‘Toorbos’ gaan Oscars toe

‘Toorbos’ met Elani Dekker en Stiaan Smith.

Die rolprentverwerking van die Dalene Matthee-roman Toorbos is amptelik aangewys as die Suid-Afrikaanse inskrywing vir die gesogte toekenning vir beste internasionale vollengte-rolprent by volgende jaar se Oscar-geleentheid.

Toorbos draai tans in Suid-Afrikaanse fliekteaters. René van Rooyen (Mooirivier, Alles Malan) het die regie behartig.

Elani Dekker vertolk die hoofrol van Karoliena Kapp, ʼn vrou met ʼn intieme liefde vir en verbintenis met die bos. Sy ontmoet die man van haar drome, Johannes Stander (vertolk deur Stiaan Smith), en hierdie einste bekoring met die bos veroorsaak dan ʼn liefdesdriehoek wat dreig om haar uitmekaar te skeur wanneer sy moet kies tussen trou en dorp toe trek, of agterbly in die plek waar sy veilig voel.

Toorbos is gekies deur die South African Academy Awards Selection-komitee, wat bestaan uit professionele kenners vanuit verskeie velde in die rolprentbedryf. Dit is slegs die derde Suid-Afrikaanse inskrywing deur ʼn vroueregisseur vir die Oscar-toekennings sedert 1989.

Die fliek is vervaardig deur bekroonde rolprentmaker André Scholtz en sy seun Dries Scholtz van The Film Factory. Brendan Barnes het die kinematografie behartig.

Ira Blanckenberg, Clare Marshall, Ivan Abrahams en Gretchen Ramsden is ook in die fliek te sien.

“Dit is ʼn eer vir ons hele span dat ons rolprent gekies is om Suid-Afrika te verteenwoordig. Covid-19 het ʼn erge uitwerking op die kunste in Suid-Afrika, Afrika en die res van die wêreld gehad. Dit is ʼn ongelooflike huldeblyk en geleentheid vir ons plaaslike rolprentbedryf,” sê Dries Scholtz.

Elani Dekker as Karoliena Kapp in ‘Toorbos’.

Makhosazana Khanyile, uitvoerende hoof van die National Film and Video Foundation (NFVF), sê Toorbos dien as ʼn getuienis van hierdie klassieke roman en ons land se geskiedenis.

“Ons rolprentmakers speel ʼn beduidende rol in die bewaring van ons geskiedenis en René het daarin geslaag om Dalene Matthee se roman foutloos vas te vang.

Toorbos handel oor ʼn historiese gebeurtenis in Suid-Afrika wat ʼn invloed gehad het op die laaste bosbewoners in die Knysna-woude in die 1930’s. Ons wens René en haar span al die beste toe wanneer hulle rolprent op die wêreldverhoog vertoon word. Suid-Afrika hou vir julle duim vas.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dries

Baie sterkte, hoop julle kry ‘n nominasie!

Jdb

Mense, hierdie is ‘n uitmuntende film van internasionale gehalte. Jy MOET dit op die groot skerm en met die cinema-klank beleef.
Die storielyn, regie, toneelspel, stel, cinematografie en klank is puik, puik, puik.
Toorbos gaan groot gaan. Moenie dit mis nie!
En dan is dit in Afrikaans en oor Afrikaners ook nogal.
Baie geluk aan René en jou hele span.
Ek gaan dit weer kyk.

Maggies

Baie geluk aan hierdie span. Julle maak ons trots.