Tot 60% wil hê skole moet sluit

Die stryd oor of skole te midde van die Covid-19-pandemie weer gesluit moet word, duur voort. (Foto: Maroela Media)

Tot 60% van volwassenes wat aan ʼn meningsopname van die Universiteit van Johannesburg (UJ) en die Raad op Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) deelgeneem het, wil nié hê skole moet te midde van die Covid-19-pandemie oop bly nie.

Prof. Kate Alexander, direkteur van die Sentrum vir Maatskaplike Verandering by die universiteit, sê die bevindings is ʼn terugslag vir die regering terwyl daar steeds oor skole gewik en geweeg word.

“[Die departement] moet moontlik sy huidige beleid heroorweeg,” het Alexander gesê.

Altesaam 60% van diegene wat aan die studie deelgeneem het, meen dat skole glad nie weer vanjaar moet heropen nie, net 13,1% van respondente glo dat skole vir alle grade moet heropen, en 21,1% meen dat skole net vir gr. 7- en gr. 12-leerders moet oop wees.

Die navorsers het respondente ook oor hul inkomste uitgevra. Altesaam 67% van diegene wat minder as R1 001 per maand verdien, het aangedui dat hulle meen skole moet nie weer vanjaar open nie, terwyl 41% van diegene wat meer as R20 000 per maand verdien, meen skole moet toe bly.

Die navorsers sê daar is ook groot meningsverskille onder respondente wat verskillende politieke partye ondersteun. DA-ondersteuners is meer geneig om met die heropening van skole vir alle grade saam te stem, gevolg deur ANC- en EFF-ondersteuners.

“Desnieteenstaande is die meerderheid uit al drie partye gekant teen die heropening van skole,” lui die verslag.

Mans is meer geneig om ʼn negatiewe siening oor die heropening van skole te hê: Altesaam 63% van mans is ten gunste van die sluiting van skole, in vergelyking met 57% van vroue.

“Skole veiligste plek vir kinders”

Die modelleringsgroep Pandemic Data & Analysis, oftewel Panda, voer op sy beurt aan dit is wetenskaplik bewys dat dit veilig is om terug te keer skool toe en dat daar langtermyngevolge gaan wees as skole nie vir alle leerders heropen nie. Panda beywer hom daarvoor dat die onderwyssektor weer volstoom begin werk om verdere ekonomiese gevolge en latere lewensverlies te voorkom.

Panda sê Suid-Afrika se onderwysstelsel was voor die Covid-19-pandemie reeds gefragmenteerd en op die randjie van ineenstorting en dat dit nou heeltemal kan inplof as onderwysers en leerders nie gou aanmeld nie.

“Die skool is in hierdie stadium die veiligste plek vir kinders,” sê Nick Hudson, ʼn aktuaris verbonde aan Panda.

Dié stelling word op drie redes gegrond. “Eerstens gaan dit die ekonomie red omdat ouers kan terugkeer werk toe. Tweedens gaan lewens later gered word omdat ons ekonomie behoorlik funksioneer. Laastens kan ons nie die ontsporing van die onderwysstelsel en die langtermyngevolge wat daarmee saamgaan wat betref die toekoms van werksgeleenthede, innovering, ekonomiese groei en algemene welstand bekostig nie.”

Panda het gereageer ná pres. Cyril Ramaphosa se opmerkings vroeër vandeesweek dat dit belangriker is om lewens te red as om die akademiese jaar te voltooi.

Verskeie onderwysvakbonde skop vas teen die algehele heropening van skole, maar Panda waarsku dat druk van die vakbonde nie wetenskap mag troef nie. Die organisasie pak boonop die skuld vir vakbonde se reaksie op die regering en sê hy het ʼn klimaat van vrees geskep, pleks daarvan om besluite op wetenskap te grond.

Hudson sê onderwysers en gesondheidswerkers is irrasioneel bang.

“Dit lyk ook of ons afsonderingstydperk ons gesondheidsorgstelsel se kapasiteit laat afneem het, terwyl die enigste bedoeling was om dit te verhoog.”

Panda sê navorsing is duidelik dat Covid-19 ʼn bitter klein risiko vir kinders inhou en dat hulle die koronavirus selde oordra. Dit maak skole van die veiligste werkplekke te midde van die pandemie, veral as onderwysers ʼn afstand van mekaar handhaaf.

“Dit behoort nie onmoontlik te wees nie omdat onderwysers in die klaskamer en nie die personeelkamer behoort te wees nie. Eenvoudig gestel, gaan dit hopeloos irrasioneel wees om skole te sluit in ʼn poging om die uitwerking van Covid-19 te probeer verminder.”

Hy waarsku as skole vir die res van die jaar gesluit word, gaan groot dele van die ekonomie vir alle praktiese doeleindes ook tot dan gesluit word. Miljoene meer mense sal dus in armoede gedompel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pieter ·

Die helfte van die bevolking is idote. Skuus, ek trek dit terug. Die helte van die bevolking is nie idiote nie.

Harold ·

Wonder wat se partye se lede het die grootste lyf wegstekers en nie n duit omgee vie die ekonomie nie

Karel Kobus Kruger ·

Nou sluit dan dadelik alle skole, verbied alle afstand onderrig en geen onderwyser kry n enkele sent salaris nie. Op daai manier sal beide die unies en die gewone publiek almal ewe ontevrede wees.
Hierdie land (eintlik die hele planeet) verdien n “no nonsense” leier/diktator soos Genghis Khan. Dan sal nog vakbonde, nog gewone mense enige seggenskap hê. Demokrasie waar elke Jan Raap en sy maat n eier wil lê, het beslis beperkinge.

Elsa ·

Ek is self ñ onnie. Moet skole asb nie toemaak nie. Ons is veilig en tref voorsorg sodat die virus nie versprei nie. Sedert graad 12 en res terug is het ons nog geen COVID geval gehad nie.

Sê-mar-net ·

Ek stem heelhartig dat skole OOP MOET BLY! Hoeveel navorsing het al BEWYS dat leerders se immuniteit BAIE sterker is as volwassenes! Hulle herstel vinniger-ek praat nie nou van diegene met komirbiteite nie. Kinders vind veiligehid en sekuriteit in roetine. Meeste skole tref uitstekend voorsorg met voorkoming EN nasorg ingeval van positiewe uitslae……
Sluit eerder skole wat bv meer as 20 positiewe gevalle het (getal net vir arguments onthalwe) vir 14 of 10 dae-saniteer en maak weer oop.
Die realiteit is dat nie almal data vrylik beskikbaar het vir aanlyn onderrig nie, en die idee om sommer net die skooljaar te kanselleer is absurd……
Ek het 3 kinders en eks gerus om hulle skool toe te stuut…

Johanncb ·

Wat gaan van die huidige skooljaar word as skole wéér moet sluit? Volgende jaar sal beslis chaos wees!

Sakkie ·

Sluit die skole maak die toekoms ongeletterd en laat die wat die skole wil toe he die skoolfonds en salarise betaal

Johannes Andries ·

Ek wonder is die Nick Hudson ‘n mediese dokter dat hy hom self as’ n kundige voor doen?
Het hy kinders in die skool?
Weet hy dat onderwysers selde of baie min tyd in die personeel kamer spandeer?
Kyk hy ooit na die statistieke hoeveel kinders al gesterf het agv die virus?
Het hy gesien hoeveel kinders positief getoets het vir die virus?
Waar dink HY het die duisend onderwysers die virus opgetel?
DIE ANTWOORD OP AL DIE VRAE : NEE HY WEET NIE!,

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.