Toyota SA herroep duisende voertuie

Argieffoto

Toyota Suid-Afrika gaan derduisende voertuie herroep weens ʼn fout met die lugsakke in van sy modelle.

“Toyota en ander motorvervaardigers wêreldwyd herroep voertuie weens moontlike foutiewe Takata-lugsakke. Wêreldwyd is daar nagenoeg 100 miljoen voertuie van verskillende motorvervaardigers wat geraak word. By Toyota Suid-Afrika word sowat 730 000 voertuie geraak,” het Mzolisi Witbooi, woordvoerder van Toyota Suid-Afrika, aan die nuusagentskap Xinhau gesê.

Volgens die berig word sy volgende modelle geraak: Hilux, Rav4, Fortuners wat tussen Julie 2003 en Desember 2005 vervaardig is, sekere Yaris-modelle, RunX en Corolla-modelle wat tussen 2002 en 2007 vervaardig is.

Toyota Suid-Afrika sê op sy webtuiste die herroeping raak lugsakke wat voor in voertuie geïnstalleer is. Volgens Toyota is daar bevind dat sekere tipes Takata-lugsakke vogtigheid kan opbou en wanneer die lugsak ontplooi word kan dit tot gevolg hê dat die opblaastoestel bars. Stukkies metaal kan dan dwarsdeur die kussing bars en insittendes beseer.

Volgens Toyota is daar nog geen beserings of sterftes plaaslik aangemeld weens die fout nie. Eienaars wie se voertuie hierdeur geraak word sal deur Toyota-handelaars in kennis gestel word om hul voertuie in te bring sodat die komponent verander kan word. Dit vat sowat twee uur om die komponent te vervang en dit is gratis.

“Toyota is daaraan toegewy om sy verbintenis tot veiligheid en gehalte te versterk. Dit beteken om kliënte en mense eerste te stel deur toepaslike optrede te neem,” het Toyota SA gesê.

Toyota-eienaars wat wil uitvind of hul spesifieke model geraak word, kan Toyota se webwerf besoek om hul VIN-nommer in te tik vir meer besonderhede.

Mazda, Nissan en Honda in Suid-Afrika het ook reeds motors om dieselfde rede plaaslik herroep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

HPV ·

Snuffels, dit kan jy weer sê! Ford ontken net sy probleme en op die ou end moet jy dit self laat herstel.

Gerhard ·

Waarvan praat jy?Die probleem met Takata-lugsakke is al jare bekend en hulle doen nou eers iets daaraan.

Estelle ·

Maar nou is die nodige onderdele volgens Toyota nog nie in SA beskikbaar nie. Maar ten minste is hul pro aktief en wag nie soos Ford dat die voertuie ontplof nie!

Frank ·

Pro aktief! Het jy gesien wanneer is die voertuie vervaardig Stellatjie?

Theresa ·

Skrikwekkend dat motors sulke tipe problem het wat gevaarlik verskuild wag om ‘n groot probleem en gevaar vir die insittendes te wees.

Skuil ·

Ek het ons Fortuner ingevat nadat ons ‘n epos ontvang het en puik diens gekry by Toyota.

Daan ·

Toyota wag darem nie todat mense dood is soos Ford voor hulle aksie neem nie

Gerhard ·

Die probleem met Takata-lugsakke is al jare bekend en hulle doen eers nou iets daaraan. Hoe weet jy niemand is dood nie? Jy raai maar net.

Piet Pompies ·

Puik, hierdie is een van die vervaardigers wat ‘n pad loop met sy kliente.

Willem ·

Dieselfede Toyota wat $ 1,2 biljoen in die VSA moes hoes omdat hy foute met die versneller probeer wegsteek het.

Marius ·

Die mense het nou slegte goed te se oor Toyota dit is nie waar.Dieselfde maatskappy het in baie ander maak voertuie ook lugsakke ingesit dit is net Toyota wat se dat hulle vervang alles vat nie kans.So die ander gee nie om my bakkie gaan in oor ‘n week dankie Toyota.

Hannes ·

Toyota vat ook maar sy tyd. Aan die einde van die berig staan dat Mazda, Nissan en Honda dit ook gedoen het. My Nissan is al lankal gedoen. Toyota het ook soos Ford eers gewag om te kyk of die probleem nie wil weg gaan nie.

LouE ·

Is dit nie dalk die rede hoekom Kurt Darren se lugsak nie ontplooi het nie? Onthou sy ongeluk?

SS ·

Hoe kan dit Toyota meer as 10 jaar neem voor hulle die fout agterkom en probeer regstel?

Willie ·

L.W. Vog kan opbou. Maw dit vat tyd om te gebeur. Het my 2006 Fortuner ingevat nadat hulle my in kennis gestel het. Werk is gedoen. Ek is baie tevrede. Dankie Toyota.

Olivier ·

As die modelle so oud is hoekom op 2 van my hilux modelle 2013 en 2014 is daar nuwe lugsak dop by stuurwiel .en daar is niks gese hoekom of wat gedoen is nie .is dit ook die lugsakke ?.was nou by die afgelope dienste gedoen dankie

Vonkprop ·

Ek dog Toyota is so betroubaar. Dit is nou al die hoeveelste keer dat Toyota van sy voertuie herroep. Almal het sy foute maar dit raak nou gewoonte by Toyota. Ek persoonlik dink voertuie raak te tegnies en het te veel goetertjies in wat heeltyd moet dink. 30 jaar terug het ons nie die probleme gehad nie. ‘n Kar was ‘n kar nie ‘n rekenaar op wiele nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.