Topstudent wou nié medies by UK studeer

Die plasing is talle kere op sosialemediaplatforms gedeel en het groot woede veroorsaak. (Skermgreep: Facebook)

Nadat ʼn herrie op sosialemediaplatforms losgebars het oor ʼn topstudent wat glo nie keuring vir medies by die Universiteit van Kaapstad (UK) gekry het nie, het die UK teruggekap en gesê Michiel Kühn het sy plek daar van die hand gewys.

Die sosialemediaplasing oor Kühn, Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch se dux-leerling vir 2020, is talle kere gedeel en het groot kritiek uitgelok. Hy het ʼn gemiddeld van 96% en tien onderskeidings in die matriekeksamen behaal, maar sy aansoek om mediese keuring is volgens die plasing van die hand gewys.

Luidens die UK se brief aan Kühn wat ook versprei is, is sy aansoek deeglik geassesseer, maar het hy helaas nie plek in die program gekry nie omdat die aansoek nie “mededingend” is nie.

Die universiteit sê egter dit is nie die geval nie. Kühn het op 23 Februarie beslis ʼn aanbod ontvang om by die Fakulteit van Gesondheidswetenskappe te studeer.

Die UK sê hy het Kühn op 3 September verlede jaar laat weet dat hy voorlopige keuring gekry het op grond van sy gr. 11-prestasie. “Die applikant het die aanbod om medies te studeer nie aanvaar of van die hand gewys nie,” lui ʼn verklaring van die UK.

In die eindeksamen het Kühn ʼn fakulteitpuntetelling (FPS) van 582 behaal.

“Hy is op 23 Februarie ʼn gewaarborgde aanbod gemaak. Gewaarborgde aanbiedinge vereis ʼn telling van minstens 560 (gelykstaande aan ʼn gemiddeld van 93%).”

Die UK sê ʼn senior professor in die fakulteit het Kühn op 24 Februarie gekontak as deel van die universiteit se pogings om talentvolle aansoekers te werf.

“Tydens die gesprek het hy mondelings aangedui dat hy nie die UK se aanbod om medies te studeer gaan aanvaar nie en dat hy ʼn aanbod van ʼn ander universiteit aanvaar het.”

Die UK sê aansoekers moes teen 26 Februarie op die universiteit se aanlyn portaal aangedui het of hulle die aanbod aanvaar. Kühn het egter tussen 23 Februarie – toe die aanbod gemaak is – en dié spertyd geen interaksie met die portaal gehad nie.

Toe die aanbod dus teen 27 Februarie nie aanvaar of van die hand gewys is nie en die inskrywingsteiken bereik is, is alle uitstaande aanbiedinge na die waglys geskuif.

Kühn het volgens die UK steeds nie gereageer nie en toe die inskrywingsteiken in die eerste week van Maart steeds vol was, het almal wat steeds op die waglys was ʼn e-pos van die UK ontvang dat hulle nie meer vir plasing oorweeg word nie.

“Die bewoording in die e-pos was generies vir alle kandidate op die waglys en sluit in dat ‘die aansoek nie mededingend is nie’. Die fakulteit gaan sy stelsel hersien om te kyk na bewoording wat betrekking het op spesifieke applikante en wat nie generies is nie.”

Kühn kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

pompies ·

Die universiteit sal nou allerhande dinge doen en se net om hulle onvermoe en slegte gewoontes te versteek. DIt is nou maar so ek wed daar sal anders kleurige studente wees wat plek gewaarborg was waarvan die punte baie swakker is as die kind se punte. As jou vel wit is dan moet jy weet.

Roneldi ·

Lees asseblief die berig behoorlik voordat jy kommentaar lewer.

tweeling ·

Pompies kry miskien maar al die kante van die saak voordat jy sommer net iets kwytraak, ek stem saam met Roneldi

Gert ·

As jy slaap verbeur jy jou kans niemand gaan jou lek om te kom studeer nie

tweeling ·

Hy het nie verwag dat iemand hom gaan lek nie, ons praat hier van mense nie diere nie.

Joan ·

Gewoonlik doen voornemende studente by verskillende universiteite aansoek en aanvaar dan sy voorkeur. Volgens die berig het hierdie student n ander universiteit gekies. Moet nie altyd alles verpolitiseer nie.

mynie ·

Selfs in die werksplek is dit deesdae die norm om nie op e-posse te reageer nie. Versoeke val op dowe ore, omdat die persoon nie belang gestel het nie of dit nie op hom van toepassing is nie. So hulle vee hulle af en doen nie eers die greintjie moeite om te “decline’ nie, Jy moet mos ruik. Agterna as iets verkeerd gaan of hulle kon nie hulle sin kry nie, dan skielik word die bal vir jou teruggegooi en gesê, Ja, maar jy moes my herinner het. Ek is besig. Toemaar, niemand anders is nie…….

Zacharias ·

As ek daai universiteit was het ek ‘n outjie van daai kaliber persoonlik gaan sien en gaan soebat of hy tog maar by hulle wil kom studeer nie….
Maar ja in hierdie wêreld is als deesdae op sy kop gedraai…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.