Topvyf by ANC se KZN-konferensie bekend

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS

Die finale uitslae van die topvyf leierskapsposisies by die ANC se KwaZulu-Natal-konferensie is bekendgemaak.

Sihle Zikalala is tot voorsitter verkies, met Mike Mabuyakhulu tot adjunkvoorsitter. Mdumiseni Ntuli is tot sekretaris verkies, Sipho Hlomuka tot adjunksekretaris en Nomusa Dube-Ncube tot tesourier.

Pres. Cyril Ramaphosa, president van die ANC, het aan almal wat om dié posisies meegeding het, gesê hulle is nie wenners of verloorders nie en dat die ANC die enigste wenner is. “Ons sê aan die comrades wat dit nie gemaak het nie, julle het nie verloor nie. Aan die comrades wat dit wel gemaak het – julle het nie gewen nie. Die ANC is die enigste wenner hier. Die ANC is verenig,” het Ramaphosa aan afgevaardigdes Saterdag by die Durban Universiteit van Tegnologie gesê.

Die konferensie, wat oor drie dae gehou is, was ʼn herhaling van die 2015- provinsiale konferensie wat verlede jaar deur die hooggeregshof in Pietermaritzburg ongeldig verklaar is nadat ʼn groep ontevrede takke die uitslae van die konferensie betwis het.

ʼn Poging verlede maand om die konferensie weer te hou, moes ook gestaak word nadat dieselfde hof ʼn tydelike interdik toegestaan het wat bevind het die besluit om die konferensie weer te hou was “vroegtydig en onwettig”. Ontevrede ANC-lede het Donderdag weer ʼn interdik probeer bekom om ʼn stokkie voor die konferensie te steek terwyl afgevaardigdes reeds vir die konferensie begin registreer het. Dié aansoek is egter met koste van die hand gewys.

Ramaphosa het gesê diegene wat om die posisies meegeding het en nie suksesvol was nie, het aan hom gesê hulle aanvaar die uitslag. Hy het aan afgevaardigdes gesê hy verwag van hulle om dieselfde te doen en het hulle aangemoedig om die integriteit van die ANC en vertroue in sy mense te herstel.

“Ons het by die ANC aangesluit om ʼn Suid-Afrika te bou waar al ons mense gelyk en vry is. Ons moet gehoor gee aan die ambisies, drome en hoop van die mense van KwaZulu-Natal,” het hy gesê.

Ramaphosa het gesê eenheid in die ANC moenie net ʼn partybeleid wees nie, maar iets wat op ʼn radikale manier nagejaag word. “Ons werk nie volgens ʼn mandaat wat ons verkies nie, maar die mandaat van die ANC. Ons moet ʼn liefde ontwikkel vir diegene saam met wie ons werk. Ons is comrades. Niks anders maak saak behalwe die sukses van die ANC nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Robert Naude ·

Ja, en in die land van die blindes is eenoog koning…..

Joshua ·

Middel VINGER vir ALLES en almaal in die rassistiese ANC regime.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.