Tracy Zille-rassismesaak in gelykheidshof

Foto: Skermskoot/Twitter

Die saak teen die EFF-raadslid van Limpopo wat hom verlede jaar glo as ʼn wit vrou op Twitter voorgedoen en beweerde rassistiese boodskappe geplaas het, word vandeesweek in die gelykheidshof in Louis Trichardt in Limpopo aangehoor.

Die verhoor van Anthony Mathumba, raadslid van die Makhado- plaaslike munisipaliteit, is van Dinsdag tot Donderdag op die hofrol geplaas.

Die Menseregtekommissie (MRK) versoek die hof om Mathumba se beweerde uitlatings op Twitter onder die naam @TracyZille as teistering op grond van geslag en ras te verklaar. Die kommissie eis ook skadevergoeding van Mathumba vir sy beweerde gewraakte uitlatings.

Maroela Media het vroeër berig ʼn middeljarige vrou met rooibruin hare en blou oë het in Junie verlede jaar uit die niet verskyn en gebruikers op Twitter die harnas ingejaag met haar rassistiese opmerkings.

Die @TracyZille-profiel, wat tienduisende volgelinge getrek het, is destyds daarvan beskuldig dat dit rassespanning aanvuur, poog om swart Suid-Afrikaners te verneder en wit Suid-Afrikaners te beswadder.

Die Digital Forensic Research Lab het kort daarna onthul dat Mathumba glo agter dié Twitter-profiel skuil en boonop munt slaan uit die klik-aas wat hy op die platform plaas.

Die MRK sê nou in ʼn verklaring geen individu mag van Suid-Afrika se kwetsende geskiedenis gebruik maak om ʼn inkomste vir hom- of haarself te skep nie. “Die MRK veroordeel enige vorm van optrede wat ons mandaat van versoening en nasiebou doelbewus weerspreek, en is vol vertroue dat die hof ʼn sterk boodskap sal stuur aan die gesiglose individue op sosiale media wat probeer om hierdie platforms te misbruik.”

Die kommissie herinner mense daaraan dat dit teenstrydig is met die doelstellings van die Wet op Gelykheid.

Die MRK sê voorts sy ondersoek na die @TracyZille-profiel het meestal gesteun op inligting wat die kommissie vanaf Twitter ontvang het en sal in die komende dae aangevul word deur kundige getuienis wat tydens die verhoor aangehoor sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Belinda ·

Gelukkig is hy uitgevang. Wonder hoeveel valse profiele is daar nog om ander rasse sleg te laat lyk…

Rian ·

Daar is virseker baie vals profiele. Dié wat dit skep het duistere agendas. Ek dink mense op sosiale media moet enige verdagte profiel aangee as vals, tot die teendeel bewys kan word.

Phil ·

Dis maar net n druppel in die emmer, sosiale media floreer van die gevalle. Doen maar net goeie navorsing alvorens jy enige iemand aanvaar as n vriend.

Althes ·

Ek hoop MRK doen hul werk behoorlik die slag. Daar is baie skade en verdeeldheid onder mense gebring met sulke uitlatings. En om die van Zille te gebruik,glo ek het baie kiesers vervreem van die DA.
Mag hy baie streng gedissiplineer word.

Gert ·

Wys jou hy is te bang om sy mond oop te maak as mense weet wie hy is. ‘n Regte k nonsens maker

Sandra ·

Ek hoop daar word ‘n voorbeeld van hom gemaak deur behoorlik te straf. Hier is genoeg moeilikheid sonder sulke skermunkels.

Sarel ·

Die MRK se uitvoering vzn sy mandaat.word ook maar
Selektief toegepas

Natasha ·

As Vicki Momberg 3 jaar moes sit moet Anthony Mathumba sommer 10 sit. Wat hy gedoen het is baie erger!

Anoniem ·

Die feit dat die “Raadslid” se naam nie bekend gemaak word in die berig nie, spreek genoeg. Ek hoop hul bêre hom vir ewig.

johann ·

Dis die eerste geval wat ek teekom wat deur die “digital forensic research lab ” opgelos word. Ek wens meer van die gevalle word gerapporteer

Robert ·

Les #1… as jy iets op die Internet kwytraak kan en mag jy opgespoor word. ;-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.