Dit gebeur nie aldag dat Afrikaanse rolprente geskiet word in die werklike milieu waarbinne ʼn verhaal afspeel nie. Jy kan jou dus net indink hoe asemrowend dit vir Elani Dekker en Stiaan Smith was om weke lank in die Knysnabos op stel te wees.
Dekker vertolk die hoofrol van Karoliena Kapp, ʼn vrou met ʼn intieme liefde vir en verbintenis met die bos. Sy ontmoet die man van haar drome, Johannes Stander (vertolk deur Smith), en hierdie einste bekoring met die bos veroorsaak dan ʼn liefdesdriehoek wat dreig om haar uitmekaar te skeur wanneer sy moet kies tussen trou en dorp toe trek, of agterbly in die plek waar sy veilig voel.
“Die bussie het ons soggens omtrent 05:00 opgelaai en stel toe geneem,” onthou Dekker. Sy sê dié rit was ongeveer ʼn uur lank. Maar dit het haar min gepla.
“Die rit het vir my soos ʼn ritueel begin voel. Ek het tyd gehad om stil te raak en te fokus voor die dag se opnames begin.” Wanneer hulle die dag nié in die bos geskiet het nie, moes sy die aand voor die tyd al ʼn kopskuif maak en op ander maniere voorberei.
Smith beaam Dekker se bekoring met die Knysnabos.
“Dit is ʼn absoluut magiese omgewing. Ek het daaraan gedink hoe lucky ons was om actually in die bos te kon gaan skiet,” sê hy. “Dit was beslis een van die lekkerste ervaringe, veral omdat dit so verwyderd van die stad en ons alledaagse omgewing was.”
Dekker en Smith is dit eens dat die karakters wat Dalene Matthee geskep het ʼn daadwerklike verskil in hul lewe gemaak het. Hoewel die verhaal in ʼn era afspeel wat nie aan die akteurs bekend is nie, kon albei hulle met die emosies van hul karakters vereenselwig.
“Ons moet onthou dat mense mense is,” sê Dekker en Smith. “Hoewel die omstandighede dalk verander, bly die emosies wat ervaar word dieselfde.” Smith voeg by: “Ons sien dit oral dat mense haat en liefde ervaar of seerkry. Die emosie leef in verskillende omstandighede.”
Toorbos speel in die 1930’s af en die sterkste temas daarin is dié van ontmagtiging en bemagtiging van die boswerkers en hulle gesinne, asook dié van Karoliena.
“Karoliena en haar storie het my eintlik baie direk beïnvloed,” verklap Dekker. Sy sê hulle is in baie opsigte dieselfde, maar sy sonder één karaktereienskap uit.
“Ek dink ons albei volg eerder ons gut as ons logika. Dit is vir ons belangriker om gelukkig te wees sodat ons geluk kan gee,” vertel Dekker.
Smith sê dit is juis een van die aspekte wat soveel diepte aan die karakter verleen. “Dit sê iets oor die absolute krag van Matthee se karakters, want ek dink nie enige ander karakter sou noodwendig so ʼn effek op jou gehad het nie.”
Oor die vertolking van Johannes Stander sê Smith dat dit vir hom ʼn uitdaging was.
“Daar is ʼn maklike antwoord, en ek wens altyd daar was iets om by te voeg, maar Johannes is nogal ʼn produk van sy tyd in terme daarvan dat hy glo die man is die hoof van die huis – en dit grens aan chauvinisme.”
Smith benadruk dat hy deernis met sy karakter gehad het en dat dit ʼn uitdaging was om die omstandighede waarbinne die verhaal afspeel te verstaan.
“Die uitdaging vir my was om daarvan iets te maak wat ek kan verstaan en nie my karakter daaroor te oordeel nie. Dit is ʼn wonderlike storie en uitbeelding van iemand wat bereid is om dit in homself te bevraagteken,” sê hy.
Smith meen magsverskille in verhoudings, ʼn tema wat in die verhaal aangeraak word, is vandag steeds relevant. Hy beskou Matthee se benadering in ʼn positiewe lig.
“Dit is op so ʼn mooi manier gedoen, want sy vat iemand wat nie net ʼn vrou is in ʼn verhouding nie, maar ook sosio-polities arm is. Sy plaas dan vir Karoliena in dié moeilike situasie en wys vir ons ʼn karakter wat hierdie hele situasie navigeer.”
Dekker is hoopvol dat Toorbos gehore se harte sal aanraak.
“Dit is vir my so mooi en relevant dat die fliek juis nou uitgereik word, veral ná ʼn jaar vol onsekerheid en vrees. Ek hoop dat gehore die storie gaan kyk, vir ʼn oomblik ʼn buitestander van gebeure sal wees, en dan besef dat wat die ergste erg vir jou is, dalk presies die ding gaan wees wat jou laat stil word en na jou wortels laat terugkeer.
“Dit het nooit vir my gevoel of Karoliena toelaat dat die vrees vir iets haar beheer nie. Sy het vrees gehad vir soveel goed en nooit het sy haar optrede of besluite op daardie vrees gegrond nie.
- Die boekweergawe van Toorbos is pas deur NB-Uitgewers uitgegee. Klik hier vir meer inligting oor die boek.
Ek wil graag weet waarom MM daarmee volhou om na mense net op hulle vanne te verwys? In my opinie is dit swak smaak. As jy na n persoon op sy van verwys gebruik jy, Meneer, Mevrou & Mejuffrou.
Geagte Mnr Johan
Jy kla oor absoluut niks
Maroela Media well done
Ek kan nie wag om die fliek te sien nie! Die Knysnabos is een van die heel mooiste plekke in die land.
Dis die mooiste film. ‘n Moet om op die groot skerm te kyk.
Die kassie gaan nie hierdie film reg aandoen nie.