Top mediese student het ʼn hart vir kinders

Jennifer van Heerden (Foto: Verskaf)

Jennifer van Heerden, ’n finale jaar mediese student aan die Universiteit Stellenbosch (US), het Dinsdag tydens ’n gradeplegtigheidseremonie die gesogte Kanseliersmedalje vir haar uitnemende akademiese prestasie ontvang. Nou droom sy van ʼn loopbaan as pediater.

Van Heerden is as vanjaar se top mediese student aangewys, nadat sy haar MBChB-graad met ʼn gemiddelde persentasie van 87,8% voltooi het. Sy het elkeen van haar 29 teoriemodules in haar ses jaar lange studieprogram met lof geslaag. Sy het ook onderskeidings in al 11 van die afdelings in haar finalejaareksamen behaal.

Vir Van Heerden is dié toekenning ʼn groot eer.

Dié uitblinkstudent vertel Woensdag aan Maroela Media dat die geheim tot haar akademiese prestasie passie en hardwerkendheid is. “Ek was toegewyd in my vakrigting omdat ek passievol daaroor is,” sê Van Heerden. “Ek sou dit ook nie kon doen sonder ʼn goeie ondersteuningsraamwek nie.”

Van Heerden vertel sy wou nog altyd ʼn dokter word. “Die menslike liggaam het my nog altyd fassineer. Ek het die mediese graad se diversiteit ook baie interessant gevind.”

Van Heerden beplan om nou as intern by die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg te werk en haar droom is om eendag as pediater te spesialiseer. “Ek het ʼn hart vir mense en veral kinders. Kinders is baie inspirerend vir my.”

Luidens ʼn verklaring van die US, word die Kanseliersmedalje aan net een finalejaar- of nagraadse student toegeken wat nie net akademies uitmuntend presteer het nie, maar ook op verskeie maniere tot die kampuslewe bygedra het en hard gewerk het om ko-kurrikulêre eienskappe te ontwikkel.

Van Heerden het Dinsdag tydens ’n gradeplegtigheidseremonie die gesogte Kanseliersmedalje ontvang. (Foto: Verskaf)

Tydens haar studies het Van Heerden tyd gevind om verskeie studenteleierskapsposisies te beklee en het sy in verskeie komitees gedien, onder meer as president van die Vriende van Médecins Sans Frontières, ’n vereniging wat die niewinsgewende organisasie MSF, of Dokters Sonder Grense, ondersteun. Sy het in haar besige skedule ook tyd gemaak om aan ’n wye verskeidenheid ontwikkelingsaktiwiteite deel te neem. Sy het onder meer ’n keusekursus by die Antonio Lorena-hospitaal in Cusco, Peru, voltooi, waar sy in die pediatriese saal in ’n omgewing met baie beperkte hulpbronne gewerk het. Sy het ook die Msinga-uitreikkamp, ’n mediese en gemeenskapsuitreik in die landelike gebiede van KwaZulu-Natal, bygewoon.

Die toekenning van vanjaar se medalje was ʼn besonderse geleentheid vir die US aangesien dit die heel eerste keer is dat ’n vorige ontvanger van die Kanseliersmedalje dié toekenning aan ’n ander toppresteerder oorhandig. Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier, het in 1983 by die Fakulteit Geneeskunde en Mediese Wetenskappe gegradueer, en hy was daardie jaar die wenner van die Kanseliersmedalje.

Afgesien van die Kanseliersmedalje, het Van Heerden ook verskeie ander toekennings gedurende haar akademiese loopbaan ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ondersteuner ·

Pragtig jong dame! Baie geluk met jou prestasie!

Jou passie is ‘n inspirasie en ek glo dit sal jou nog baie ver vat!

Willem Grobler ·

Dít is nou die soort dokter na wie jy met vertroue kan gaan. Sy weet duidelik wat sy moet doen!!

AmY ·

Baie geluk.
Ek hoop net nie die NGV gaan jou dalk noop om oorsee te gaan nie.

Ellen ·

Baie geluk! Dis ‘n wonderlike prestasie. Wonderlike toekoms wag vir jou.

Viv ·

Baie geluk jonge dame.
Vat die pad so gou moontlik oorsee daar sal jy jou lewe geniet.

toy ·

Baie geluk en mag die Here jou seen in jou keuse as Pediater.

Hendrik ferreira ·

Sjoe,sy is eerstens baie gelukkig om medies te kon studeer agv haar ras en tweedens is sy baie gelukkig om sulke goeie punte te kon behaal,baie geluk en ek hoop jy bly in die land en emigreer nie na n eerste wêreld land sodra die regering se gesondheids plan geimpliminteer word nie.

Lee ·

Dit wil gedoen word. Baie baie geluk met jou uitstekende prestasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.