‘Top Billing’-aanbieder-ongeluk: Man hoor oor verlof tot appèl

Preshalin Naidoo. Foto: ANA.

Preshalin Naidoo, die man wat betrokke was in die motorongeluk waarin die Top Billing-aanbieder Simba Mhere dood is, se aansoek om verlof tot appèl vir ʼn tien jaar lange tronkstrafvonnis is Vrydag in die landdroshof in Randburg van die hand gewys.

Landdros David Mahango het Vrydag gesê Naidoo kom nié in aanmerking vir appèl nie omdat hy oortuig is dat die vonnis “gebalanseerd” was.

Mahango het verder gesê dit is voor die hand liggend dat Naidoo se roekeloosheid die lewens van Mhere en sy vriendin, Kady-Shay O’Bryan, geëis het – en dat hy daarvoor moet boet.

Staatsaanklaer Dinesh Nandkissor het vroeër gesê daar is geen geldige gronde vir Naidoo om verlof tot appèl toegestaan te word nie.

“Sy aansoek voldoen nie aan die vereistes nie,” het hy gesê. “ʼn Ander hof sou nie ʼn ander bevinding gehad het nie en Naidoo het boonop nog geen berou getoon nie.”

Simba Mhere

Die openbare galery was Maandag stampvol vriende en familielede van Naidoo toe die vonnis gelewer word. Nandkissor het gesê Naidoo het nooit getuig nie en kon nooit vir die gesinne van Mhere en O’Bryan jammer sê nie. “Hy is ʼn bestuurder met ʼn lisensie en moes geweet het daar is ander mense op die pad,” het Nandkissor gesê.

Nandkissor het ook gesê Naidoo het nooit verantwoordelikheid aanvaar vir sy dade nie.

Naidoo se regspan het vroeër Maandag aangevoer dat tronkstraf ʼn té erge straf sal wees vir Naidoo. Adv. Francois Roets, vir Naidoo, het gesê die saak is ʼn tragedie. “Niks wat ek kan sê, kan [die oorledenes] terugbring nie, maar ek wil wel vra dat die hof ʼn gebalanseerde vonnis oorweeg.”

Joseph Mhere, Simba se pa, het vroeër Maandag gesê hy wens hý, eerder as sy seun, het gesterf. “Ek vra myself dikwels af hoekom het God my nie gevat pleks van hom nie. Ek sal moet sterf voor ek hom weer sal sien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Daan Erasmus ·

Lees weer die laaste paragraaf. Dit is so hartseer. Die hartseer van ‘n pa. Dit is so iets wat die pa na ‘n vroeë graf dryf.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.