egter aan dat hy die voorval beslis in ʼn ernstige lig beskou.

“Die departement is deur sy eweknie by water en sanitasie – wat saam met die departement van minerale hulpbronne en energie (DMRE) op die voorval gereageer het – genader om ʼn strafregtelike ondersoek na die gebeure te steun,” het Albi Modise, woordvoerder van die departement, aan Maroela Media gesê.

“Die strafregtelike ondersoek sal op grond van die bewyse wat ingesamel is, die strafregtelike aanspreeklikheid van enige skuldiges bepaal,” sê Modise.

“Daarna sal ʼn besluit deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) geneem word oor die kwessie of die betrokke partye wel vervolg moet word.”

Wat het gebeur?

Verlede maand het verskeie inwoners in die omgewing van die Wilgerivier in Mpumalanga dooie visse in die water aangetref.

Dit het kort daarna aan die lig gekom dat ʼn betonverseëling, waarin besoedelde water opgegaar word, by die Kromdraaimyn meegegee het en veroorsaak het dat suur mynwater in die rivier loop.

Die suur mynwater het stroomaf met die Wilgerivier gevloei tot waar dit by die Olifantsrivier aansluit. Die meeste van die gevrekte visse het in die Loskopdam uitgespoel.

Volgens Mpumalanga se parke-en-toerismeagentskap (MPTA) het dié besoedeling ʼn beduidende uitwerking op die riviere gehad en etlike kilometers se rivierbiodiversiteit en visspesies is vernietig.

Weber meen dat die visse egter nie dadelik gevrek het toe die suur mynwater in die rivier gevloei het nie.

“Die hartseer gedeelte, wat nie baie mense besef nie, is dat die visse se kieue deur die suur mynwater beskadig is. Die meeste van hulle het dus in die water versmoor,” sê sy.

“Dit is onnodig en wreed en kon vermy word.”

Tarryn Genis, woordvoerder van Thungela Resources aan wie die Kromdraaimyn nou behoort nadat dit onlangs by Anglo Coal oorgeneem is, het destyds gesê dat die myngroep saam met die departement van water en departement van minerale hulpbronne werk om die uitwerking van die ramp te versag.

Die tonne gevrekte visse is vinnig uit die dam verwyder en begrawe sodat die oorskot nie verdere skade aan die omgewing veroorsaak nie.

In ʼn poging om al die suur mynwater uit die riviere te spoel, is water uit die Bronkhorstspruit- en Witbankdam vrygelaat. Geen nuwe visvrektes is ná hierdie maatreël waargeneem nie. Die gebiede langs die oewers van die riviere is ook skoongemaak.

“Ons span wetenskaplikes gaan voort om die riviere en watergehalte te monitor,” het die MPTA in ʼn verklaring gesê.

“In hierdie stadium is daar ʼn gesonde teenwoordigheid van waterlewe, waaronder skole kwesbare jong visse, op verskeie plekke opgemerk.”

Hoewel die gevrekte visse in die Loskopdam uitgespoel het, meen wetenskaplikes dat die besoedeling nie die dam se watergehalte beïnvloed het nie. Genis sê ook die watergehalte is al vir die afgelope twee weke stabiel in die dam én die onderskeie riviere.

Wat gebeur nou?

Volgens Weber het Thungela oënskynlik die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur (NEMA) wat betref die rehabilitering van die myn verontagsaam. Daarom moet dié myngroep nou verantwoording doen en opdok vir die skade wat aangerig is.

“NEMA spesifiseer dat die koste om besoedeling, omgewingsagteruitgang en gevolglike nadelige gesondheidseffekte te herstel en om verdere besoedeling, omgewingskade of nadelige gesondheidseffekte te voorkom, te beheer of te verminder, betaal moet word deur diegene wat verantwoordelik is vir die skade wat aan die omgewing gedoen is,” sê sy.

Genis het aan Maroela Media gesê dat die groep reeds met die volgende fase van die remediëring onderweg is en dat ʼn risikobepaling van stapel gestuur is om die omvang van die skade te identifiseer.

“ʼn Gespesialiseerde biodiversiteitsmaatskappy is aangestel om te verseker dat die gedetailleerde rehabilitasieplan medium- en langtermynaksies insluit om die ekologiese integriteit van die rivier te herstel,” sê sy.

“Ons is ook daartoe verbind om met die betrokke owerhede, die boeregemeenskappe en biodiversiteit-, omgewings-, water- en gesondheidskundiges te werk om die gevolge van die voorval reg te stel.”

Siviele ingenieurs is in die proses om ʼn nuwe verseëling te ontwerp om toekomstige lekkasies te verhoed.

Die DA sal nietemin parlementêre vrae indien oor hoekom niks gedoen is om die myn te rehabiliteer nie en of daar wel stappe gedoen word om te verseker dat daar nie weer ʼn herhaling van hierdie ramp is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.