Trae reaksie teen grondgrypers in Bloemfontein

Besetters by Lourierpark (Foto verskaf deur die VF Plus)

Sowat 6 000 besetters het begin om onwettige strukture op te rig op Lourierpark tussen Pellissier en Bloemdal langs die Jagersfonteinpad in die Vrystaat.

Die metro het reeds ʼn tussentydse hofbevel bekom teen die besetters waarvolgens geen nuwe besettings mag plaasvind of strukture op munisipale eiendom aangebring mag word nie.

Volgens die uitspraak in die Vrystaatse hooggeregshof van 2 Maart 2024 is die balju en die polisie die voldoende magtiging en opdrag gegee om die onwettige besetters uit die gebied te verwyder.

“Ongelukkig, en gebaseer op betroubare inligting oor politieke inmenging, is bitter min nog gedoen om uitvoering te gee aan die hofbevel,” sê Hardie Viviers, die DA se koukusleier in die munisipaliteit.

Die DA en ander belanghebbendes en betrokke rolspelers het stappe begin doen om die Mangaung-munisipaliteit (Bloemfontein) en die SAPD te dwing om op te tree.

“Die vertragings wat veroorsaak het dat die munisipaliteit se futlose pogings die onwettige grondgrype voorkom of stopsit, is onaanvaarbaar en verg dringende aandag,” sê Viviers.

“Gregory Nthatisi, uitvoerende burgemeester, moet ook aanspreeklik gehou word vir sy onvoldoende reaksie op die krisis.”

Besetters by Lourierpark (Foto verskaf deur die VF Plus)

Volgens Adriaan de Bruyn, VF Plus-LP, het Nthatisi toestemming gegee vir die besetters om aan te bly. Dit druis lynreg in teen die hofbevel.

Viviers sê intussen eskaleer die krisis en dit is duidelik dat die oop stuk grond nie enige toegang bied tot basiese dienste nie.

“Indien geen beduidende vordering gemaak word nie, sal ons die hof nader om streng voldoening te verseker aan die bestaande bevel, met ʼn fokus op artikel 2.4 en 2.6 van die bevel,” voeg Viviers by.

Die DA sal ook uitreik na besorgde burgergroepe om hul ondersteuning te bekom in die stryd teen onwettige grondbesetting.

“Dit is duidelik die ANC versuim om op te tree aangesien dit hom stemme kan kos in die komende verkiesing,” voeg De Bruyn by.

Die VF Plus eis dat Vrystaat se LUR vir gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer, Maqueen Mathae, moet toesien dat die hofbevel teen onwettige besettings in Lourierpark uitgevoer word.

Volgens die VF Plus se inligting het ANC-wyksraadslede glo die besetters se grondhonger misbruik om die onwettige grondgryp aan te moedig.

“Hoewel populistiese uitsprake gereeld oor grond en eiendom gemaak word, is dit die ANC in die Vrystaat se eie departement van menslike nedersettings wat in die 2022/2023-boekjaar slegs 36,7% van sy beskikbare behuisingsbegroting kon bestee. In die proses het die departement misluk om meer as 81% van sy behuisingsteikens te bereik,” aldus De Bruyn.

Dié departement moet jaarliks honderde miljoene aan nasionale tesourie (NT) teruggee weens mislukte behuisingsprojekte.

Die VF Plus is sedert Saterdag gereeld in kontak met die departement wat moet toesien dat wet en orde gehandhaaf word. Die party sal ook die proses om ʼn finale hofbevel teen die onwettige besetters te verkry monitor en daarop aandring dat die metro dit eerbiedig en uitvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

GWS ·

Nog ‘n ANC mislukking!!! Waar gaan alles heen? Een van die dae brand hulle weer tyres omdat hulle nie munisipale dienste het nie!!!

hpven ·

Dagvaar die wat versuim om op te tree in hul persoonlike hoedanigheid! Ons belastingbetalers is moeg siek en sat om vir alles, ook regskostes, pa te staan!

Lettie ·

Daar moet opgetree word. Ons kán nie net langer toekyk nie. Asb mense stem die arrogante regering uit hul vrot sokkies uit.

hpven ·

Laat die Bloemfontein DA en VF nou wys wat in hulle steek. Doen iets anders as om koerante toe te hardloop… Tree op!

Jacobus ·

Suid Afrika het net EEN probleem, die ANC.
Raak ontslae van die ANC, en al Suid Afrika se probleme word opgelos.

Wondermaarnet ·

Hoe arrogant kan die mense wees om ‘n hofbevel te ignoreer. Kry ‘n stootskrper en maak als gelyk!

Annali ·

Kommerwekkend, 3 tot 4 km van my huis af. As hierdie toegelaat word gaan dit oral gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.