Toys R Us in SA nie geraak deur internasionale uitdagings

Foto: Toys R Us

In die lig van mediaberigte van uitdagings wat Toys R Us in Amerika en die Verenigde Koninkryk raak, het Toys R Us in Suider-Afrika (insluitend Zambië en Namibië) gesê hy word nie hierdeur geraak nie.

Dave Brandon, uitvoerende hoof van Toys R Us, het Woensdag aan meer as 30 000 Amerikaanse werkers gesê dat die maatskappy sy deure ná 70 jaar moet sluit. Aanlyn speelgoedverkopers soos Amazon het daartoe bygedra dat die maatskappy in ʼn finansiële verknorsing beland het.

“Ek is platgeslaan dat ons dié punt bereik het,” het Brandon aan die werknemers gesê. “Ek glo regtig dat ons alles in ons vermoë gedoen het onder onmoontlike omstandighede.”

Mededinging van Amazon.com en Walmart, gekombineer met skuld van $5 miljard, het die kettinggroep teen die einde van September verlede jaar oorweldig. Die maatskappy het aansoek gedoen om likwidasie. Minstens 800 Toys R Us-winkels in Amerika is gou gesluit om die skade te beheer, maar verskaffers was huiwerig om speelgoed na die groep te stuur, uit vrees dat hulle nie betaling sal ontvang nie. Toys R Us se verkope was 15% laer tydens die vakansieseisoen as die vorige jaar.

Toys R Us Suider-Afrika het egter in ʼn verklaring bevestig dat Toys R Us en Babies R Us Suid-Afrika privaat besit word en slegs ʼn tantieme aan die handelsmerke betaal. Die Suid-Afrikaanse maatskappye funksioneer heeltemal onafhanklik van sy internasionale eweknieë.

“Toys R Us Suider-Afrika (insluitend Zambië en Namibië) bly dus onaangeraak deur die uitdagings wat die internasionale handelsmerk beleef,” het die maatskappy gesê. “Trouens, Toys R Us en Babies R Us Suid-Afrika het uitsonderlike groei beleef en sewe nuwe winkels in 2017 oopgemaak.

“Ons het ons momentum behou. Ons inkomstegroei is standvastig en Toys R Us en Babies R Us is op ʼn goeie pad om ons handelsmerkspoor deur Suid-Afrika te versterk,” het Nicole Annells, bemarkingsbestuurder van Toys R Us en Babies R Us SA, gesê.

Sy het bygevoeg die handelsmerk is opgewonde oor sy nuut opgeknapte vlagskipwinkel in Canal Walk in die Wes-Kaap wat volgende maand sy deure oopmaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marita ·

Ons het ‘n brosjure van BabiesRus ontvang waarin net een bevolkingsgroep in die advertensies gebruik word. As dit andersom was, was alle hel seker weer los! Ons gaan die groep nie meer ondersteun nie.

Liefie ·

Dit is net n kwessie van tyd dan gaan winkels in SA ook toe maak. Ek koop eerder aanlyn voordat ek met ongeskikte onvriendelike personeel te doen moet kry want mens doen hulle mos n helse guns om iets by hulle te koop.

Marius ·

On moontlik. Geen manier hoe hulle nie daardeur geraak kan word nie.

Christa J ·

Hou hierdie spasie dop: Toys R Us is net die begin van die Amerikaanse ekonomie wat gaan tuimel. Hulle druk net meer en meer geld en sien (met goeie rede natuurlik) neer op $#@%=lande, maar die ironie is dat hulle presies doen wat ons slim vriend in Zim ook gedoen het. Ek is met verstomming geslaan oor die aantal kredietkaarte per persoon die Amerikaners het en (mildelik) gebruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.