Tragedie by kerkuitstappie

Argieffoto

ʼn Agtjarige seun het Sondag by die Kleinmond-strandmeer, noordwes van Hermanus in die Wes-Kaap, verdrink en ʼn sesjarige meisie het byna verdrink.

Deon Langenhoven, bevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Hermanus, het gesê die kinders was deel van ʼn kerkgroep wat op ʼn uitstappie was by die strandmeer.

“Teen 16:20 is NSRI-bemanning na die toneel ontbied nadat die meisie in die strandmeer vermis geraak het,” het Langenhoven gesê.

EMR-ambulansdienste het reeds gereageer en die meisie se familie bygestaan wat haar intussen uit die water kon haal. “Paramedici het die nodige noodhulp toegepas en kon daarin slaag om haar by te bring. Sy is in ʼn ernstige maar stabiele toestand na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.”

Langenhoven het gesê daar is daarna besef dat ʼn agtjarige seun ook vermis was. Hy is die laaste keer gesien toe hy in dieselfde omgewing as die meisie in die strandmeer geswem het.

“NSRI-reddingswemmers is na die toneel ontbied en by hul aankoms het EMS-paramedici reeds die seun opgespoor en uit die water gehaal. Ondanks volgehoue pogings om hom by te bring, is hy op die toneel dood verklaar.”

Die polisie was op die toneel en doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Hans ·

Ag ek vra nie eers mee nie. tog bly dit n tragedie vir almal wat daar was en die familie, n tragedie wat voorkom kon word.

Maria ·

Hoeveel kinders moet nog verdrink in Kleinmond voor hulle iets doen! Die water van die lagoon is swart, dus baie gevaarlik. Dit is net so hartseer.

Piet Pompies ·

Ons was betrokke by heelwat sulke geleenthede, reelings was baie streng. Ouers is aangemoedig om saam te gaan, elke ouer en kerklid wat saam was het ‘n taak teenoor die verrigtinge gehad. Toesig en sekerheid is kardinaal. Jy moet vir daardie kind wat saamgaan net so lief wees en soveel omgee soos jou eie kind. Sterkte aan die ouers.

Peet ·

By ‘n uitstappie met sulke klein kinders behoort daar goeie toesig te wees.??????

Hellen ·

Ag ons het al hoeveel keer gevra waar is die toesig dan kom huil die tannies oor ons nie SIMPATIE met die mense het wat ‘n kind verloor het nie. ongelukkig sal dit bly gebeur solank daar nie toesig is nie en solank kinders wat NIE KAN SWEM nie toegelaat word om sonder toesig te swem. KOM BY!

Alida ·

Dit gebeur nou al te dikwels. Ek is van mening dat hierdie uitstappies heeltemal verbied word en/of ouers moet weier dat hulle kinders hoegenaamd deelneem daaraan. Die groepe is te groot en mens weet nie of die toesighouers genoeg is en/of behoorlik opgelei is vir die verantwoordelikheid nie.

ag nee ·

Ons het ‘n strandhuis in kleinmond en daai strand het ‘n vieslikke stroom en baie keer ‘n gevaarlike”shore brake” wat baie kinders al seer gemaak het of hulle baie vinnig in die stroom laat beland. Die sandbank in die middel maak dit nie maklik vir kinders nie. En tog elke jaar verdrink daar ‘n kind of twee in die lagoon voor die ouers, want die kind kan nie swem nie en speel in die vlakwater en dan trap hy in ‘n gat en verdrink. Ek stel voor as mens so groot groep is bly weg van water, want mens kan nie almal dophou nie. Baie hartseer. klienmond het al teveel liggaampies gevat.

JSG ·

Hoekom word daar areas gekies wat bekend is om nie veilig te wees. Ek moes met my Voortrekker offisier dae eers navorsing gaan doen het waar ek die kinders heen wou vat vir uitstappies of spankampe. Vir elke 8 kinders moes daar ‘n toesighouer wees. Om dié rede het van die ouers saamgegaan op komando kampe. Het al eerstehands gesien wat kinders kan aanvang en moes hulle letterlik elke minuut dophou. Wil nie vinger wys, maar blyk dat toesighouding en beplanning op uitstappies deesdae swak is. Sterkte en simpatie aan die familie van die seun.

Alida ·

Dit is selfs moeilik vir een mens om 8 kinders op te pas by water. Daar behoor een vir elke 4 kinders te wees.

Geen Toesig! ·

Daarom hou ek nie van skool/kerk uitstappies nie! Daar word eenvoudig nie toesig gehou nie. My kind was verlede jaar op n uitstappie en ons moes na die tyd hoor hoe lekker dit was, die grootmense het vir kinders geld in die hand gestop en hul eie ding gaan doen. Kinders moes self sien kom klaar… Ek is woedend! Ons het nodige mense in kennis gestel, sowel as ander ouers daarvan vertel – nogsteeds is daar NIKS omtrent die situasie gedoen nie.

Maggie ·

Innige simpatie aan di ouers en familie van di seun.Dit is tragies wat gebeur het.RIV seun

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.