Tornado’s niks nuut, maar kan toeneem

Die tornado is in Ulundi gewaar, (Foto: Twitter)

Mense is meer bewus van tornado’s. Daarom voel dit of daar meer tornado’s plaasvind, sê Hannelee Doubell, die Suid-Afrikaanse Weerdiens se kommunikasiebestuurder. Dr. Alistair Clulow, ʼn lektor aan die Universiteit van KwaZulu-Natal se skool van landbou, aarde en omgewingswetenskappe, sê egter ons kan in die volgende vyf tot tien jaar méér tornado’s verwag soos die klimaat verander.

Daar is nou meer mense en meer strukture wat beskadig kan word en sosiale media het ook deel van ons alledaagse lewe geword. Dit het mense soveel meer bewus gemaak van tornado’s, sê Doubell.

Tydens November het daar vier tornado’s deur KwaZulu-Natal gewoed, teenoor die 12 tornado’s oor die afgelope tien jaar. Talle mens het hul lewens verloor en miljoene rande se skade is aan huise, landbougrond en infrastruktuur aangerig. Maroela Media het vroeër berig dat 23 mense sedert Oktober in die provinsie dood is weens weerverwante voorvalle.

“Tornado’s kom nog altyd voor, maar met toegang tot sosiale media wat toeneem, word die tornado’s beter opgespoor en met meer mense in die land gedeel. Min mense weet dat daar in die 1950’s ʼn tornado deur Pretoria se middestad is,” sê sy.

Doubell sê tornado’s gaan altyd gepaard met swaar donderstorms.

Sy verduidelik dat Oktober en November gewoonlik die onstabielste tye is vir somerreënvalstreke. Vier tornado’s het tussen Oktober en Desember 2017 plaasgevind. “Tornado’s kom voor wanneer daar baie swaar weerstoestande met erge weerlig is. Die Middellande in die provinsie bied ook die ideale topografiese toestande vir die verskynsels om plaas te vind.”

Clulow stem saam met Doubell en sê dat tornado’s glad nie ʼn nuwe verskynsel in Suid-Afrika is nie. “Dié verskynsels gaan egter toeneem,” sê hy.

Hou dit met klimaatsverandering verband?

Die tornado buite Pietermaritzburg (Foto: Twitter)

Clulow meen dat klimaatsverandering plaasvind omdat die aarde deur natuurlike siklusse gaan. Nywerheidsaktiwiteite dra egter daartoe by dat hierdie siklus vinniger plaasvind en tesame met aardverwarming neem die intensiteit van ongunstige weer ook toe.

“Daar gaan meer vloede en droogtes voorkom soos die seisoene verander. Storms gaan ook meer intensief wees, met meer hael, elektriese storms en sterker winde wat voorkom,” verduidelik Clulow.

Vloede en droogtes   gaan weer gepaard met ander verskynsels soos erosie en mislukte oeste. “Dit plaas weer baie druk op boere en later ook op verbruikers, wat meer geld vir produkte sal moet betaal.”

Clulow sê omdat erge weerstoestande gaan toeneem, mense binne die volgende vyf tot tien jaar ʼn toename in verskynsels soos tornado’s kan verwag. “Dit is bitter moeilik om te voorspel wanneer ʼn tornado gaan voorkom, maar ingenieurs ontwerp reeds brûe en ander infrastruktuur om meer weerbestand te wees.”

Hoe maak jy as ʼn tornado in jou omgewing voorkom?

Doubell sê die eerste ding waarna mense moet kyk, is swaar donderstorms en ook die geluide wat ʼn tornado maak. Sy verduidelik dat ʼn tornado soos ʼn duisend treine of miljarde bye klink.

“ʼn Mens gaan waarskynlik nie die tornado kan uitoorlê deur weg te hardloop of in jou kar te klim en te ry nie, want jy weet ook nie in watter rigting dit gaan beweeg nie. Probeer om onder iets swaar te skuil, soos ʼn tafel.”

Clulow sê verder dat jy nie jou huis se vensters moet toemaak as ʼn tornado in jou rigting kom nie. “ʼn Tornado is ʼn laedrukstelsel en deur al jou vensters toe te maak, veroorsaak jy ʼn hoëdrukstelsel in jou huis. Die verskillende drukstelsels werk teen mekaar en dan bars al jou vensters. Hou liefs een of twee vensters oop,” sê hy.

Hy voeg by dat elke Suid-Afrikaner ʼn verantwoordelikheid het om klimaatsverandering se vooruitgang te beperk en dit kan doen deur meer spaarsamig met elektrisiteit te werk en nie rommel te strooi nie. Rommel dra by tot vloede wat vererger wanneer daar swaar reënval in ʼn gebied is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

toy ·

Mens weet jy kry tornado’s, maar nie hier sommer so in Suid-Afrika nie.

Jack Russl ·

Ek glo nie iemand betwyfel dat ons tornado’s hier kry nie. Dit is net BAIE meer. 4 in 1 maand teenoor 12 in 10 jaar.

techie ·

Om venters oop te maak om tornado-skade te voorkom is ‘n welbekende mite. Google net “tornado myths”. Dit mors kosbare tyd wanneer mens eerder moet skuiling soek. Selfs al word die lugdruk binne en buite ‘n huis dieselfde gehou, sal die blote geweld van die wind en die puin wat dit rondwaai steeds vensters breek en veel meer skade aanrig.

Anon ·

Ag asseblief, of jou venster toe of oop is… Dit gaan geen verskil maak as een jou huis die dag tref nie. Regtig professor, Tornado Alley in VSA is word met ‘n rede so genoem en die “jet stream” en invloed van Golf van Mexiko het alles met die omstandighede wat tornados skep te doen. Sien jy ‘n “jet stream” oor Suid-Afrika en is “global warming” die enigste ding wat tornado’s veroorsaak? Kom nou, bespreek die manipulasie van die weer soos ‘n mens dit kan opmerk.

Leon ·

Daar was in die 1920s en 1930s baie tornados in die ou Oos Transvaal wat vandag as Mpumalanga bekend staan. Dit is net weers omstandighede.
Dit is maar waar ‘n lae druk is en verskeie winde uit verskeie windrigtings saam kom en dan begin hulle maal en op die ou einde “dans” hulle en dis dan waneer die wind begin tol. Hoe meer lug instroom, hoe meer tol hy totdat hy ‘n lekker spoed het. Dis jou tornado.

heinrich ·

climate change is n al gore foefie. DIE top mnr in amerika wat met die weer patrone werk wie se lewe in gevaar is(dit is as hy nog leef) het dit bevestig in sy “An Inconvenient Truth…Or Convenient Fiction opname. klimaat verandering is tbs. Net nog n manier om beheer oor die mensdom toe te pas. Nie alles glo wat die tv en omroepers jou vertel nie. Hulle is veronderstel om jou te vermaak ,nou breinspoel hulle die wat inskakel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.