Video: Traanrook, rubberkoeëls toe polisie stakende Tuks-werkers verjaag

Die Universiteit van Pretoria (UP) het die gebruik van traangas en rubberkoeëls bevestig in ʼn situasie waarin die polisie Maandagoggend stakende werkers by hul Hatfield-kampus uiteengejaag het.

(Skermgreep uit video)

Rikus Delport, woordvoerder van die UP, sê ʼn groep stakende personeellede het akademiese aktiwiteite onwettig ontwrig.

“Polisiebeamptes is na die voorval ontbied waarin hulle die stakende personeel gevra het om die stakingsreëls te volg.

“Ons neem alle berigte oor die gebruik van geweld ernstig op en is tans besig om inligting in te samel om die omstandighede rakende hierdie voorval ten volle te verstaan. Ons prioriteit is altyd die veiligheid en welstand van alle personeel en studente. Ons sal verdere bywerkings verskaf sodra meer inligting beskikbaar word.”

Delport sê die stakende personeel het teruggekeer na die aangewese betogingsgebied, “en die polisie is steeds saam met ons sekuriteitspersoneel op die perseel om die situasie te monitor”.

“Ons veroordeel die onwettige ontwrigting van akademiese aktiwiteit op ons kampus ten sterkste. Ons wil ons gemeenskap verseker dat ons relevante stappe sal doen teen enige individue wat by hierdie voorvalle betrokke is.

“Ons is daartoe verbind om die geskille deur opbouende dialoog en binne die grense van die wet op te los.

“Die universiteit bedank die UP-gemeenskap vir hul samewerking en begrip gedurende hierdie uitdagende tyd,” sê Delport.

Hofstukke verlede week aan stakende werkers beteken

Die Universiteit van Pretoria het verlede Donderdag bevestig dat hofstukke aan stakende werkers beteken is, wat hulle inlig oor die universiteit se besluit om ʼn hofbevel te verkry om orde en veiligheid op sy perseel te handhaaf te midde van voortslepende stakingsaksies.

Die hofbevel poog om te verhoed dat stakende werkers betrokke raak by sekere aktiwiteite wat die werksaamhede en veiligheid van die universiteitsgemeenskap kan ontwrig.

Aanleiding tot die stakingsaksie

Delport sê die stakingsaksie wat deur vakbonde verbonde aan die universiteit gereël is, kom nadat maande lange onderhandelinge met die vakbonde ʼn dooiepunt bereik het.

“Die universiteit het ʼn verhoging van 4% aangebied wat deur die vakbonde verwerp is, wat ʼn  verhoging van 7% geëis het.

“Die universiteit was nie by magte om aan hierdie eis te voldoen nie, wat later tot hierdie stakingsaksie gelei het,” sê hy.

“Die universiteit is onderhewig aan finansiële beperkings. Ons hoofinkomstestrome sluit staatsubsidies, klas- en verblyfgelde en derdestroom-inkomste in. Staatsubsidies maak 55% tot 60% van ons inkomste uit, klasgelde maak ongeveer 40% uit, en die oorblywende gedeelte word uit derdestroom-inkomste verkry.

“Oor die afgelope paar jaar het staatsubsidies nie tred gehou met die stygings in bedryfsuitgawes nie, en klasgeldverhogings is deur die minister van hoër onderwys, wetenskap en innovasie beperk.

“In 2024 het ons ʼn afname van 1,7% in staatsfinansiering ervaar, wat ons finansiële hulpbronne verder onderdruk het. Tesame met verhogings in klasgelde en beperkte geleenthede om derdestroom-inkomste te verhoog, het ons algehele inkomste ʼn gemiddelde verhoging van slegs 2,5% gehad.”

Hy sê verder staar ʼn aansienlike toename in studenteskuld die instelling in die gesig, wat nou R650 miljoen oorskry en na verwagting verder sal toeneem ná afloop van die 2023-boekjaar.

“Hierdie uitdagings plaas aansienlike druk op ons finansiële hulpbronne, wat ons vermoë beïnvloed om onmiddellike finansiële verpligtinge na te kom en die stabiliteit van ons bedrywighede te handhaaf. Boonop vererger die bykomende uitgawes verbonde aan beurtkrag (meer as R80 miljoen aan dieselkoste) ons finansiële situasie verder.

“Om hierdie uitdagings die hoof te bied, het die universiteit die afgelope paar jaar eenmalige reserwes aangewend om begrotingstekorte te finansier. Hierdie benadering is egter onvolhoubaar op lang termyn, wat die finansiële gesondheid van die instelling in gevaar stel,” sê Delport.

Hy sê die universiteit het as ʼn proaktiewe oplossing  ʼn finansiële volhoubaarheidsplan ontwikkel om sy hoofinkomstestrome te verbeter terwyl besuinigingsmaatreëls ingestel word om bedryfsuitgawes te verminder.

“Die suksesvolle inwerkingstelling van hierdie plan berus op die samewerking van alle rolspelers, insluitend ons personeel.

“Die universiteit ondersteun personeel se reg om te staak, soos uiteengesit in die Wet op Arbeidsverhoudinge. Ons respekteer hul besluit om hierdie reg uit te oefen, en ons streef daarna om minimale ontwrigting van die instelling se aktiwiteite gedurende hierdie tydperk te verseker.”

Delport sê die bestuur by die universiteit bly daartoe verbind om oplossings te vind vir die bekommernisse en kwessies wat deur die vakbonde geopper word.

“Ondanks ons verbintenis om die bekommernisse aan te pak, is sekere eise wat deur die vakbonde gestel word nie haalbaar binne ons huidige finansiële beperkings nie.

“Ons bly optimisties dat ons deur opbouende dialoog en samewerking die bekommernisse wat deur ons personeel geopper is, kan aanpak terwyl ons die voortgesette sukses en volhoubaarheid van ons instelling verseker.

“Ons oriënteringsweek is ook tans aan die gang, waartydens ons verwag om byna 8 500 eerstejaarstudente by die universiteit te verwelkom.

“Die Universiteit van Pretoria bevestig weer sy verbintenis tot sy personeel en studente, en ons is vol vertroue dat ons saam hierdie uitdaging sal oorkom en sterker na vore sal tree,” sê Delport.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

KB ·

O genade…is dit SAPD-lede daar in blou?????
Daardie is ook nie werknemers nie, dis die EFF wat kom onmin saai het!

AREND1 ·

En nie een is gearesteer nie en was dit nou vreedsame staking? Waar is cele dan nou?

Fubar ·

Altyd die vraag: Hoeveel van die skuim is gearresteer?

En, hoeveel is uiteindelik vervolg?

Toemaar, ons weet. Niemand nie.

Witbaard ·

Altyd slegs ‘n paar opstokers wat amok maak……tot die skote klap, dan hardloop hulle weg soos die lafaards wat hulle is.

Republikein in die Wes Kaap ·

Openbare universiteite is onvolhoubaar. Eintlik net welsynsorganisasies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.