Toyota vereer Olimpiese én Paralimpiese sterre

Bianca Buitendag, Tatjana Schoenmaker, Louzanne Coetzee, Erasmus Badenhorst, Anruné Weyers, Ntando Mahlangu en Pieter du Preez tydens gister se funksie. Foto: Maroela Media.

Superhelde kom in verskillende gedaantes, maar hulle is altyd op die regte tyd en plek daar om hoop te verskaf. En dit is natuurlik goed om vir hulle daarvoor dankie te sê.

Toyota het gister Suid-Afrika se Olimpiese en Paralimpiese helde vir hul prestasies in Tokio vereer: Vir ’n goue medalje het die sterre R100 000 ontvang, ’n silwer medalje was R50 000 werd en ’n brons medalje het beteken dat jy ’n dankiesêtjek van R25 000 in jou sak gesteek het.

“Hul vertonings het nie net hoop vir ons land gegee nie, maar ook die res van die wêreld geïnspireer,” het Lettie Labuschagne van Toyota SA gesê.

Ntando Mahlangu vier sy wêreldrekord in Tokio . (Foto: Thomas LOVELOCK / OIS/IOC / AFP)

Ntando Mahlangu (twee goue medaljes) en Tatjana Schoenmaker (’n goue medalje en ’n silwer medalje) het die grootste bedrae ontvang; onderskeidelik R200 000 en R150 000.

Benewens die atlete is Louzanne Coetzee se twee gidse – Erasmus Badenhorst en Claus Kempen – ook vir hul bydraes vereer.

“Ek is letterlik Louzanne se oë tydens ’n wedloop. Ek moet vir haar sê wat rondom haar gebeur en wanneer ons byvoorbeeld ’n ander atleet kan verbysteek. Om saam met haar te oefen en te hardloop beteken dat ek beslis hard moet werk om by te bly, maar ek is dankbaar dat ek alles saam met haar kon ervaar het,” het Badenhorst gesê.

Vir Aruné Weyers was die Paralimpiese Spele ’n ongelooflike gebeurtenis, veral omdat haar bywoning vroeër in die weegskaal was omdat sy Covid-19 opgedoen het.

Sheryl James se brons medalje is ook beloon. Foto: Twitter.

“Die Here het my die heeltyd vasgehou en dit was wonderlik om net by die Spele te wees en almal se unieke stories te hoor,” het Weyers gesê.

Elkeen van die atlete swem, ry branderplank, hardloop of trap omdat hulle ’n passie en liefde vir hul sport het. Tog is hulle baie dankbaar jeens Toyota vir hul goedhartigheid.

“Ek dink tussen almal wat hier sit is ek die enigste ouer. En almal weet dat kinders geld kos,” het Pieter du Preez geskerts toe hy gevra is wat hy met die geld gaan doen.

“Maar jy moet dit ten goede aanwend; nie net om jou sport te bemark en vir hoop te sorg nie, maar ook om ander te help.”

Coetzee het Toyota ook vir hul ondersteuning bedank.

“Ons klink seker soos ’n grammofoonplaat wat vashaak wanneer ons sê dat ons nie die sport vir finansiële gewin beoefen nie, maar vir my verteenwoordig hierdie Suid-Afrika se ondersteuning. En dit beteken ongelooflik baie vir my.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JohanR ·

Waaneer gee daai drie groot vettes ook ietsie……Audi, BMW en Mercedez?

Hennie J ·

Vir hulle gaan dit oor winste! Geen tyd of lus vir die gemeenskap nie.

Cherokee ·

Dankie Toyota (ek’s Toyo fan sedert toeka se tyd en) in 2001 het ek ‘n nuwe Corolla gekoop wat nou 109,000 ks gedoen het in 2 dekades! (en moet onophoudelik aanbiedinge weglag) Ek is trots op julle!~

Hardekwas ·

My 2003 corolla het nou 400 000 km gedoen. Loop nog soos n droom.

Eidel ·

Fantastiese nuus. Welgedaan aan elke deelnemer. Net om deel te wees van die Olimpiese span is ‘n groot eer en wys dat harde en eerlike werk altyd beloon word. Dankie Toyota SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.