Traer aanmelding van nuwe Covid-19-gevalle in Kaapstad

Kaapstad het inwoners gevra om gesondheidsprotokolle getrou na te kom om nuwe Covid-19-infeksies te stuit. (Foto: Stad Kaapstad/Facebook)

Die piek van die derde vlaag Covid-19-infeksies word binne die volgende week of twee in Kaapstad verwag en die stad het ʼn beroep op inwoners gedoen om gesondheidsprotokolle getrou na te kom.

Die aanmelding van nuwe infeksies verloop wel stadiger en daar was ʼn effense afname in begrafnisse. Daar was in die week van 26 Julie tot 1 Augustus 11 982 bevestigde gevalle in die Kaapstadse metro.

Volgens die Mediese Navorsingsraad (MNR) is die sterftesyfer gaandeweg besig om af te plat, hoewel die getal sterftes wat in die provinsies aangemeld word steeds méér is as dié wat gewoonlik verwag sou word.

Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, sê hoewel die syfer daal, word sowat 1 280 nuwe gevalle steeds daagliks aangemeld.

“Dit is ontmoedigend dat die nakoming van begrafnisprotokolle steeds ʼn probleem is,” sê Badroodien.

Van die begrafnisse wat die stad se gesondheidsdepartement die afgelope week gemonitor het, is protokolle by slegs 72% van die begrafnisse nagekom.

“Die byeenkomste kan superverspreiders word as ons nie waaksaam is nie,” waarsku Badroodien.

Daar was die afgelope week 547 begrafnisse in vergelyking met die 649 wat verlede week gehou is.

“Selfs al is dit ʼn beduidende afname van 102 begrafnisse, sien ons steeds ʼn bestendige toename in die vraag na verassings. Altesame 150 verassings is die afgelope week gedoen.”

Die Wes-Kaap en Gauteng was Dinsdag elk verantwoordelik vir 25% van alle nuwe gevalle wat aangemeld word.

Inentings

Die registrasieproses en inenting van mense tussen 25 en 49 is goed aan die gang in die Moederstad en mense tussen 18 en 34 sal na verwagting van 1 September in aanmerking vir inenting teen Covid-19 kom.

Vroue van alle ouderdomsgroepe neem die voortou wat inentings betref. Van almal wat tot dusver in die stad ingeënt is, was 58,8% vroue en Badroodien het ʼn beroep op mans gedoen om ook aan te meld.

“Ons is bekommerd oor die getal inwoners wat nog nie geregistreer het nie en die stad doen wat hy kan om die proses so gerieflik en toeganklik as moontlik te maak,” sê hy.

Almal ouer as 60, selfs al het hulle nog nie geregistreer nie, kan na een van die stad se inentingsentrums gaan om gehelp te word en die entstof te ontvang. Verskeie mobiele inentingsentrums word reeds in die stad ingespan om die bestaande sentrums aan te vul en word in samewerking met die provinsiale gesondheidsdepartement bedryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Baardman ·

Hoeveel mense wat geregistreer is, het al die inenting gekry?

Anel ·

Hoeveel van die wat dood is, is aan iets anders as die “pes” dood? Moord, motorongelukke, hartaanvalle, operasies, natuurlike oorsake, en ander? Dan kan julle weer statistieke gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.