Tradisionele koninklikes besoek Orania

(Verteenwoordigers van Orania in gesprek met die afvaardiging van die AmaBhele kaJamangile op die Monumentekoppie in Orania. Foto: Verskaf)

Die gemeenskap van Orania is bekend vir sy gasvryheid en het nou ook ʼn afvaardiging van tradisionele koninklike families verwelkom wat wou kom kers opsteek oor Orania se model van selfbeskikking, sowel as die bou van diplomatieke bande wat gemeenskappe meer “staatsbestand” maak.

Bhelekazi Mabandla, prinses en diplomatieke verteenwoordiger van die AmaBhele kaJamangile, naby Maclear, en stamkoning Gaboilelwe (Gabo) Moroka van die Seleka Barolong van Thaba ’Nchu, oos van Bloemfontein, het Orania Maandag en Dinsdag besoek.

Volgens Joost Strydom, uitvoerende hoof van die Orania Beweging, was die doel van die besoek die bevordering van die twee stamme se eie pogings tot outonomie en selfbeskikking.

“Hulle versoek was om meer van Orania te leer as voorbeeld van ʼn gemeenskap wat al heelwat suksesse behaal het op die pad na groeiende selfbeskikking.

“’n Deel van die besoek was natuurlik ook van ’n diplomatieke aard; dus ʼn amptelike besoek van twee mense uit twee ander gemeenskappe (van twee ander volke) aan Orania as ʼn Afrikaner-gemeenskap,” sê Strydom.

Volgens Orania het prinses Bhelekazi Mabandla en Kgosi Gabo die beweging gekomplimenteer vir hul vordering met groeiende selfbeskikking.

Orania het sedert sy stigting in 1991, en selfs voor dié datum via AVSTIG, onder andere met verskillende gemeenskappe en amptenare vergader. Die doel van skakeling is altyd tot ʼn groot mate om erkenning vir Orania en Afrikaners te kry.

Strydom sê Afrikaners wat erkenning vir hul vryheidsdroom verwag, gun dit ook aan ander gemeenskappe.

Tradisionele leierskap en Afrikaners het oor die afgelope vier eeue baie staatsvorme sien kom en gaan, sê Strydom.

“Die huidige regering sal ook kom en gaan. Daarna bestaan onafhanklike verhoudinge wat volke met mekaar op eie terme gesmee het, nog.”

Die Orania Beweging het onlangs ʼn skakeltoer na Afrikaners se stamlande onderneem om erkenning vir hul saak in Wes-Europa te kry. Die organisasie sê dit is egter ook “kritiek belangrik om, vir Afrikaners se vryheidstrewe, ander gemeenskappe en volke in Suid-Afrika se erkenning te kry en aan hulle erkenning te gee”.

(Foto: Die Seleka Barolong het die Voortrekkers met trekosse gehelp ná die slag van Vegkop. Hier is Oraniërs saam met verteenwoordigers van die Seleka Barolong voor ‘n openbare kunswerk van die Gelofte van Bloedrivier. Foto: Verskaf)

Strydom sê diegene wat nog nie die Orania-idee snap nie, maak staat op die staat se erkenning van individuele of groepsregte.

“Dit beteken egter dat die staat ter eniger tyd daardie regte weer kan wegneem. Wanneer verskillende volke mekaar erken, is almal baie meer staatsbestand.”

Ook Carel Boshoff van die Orania Verteenwoordigende Raad sê erkenning tussen gemeenskappe is iets “wat gegee word en ontvang word”.

“Die wederkerigheid van so ʼn verhouding beteken dat Afrikaners erkenning kry en ook gee,” sê Boshoff.

(Ds. Ronald Bain in gesprek met stamhoof Gaboilelwe (Gabo) Moroka van die Seleka Barolong. Foto: Verskaf)

Die skakeling-inisiatief is die direkte gevolg van skakelwerk deur Barend Uys, hoof van interkulturele skakeling by AfriForum.

Wie is besoekers?
Die Seleka Barolong is ’n Tswana-sprekende gemeenskap wat baie ou bondgenote van die Afrikaners is. By die slag van Vegkop is die Voortrekkers nie deur Mzilikazi se impi’s verras nie omdat die Barolong hulle gewaarsku het dat die impi’s op pad is. Die Voortrekkers het die slag oorleef, maar die meeste van hul osse is dood. Dit is die einste Seleka Barolong wat ná die Slag van Vegkop vir die Voortrekkers trekdiere gestuur het om hul waens na veiligheid te skuif. In die gebied van die Seleka Barolong kon die Voortrekkers veilig staan en is die Voortrekkerregerings daar gekies, die eerste kerkie gebou en die eerste nagmaal buite die Kolonie gehou. Hulle streef ook daarna om selfstandig en outonoom te wees en hulle eerste prioriteit is die besit van hul eie grond (wat tans in staatsbesit is).
Die AmaBhele kaJamangile is ’n Xhosa-sprekende gemeenskap wat streef daarna om selfstandig en outonoom te wees. Hulle het reeds bande met die Nederlandse ambassade en die ambassade beplan om ’n woudrehabilitasieprojek in hul gebied doen. Een van die sake wat vir hulle ʼn baie groot prioriteit is, is dat hulle hul grond (wat tans deur die staat besit word) self wil besit.
                                                                                                                Bron: Orania Beweging

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Christine ·

Ek glo hulle gaan om te leer hoe om hul eie statjies op te bou om self-sustaining te wees.

Vlekkie ·

Ag ek glo nie Orania sou enigsins iets op ‘n skinkbord aanbied nie.

ES ·

Uistekend! Dit IS moontlik om selfonderhoudend te wees. Hoe vinnig die regering dit agter kom (ons sommige van ons landsburgers) hoe beter!

Swerwer ·

‘n Stawende bewys dat almal beslis nie die ANC/EFF steun nie.

Papsak ·

Ja is reg laat hulle gaan kyk hoe n wit mens kan lewe en regeer hulle moet gaan leer daar maar asb moenie hulle toe laat in orania nie asb nooit

Pieter ·

Julle moet nie te veel wys en leer nie, more kom vat hulle Orania, omdat als daar werk

annie ·

Broeders, moet nou die die wit stam onderskat nie. Hulle is die op die kop geval nie. Die foto is reg voor die skildery van die trekwaens by Bloedrivier net ingeval iemand dalk hierdie klompie trekkers ‘n lessie sou wou leer.

Sarel ·

Indien jy niks positief het om.by te dra nie..stilte us dan jou beste opsie

twaalfboor ·

“Diplomatieke” besoek. Whahahahaha…… lekker lag ek nou.

Ettienne ·

Mense kan sê wat hulle wil oor Orania – hulle kan saamstem, of hulle kan verskil. Een ding staan egter soos ‘n paal bo water. Oranïers WERK. Daar word nie op die agterend gesit en gewag vir aalmoese nie. Dit is waarom Orania en die infrastruktuur in Orania werk – want almal WERK.

Vlekkie ·

Dis cool! Interressante brokkie geskiedenis waarvan ek vir seker nie van geweet het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.