Toyota, Media24 sê oor AIG

afrikaans-is-groot-2018-pretoria-steve-hofmeyr

Steve Hofmeyr sing ‘Die Land’ saam met Jay du Plessis, Ruhan du Toit, Bok van Blerk en Bobby van Jaarsveld by Afrikaans is Groot 2018 in Pretoria. Foto: Afrikaans is Groot/Instagram.

Toyota Suid-Afrika het aangekondig dat hy ook sy borgskap van Afrikaans is Groot (AIG) gaan beëindig.

Volgens Toyota Suid-Afrika het hy en die bestuur van AIG “onderling en op vriendskaplike wyse” ooreengekom om die borgskapverbintenis teen einde Maart te beëindig.

“Beide partye het hul kontraktuele verpligtinge sedert Maart 2015 nagekom. Die borgskap was wedersyds voordelig vir beide partye.”

Toyota Suid-Afrika het gesê hy is ten volle verbind tot die bevordering van kuns en kultuur en sal voortgaan met borgskappe van musiek en kulturele byeenkomste en gebeurtenisse.

“As uitgangspunt moet bevordering van diversiteit en samehorigheid van ons land se mense die kern wees. Toyota Suid-Afrika bly verbind tot die sosio-ekonomiese ontwikkeling van ʼn vredevolle en harmonieuse Suid Afrika.”

Media24 het intussen ook aangekondig dat Via, Netwerk24, Huisgenoot en Beeld nie by die nuwe seisoen van AIG betrokke sal wees nie. “Sedert die stigting van AIG was verskillende titels uit ons stal op verskillende tye op verskillende maniere betrokke. Goeie betrekkinge word steeds met Coleske Artists gehandhaaf en betrokkenheid by van hul produksies sal steeds deur albei partye oorweeg word.”

Van links is Demi Lee Moore, Steve Hofmeyr, Barry Pretorius, vervaardiger en regisseur van AIG, Ernst Vorster, hoof van kommunikasie vir Helpende Hand, Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, en Karlien van Jaarsveld by die mediakonferensie Dinsdag in Centurion. (Foto: Janie Monsieur)

Media24 het gesê sy titels bly op die voorpunt van verslaggewing en nuusdekking oor Afrikaanse musiek, kunstenaars en ʼn verskeidenheid van projekte, wat AIG insluit. “Voorts gee ons steeds dekking en sterk ondersteuning aan ons kreatiewe Afrikaanse skeppers wat kunstefeeste en projekte soos Aardklop, die Stellenbosch Woordfees en Optog insluit.”

Dit kom nadat AIG gister aangekondig het dat die hoofborg van AIG vanjaar die publiek gaan wees. ’n Eksklusiewe vertoning, genaamd #JouAIG, word vir 28 November beplan waar 6 000 kaartjies teen R800 elk aangebied sal word. Elke kaartjie wat verkoop word, sal dien as ’n bydrae tot die bestaan van AIG en elke kaartjiehouer van dié konsert sal ’n hoofborg van die konsert wees.

MTN het onlangs aangekondig dat hy alle bande met die Afrikaans is Groot-handelsmerk verbreek het ná druk deur sosiale media op die maatskappy omdat die sanger Steve Hofmeyr by die konserte optree.

Pick n Pay en Landrover het in Maart 2015 ook hul borgskappe aan AIG onttrek. Dit het gevolg nadat Hofmeyr ʼn opskudding op sosiale media veroorsaak het nadat hy getwiet het: “Sorry to offend but in my books Blacks were the architects of Apartheid. Go figure.”

(Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Talle Twitter-gebruikers het Hofmeyr se borge en maatskappye wat geleenthede borg waar Hofmeyr betrokke is, op sosiale media gekap en gevra of hulle sy uitlatings goedkeur. Hofmeyr se twiet is onlangs weer wyd op sosiale media gedeel waarna MTN onttrek het.

Barry Pretorius, die vervaardiger van AIG, het Dinsdag gesê hulle het die afgelope tyd baie vrae ontvang oor of Hofmeyr nog by dié bekende konserte gaan optree.

“Mnr. Hofmeyr gaan nêrens heen nie, hy bly in Afrikaans is Groot, punt. Geen borg kan ons vertel wat ons mag doen nie. Elke liewe borg kan loop, en ons sal nog steeds hierdie ding laat werk, deur die publiek, deur júlle wat inkoop in die projek,” het Pretorius gesê.

Hofmeyr het gesê hy is bly dat hy terug gaan wees op die AIG-verhoog. “Dankie dat julle besluit het om my te hou. In ’n stadium het ek vrywillig aangebied om terug te tree. Ek het dit gedoen omdat ek nie daarvan hou om mense te verdeel nie en omdat ek nie daarvan hou om as ’n rassis uitgemaak te word nie,” het hy gesê.

Hofmeyr het gesê hy is jammer dat dinge wat hy gesê het, nie in daardie stadium reg geïnterpreteer is nie, en dat hy sy omstrede twiet van 2014 kan verdedig. “Hierdie inisiatief wys dat ons nie verlam word deur die narratiewe daar buite nie, ook nie deur geld nie. Ons harte is nog reg. Kultureel word ons primêr gedryf daardeur dat ons vir altyd hiermee wil aangaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

236 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nico

Soos met sanksies teen SA destyds, behoort AIG sterker hieruit te tree. Vryheid van spraak en denke is belangriker as die advertensiegeld wat borge betaal.

Dries

So sien ons wie staan almal om die pot wat aan die kook is en dit help stook.

adk

n Aanval op Afrikaans, Steve word maar net as verskoning gebruik. Presies wat die LUR wou gehad het. Verdeeldtheid tussen Afrikaners/ondersteuners. Media24 het nou n ander mark. Dié mark het sy doel gedien.

RN

Ek verstaan nou nog nie die opskuddig oor Steve se destydse tweet nie. Dit is heel uit verband geruk. Wonder wat sou hulle gedoen het as hy miskien iets gese het soos ‘kill the blacks..’??? Niemand onttrek hulle borge van Julius Malema se party en daai ander swart BLF ou nie, maar nou het die Afrikaner weereens bewys dat hulle sonder borge kan klaarkom. Ons Afrikaners sal mekaar ondersteun. Ek dink dit het ook tyd geword om vir Toyota SA te wys hoe harmonies Afrikaners kan wees en ophou om Toyota te koop. Daar is baie ander ewe goeie voertuie.… Lees meer »

At Dippenaar

Alles loop reg, altyd reg – TOYOTA!