‘Top Billing’-aanbieder-ongeluk: Man hoor sy lot

Simba Mhere

Preshalin Naidoo, die man wat betrokke was in die motorongeluk waarin Simba Mhere, die Top Billing-aanbieder dood is, is Maandag in die Randburg-landdroshof tot tien jaar tronkstraf gevonnis.

Landdros David Mahango het gesê strafbare manslag is een van die ernstigste misdade wat iemand kan pleeg. “Ek kan nie verstaan wat hom beïnvloed het om so roekeloos te bestuur nie. Die enigste realistiese straf is tronkstraf.”

Naidoo (27) is in Januarie, presies drie jaar ná die ongeluk, skuldig bevind aan strafbare manslag. Kady-Shay O’Bryan, Mhere se vriendin, is ook in die ongeluk dood.

Maroela Media het vroeër berig drie motors was betrokke in die ongeluk wat 31 Januarie 2015 op William Nicol-rylaan in Fourways plaasgevind het.

Die openbare galery was Maandag stampvol vriende en familielede van Naidoo. Sommiges het gehuil toe die vonnis gelewer word.

Staatsaanklaer Dinesh Nandkissor het gesê Naidoo het nooit getuig nie en kon nooit vir die gesinne van Mhere en O’Bryan jammer sê nie. “Hy is ʼn bestuurder met ʼn lisensie en moes geweet het daar is ander mense op die pad,” het Nandkissor gesê.

Nandkissor meen die kwessie van Naidoo se betalings aan O’Bryan se kind is nie ter sake nie aangesien daar reeds goed omgesien word na die kind. Nandkissor het gesê Naidoo het nooit verantwoordelikheid aanvaar vir sy dade nie.

Naidoo se regspan het vroeër Maandag aangevoer dat tronkstraf ʼn té erge straf sal wees vir Naidoo. Adv. Francois Roets, vir Naidoo, het gesê die saak is ʼn tragedie. “Niks wat ek kan sê, kan [die oorledenes] terugbring nie, maar ek wil wel vra dat die hof ʼn gebalanseerde vonnis oorweeg.”

Preshalin Naidoo. Foto: ANA.

Hy het gesê die hof se plig is om te verseker dat geregtigheid, en nie wraak nie, geskied. Hy het verder aangevoer Naidoo is geen gevaar vir die samelewing nie. “Hoekom iemand verwyder wat ʼn ekonomiese bydrae tot die samelewing lewer?”

Roets het korrektiewe toesig versoek.

Joseph Mhere, Simba se pa, het vroeër Maandag gesê hy wens hý, eerder as sy seun, het gesterf. Daar gaan nie een dag verby dat hy nie aan Simba dink nie. “Ek vra myself dikwels af hoekom het God my nie gevat pleks van hom nie. Ek sal moet sterf voor ek hom weer sal sien.”

O’Bryan se ma het in haar slagofferimpakverklaring wat deur Nandkissor voorgelees is, gesê: “Jy het ʼn ma van haar dogter en al haar geliefdes weggeneem. ʼn Broer wat nooit weer sy suster gaan sien en hul nabye band sal geniet nie. My oorlede dogter sal nooit ʼn tannie wees deur jou toedoen nie. My lewe is aan skerwe en ʼn deel van my siel is dood. Jy weier om verantwoordelikheid te aanvaar vir wat jy gedoen het. Jy is dalk ʼn man wat ouderdom betref, maar jy is nie ʼn ware man nie. Jy’s ʼn lafaard.”

Valerie, Mhere se amateuratleet-suster, het in haar verslag gesê haar broer was altyd daar om haar te ondersteun. “Hy het werk gekanselleer om my te kom sien deelneem, elke paar hardloopskoene wat ek het, is deur hom betaal. Hy het vir my voorsien. Ek weet nie hoe om die verlies wat ek voel te verwoord nie. My hart is gebreek. Dit is seer as ek video’s kyk en hom weer hoor lag. Hy sal nooit weer by ʼn wedloop van my of by my troue wees nie. Ek is nou ʼn alleenkind.”

Mhere en O’Bryan se gesinne het ná die verrigtinge gesê hulle voel die vonnis is gepas hoewel dit nooit hul geliefdes sal terugbring nie. “Dit bring wel tot ʼn mate afsluiting.”

Die saak is uitgestel tot Dinsdag vir die staat om te reageer op Naidoo se aansoek om verlof tot appèl.

Naidoo bly in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jaco ·

interessant hoe n hofsaak verloop as n slagoffer van apartheid lelik is met n ander slagoffer van apartheid. laat die bestuurder van die motor nou net wit gewees het, dan het alle hel losgebreek met beskuldigings van rassisme, wit monopolie kapitaal ens ens.

Alida ·

Laat hy sit hy het ons beroof van n goeie persoon en uitstekende aanbieder.

SNEL ·

Ja, ek stem saam met Alida en Francois. Ook gekyk toe hulle n aanbieder moes kies, en ja, hy het stadig uit die blokke gekom, maar toe was hy tops. Baie hartseer dat hy so jonk weggeruk is en juis toe sy loopbaan rigting begin vang het. Hoop reg en geregtigheid geskiet hier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.