Traagheid met akkreditasie van private verpleegkolleges wek kommer

(Foto: pixabay)

Solidariteit se beroepsgilde vir verpleegkundiges het opnuut sy kommer uitgespreek oor die gesloer met akkreditasie van private verpleegkolleges. Dit volg ná ʼn gesamentlike verklaring wat deur die departemente van gesondheid en hoër onderwys uitgereik is dat openbare verpleegkolleges van Januarie 2020 toegelaat word om die nuwe verpleegkwalifikasies aan te bied.

Maroela Media het vroeër berig die direkteur-generaal van gesondheid, Precious Matsoso, asook die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, het die versekering gegee dat diegene wat aanstaande jaar verpleegkunde wil gaan studeer en keuring daarvoor kry, dit sal kan doen.

Matsoso het ook gesê drie universiteite asook alle [openbare] verpleegkolleges is reeds geakkrediteer om kursusse kragtens die nuwe regulasies aan te bied en sewe universiteite se aansoeke is hangende.

Hennie Bierman, hoof van Solidariteit Beroepsgildes, het gesê die toelating is ʼn stap in die regte rigting, maar dat dit betreurenswaardig is dat dit nóú eers gedoen is. Hy meen daar hang reeds ʼn swaard oor verpleegkunde as beroep.

“Verpleegkundiges is oorwerk en onderbetaal. Die afgelope paar jaar het geen private instelling goedkeuring ontvang om opleiding in sekere vakke van verpleegkunde aan te bied nie, terwyl huidige verpleegkolleges onder druk is om aan die vereistes van die nuwe kwalifikasies te voldoen. Openbare kolleges gaan nie die mas alleen opkom nie,” het Bierman gesê.

Solidariteit het verlede jaar ʼn verslag uitgereik oor die ernstige verpleegpersoneeltekorte in Suid-Afrika wat ʼn direkte uitwerking het op die gehalte van gesondheidsorg in die land.

“Meer moet gedoen word om hierdie krisis te hanteer. Ons eis dat die akkreditasie van private verpleegopleidingsinstellings nou ook dringend aandag kry. Die departement van gesondheid en die departement van hoër onderwys, asook die verpleegstersraad het tot dusver onverantwoordelik opgetree deur hierdie krisis so lank te laat voortsleep,” het Bierman gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

7 Kommentare

C op C ·

Hoop regtig die Dept maak seker dat gehalte onderrig gaan geskied. Ons verpleegsorgstandaard het regtig oor die afgelope jare baie verswak. Ek is self ‘n verpleegkundige en skaam my vir die terugvoer van vriend en familie en wat ek self ervaar met ouers en fanilie wat toegelaat word in hospitale. Dit MOET verbeter.

Andrea van Vuren ·

As oud verpleeglundige my raad aan mense met geliefdes in hospitale: Sorg dat jy dag en nag by hulle waak, veral bejaardes en babas. Jy vat hul lewend daarin en hulle kom dood daaruit.

Bekommerd ·

My vraag is hoekom is die staat tevrede met die swak verplegingsorg in die staatshospitale? Is daar ‘n plan aan verbonde om mense te laat doodgaan onder hierdie swak sorg? Hoekom sloer hulle met die akkreditasie van privaat verplegingsorg? Is dit omdat hulle.nie goeie verplegingsorg wil hê nie, vir watter rede ookal.

Judge Dredd ·

Wel vir die standaard van verpleegkunde vandag kan ek myself nie indink dat verpleegsters te min betaal word.
As ek my ouers na die hospitaal vat soek ek gewoonlik maar een van die ouerige verpleegsters wat beter standaard opleiding ontvang het.

Lalie ·

Dis nie n verlies nie, waar is die robotte wat die take gaan oorvat.

Tersia ·

waar is die opleidings hospitale? Dit is waar hulle leer om met die pasiente te werk nie in die plekke waar hulle net 3 maande boek opleiding kry nen Dan nie eers n drup kan insit nie. Al gesien dit werk nie so nie.

Jerry ·

Die probleem is dat daar fout of versuim is met die keuring vir opleiding van verpleegpersoneel. Dit is nie langer meer n roeping nie en daarom is daar n afwesigheid van empatie met versorging van pasiente. Aanstellings is bloot werkskepping, dit is maar net nog n job vir te veel kaders wat werk soek. Die bestes word nie gekeur nie, want dit is diskriminasie teen die swakstes ens!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.