‘Tot 30% van onderwysers voel onveilig in skole’

Argieffoto

Argieffoto

Die provinsiale en nasionale departement van basiese onderwys doen weinig om onderwysers en skoolhoofde met die dissipline-krisis in skole te help.

Verskeie deelnemers aan ’n seminaar oor dissipline in skole wat Saterdag deur die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) aangebied is, het gesê daar is heeltemal te veel rompslomp en omslagtige prosedures wat dit vir skole feitlik onmoontlik maak om van oortreders ontslae te raak.

Net 5% van aanbevelings wat skole maak oor uitsetting of skorsing van leerlinge word deur onderwysamptenare bekragtig.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, het gesê die onderwys is in ’n groot verknorsing wat geweld en dissipline in skole betref. Volgens navorsing voel tot 30% van onderwysers onveilig in skole, terwyl 4 uit 5 hoofde erken geweld kom in hul skole voor.

Regter Edwin Cameron van die konstitusionele hof het gesê skole is nie ’n wetlike opset nie en die hantering van dissipline kan dus nie oordrewe wetlik of met te veel omslagtige prosedures en regulasies gepaard gaan nie.

Hy het voorgestel dat ’n dringende vergadering tussen die departemente en ander rolspelers plaasvind om na alternatiewe maniere te kyk om die kwessies te hanteer.

Cameron het gesê dissipline is noodsaaklik in skole om die waardigheid van andere te erken. “Ons moet almal leer om volgens reëls te lewe. Reëls bevorder dissipline en berei kinders voor vir die latere lewe waar nog meer reëls geld.”

Hy het gesê die grondwet op sigself bied nie die oplossings vir dissipline-probleme nie. “Dis maar bloot die lens waardeur ons na oplossings moet soek. Wat nodig is, is doeltreffende en regverdige prosesse.”

Cameron het ook beklemtoon dat leerlinge opgevoed moet word in die beginsel dat hul dade en optrede gevolge het.

Veronica Hofmeester van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou), het gesê dissipline is nie net ’n probleem in elke Suid-Afrikaanse skool nie, maar ook in die wêreld.

In ’n opname wat onder onderwysers gedoen is, het 12,2% aangedui dat hulle al met geweld deur leerlinge gedreig is.

Hofmeester het gesê dissipline-probleme word ook vererger omdat universiteite nie toekomstige onderwysers oplei om met kinders met gedragsprobleme te kan werk nie. Sy meen skole het baie meer sielkundiges en maatskaplike werkers nodig.

Basil Manuel van die onderwysvakbond Naptosa, het op sy beurt gesê nog te veel onderwysers pas lyfstraf toe. “Geweld in skole kan nie hanteer word, solank dit nog voortgaan nie.”

Voorstelle wat gemaak is om dissipline-probleme te pak, is dat klasgroottes kleiner gemaak moet word omdat onderwysers nie groot klasse met tot 60 leerlinge kan onderrig nie. Voorts moet die departement minder inmeng sodat onderwysers hul daaglikse pligte kan uitvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

se-net ·

Dit is juis omdat lyfstaf weg gevat is, dat dit so gaan!!!!

Trippie ·

Opvoeding begin by die huis, waar die fondamente gele word.

Ek stem saam met “SE-NET” – lyfstraf beteken allermins vermink of doodslaan. Ek het verseker nie letsels oorgehou, beslis ook nie ‘n minderwaardigheidsgevoel nie.

In my skoolloopbaan is ons gevoeter, en glo my, dit het goeie vrugte afgewerp. Buig die boompie terwyl hy nog jonk is.

Bring terug lyfstraf en GODSDIENS.

Peter Says ·

Trippie, stem Eenhonderd persent saam met jou, ek was n stouterd in my jong dae en het gereeld die rotang geproe, dit het beslis n beter mens van my gemaak…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.