Topskool skors prefekte wat glo in verspringput urineer

Maritzburg College in KwaZulu-Natal. (Foto: Verskaf)

Sewe prefekte en twee huisleiers aan Maritzburg College in KwaZulu-Natal is onlangs geskors nadat hulle na bewering in ’n verspringput geürineer het voordat graad 8’s tydens ’n oriënteringskamp later daardeur moes kruip.

Die beheerliggaam bestempel die beweerde voorval as teleurstellend en onaanvaarbaar. ’n Ondersoek is reeds van stapel gestuur en die betrokke senior leerders is geskors hangende die uitkoms van dié ondersoek.

Die beheerliggaam sê in ’n verklaring die skool bied sedert 2015 jaarliks ’n oriënteringskamp vir gr. 8-leerders gedurende die eerste week van die akademiese jaar aan. Die kamp word by die skool gehou en sluit verskeie aktiwiteite in, waaronder ’n hindernisbaan, wat daarop gemik is om ’n gees van samehorigheid by die nuwelinge te kweek.

Sommige van die gr. 8’s het egter kort ná vanjaar se kamp ’n uitslag op hul vel ontwikkel. Die bewering is toe geopper dat sommige van die prefekte in die verspringput vol modder geürineer het voordat die gr. 8’s daardeur gekruip het.

“Die skool het dadelik ’n ondersoek gelas en dit het aan die lig gekom dat senior leerders in die verspringput geürineer het ’n paar uur voordat die graad 8’s deur die verspringput gekruip het tydens ’n aktiwiteit wat deel van die oriënteringskamp uitmaak.

“Dit was die eerste keer dat hierdie gedrag onder die personeel se aandag gekom het en senior personeellede het onmiddellik opgetree.”

Die seuns wat ’n uitslag gekry het, is by die skool se kliniek of by die huis behandel.

Die beheerliggaam wou nie in dié stadium bekend maak watter stappe teen die geskorste leerders gedoen sal word nie aangesien hulle nog dissiplinêr verhoor sal word.

“Die beheerliggaam en personeel van Maritzburg College is diep ontsteld oor hierdie onthullings wat strydig is met die hele gees van die oriënteringskamp en die skool,” sê die beheerliggaam.

Die voorval is by die departement van onderwys aangemeld.

Die skool het voorts daarop gewys dat geen leerders by die skool ontgroen word nie en dat ontgroening nie by die skool geduld word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Carolina ·

Ons is bezsg om sissies groot te maak in hierdie wêreld want alles moet net reg wees vir die arme bloeitjies!! Flippen word groot en geniet die tradisies jy sal nie doodgaan nie ok!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.