Tragedie ná Pta-gyselaarsdrama: ‘My pappa is dood’

Polisievoertuie Woensdag buite The Meadows-veiligheidskompleks in die ooste van Pretoria. Foto: Facebook

Polisievoertuie Woensdag buite The Meadows-veiligheidskompleks in die ooste van Pretoria. Foto: Facebook

Die dogter van een van die mense wat Woensdag tydens ʼn dramatiese gyselaarsituasie by The Meadows-veiligheidskompleks, in die ooste van Pretoria, gesterf het, moes via sosiale media hoor dat haar pa dood is.

Edward Gobey, ʼn opsigter by The Meadows, is gistermiddag glo deur een van die inwoners doodgeskiet. Nadat inligting op sosiale media begin versprei het dat The Meadows se opsigter en nog ʼn persoon doodgeskiet is, het Charlize Gobey haar tot sosiale media gewend om uit te vind of haar pa beseer is. Sy het gebruikers op ʼn Facebook-groep gevra of hulle die naam van die oorledenes weet en het later ook een van Maroela Media se joernaliste gekontak om uit te vind of die identiteit van die oorledenes al bekend is.

Omstreeks 17:45 het Charlize laat weet haar pa is dood. “Dit is met ʼn seer hart dat ek sê hy is dood. My pappa is dood. My daddy who’s only ever wanted to [take] care of everyone and take care of me, my mom and little sister. Ek is so lief vir pappa,” het sy in ʼn inskrywing op Facebook geskryf.

Die toneel Woensdag by The Meadows-veiligheidskompleks in die ooste van Pretoria. Foto: Kent Williams

Die toneel Woensdag by The Meadows-veiligheidskompleks in die ooste van Pretoria. Foto: Kent Williams

Dit is nie heeltemal duidelik watter werk Edward Gobey by die kompleks gedoen het nie. Verskeie bronne het berig dat hy die veiligheidsbestuurder by die kompleks was, maar volgens Charlize het hy as die opsigter gewerk. Die name van die ander oorledenes is nog nie bekend nie.

Maroela Media het vroeër berig dat daar ure lank hoogdrama by die kompleks was nadat ʼn inwoner op mense losgebrand, polisiebeamptes en veiligheidswagte as gyselaars geneem en later vermoedelik homself geskiet het. Die polisie is glo na die kompleks ontbied omdat die skieter klippe na mense gegooi het. Hy het daarna met ʼn langloopgeweer op mense in die kompleks losgebrand voordat hy vyf beamptes as gyselaars geneem het.

Inwoners was ure lank verhoed om na hul huise terug te keer omdat die strate rondom die kompleks afgesper was terwyl polisie-onderhandelaars en lede van die SAPD se taakmag probeer het om dit situasie te ontlont.

Omstreeks 19:30 het kapt. Dave Miller, ʼn polisiewoordvoerder, uit die kompleks gekom en gesê die vyf gyselaars is vrygelaat en hulle ontvang berading. Omstreeks 21:00 is inwoners wat steeds buite die afgesperde gebied gewag het deur die polisie na hul huise begelei waar hulle gevra is om binne te bly.

Die drama het omstreeks 22:00 geëindig toe lede van die taakspan die man se huis binnegestorm het en hom dood aangetref het. Hy het homself vermoedelik geskiet, maar Miller wou dit nie bevestig nie. Dit is ook nie duidelik of die man se vrou ook in hierdie tyd in hul huis was nie.

Die polisie wou nie onmiddellik die skieter se identiteit bevestig nie.

Lees alle vorige berigte oor The Meadows-gyselaarsdrama op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

thelsa ·

Jammer vir die familie van die oorledenes. Dit blyk egter uit die berigte gepubliseer en volgens inwoners aan my bekend, was die inwoner wat die mense as gyselaars aangehou het, onstabiel en was daar reeds geruime tyd ongelukkighede gerapporteer oor sy onstabiele en onaanvaarbare gedrag. Die Skrif leer ons mos “wat jy saai, sal jy maai”

Gerda ·

My hart is stukkend. Edward, jy was a stunning mens. Aan Marina, Charlize en Tyla, ek het nie woorde nie.

Johann ·

Soms wonder ek of mense nie ‘n sielkundig evaluasie moet ondergaan voor hulle mag trou en dan kinders he.

Hannelie ·

Baie sterkte aan sy gesin en familie. Die skok om so uit te vind jou pappa is dood.

Asjas ·

Ons land is lank reeds rommel status, ons almal weet dit, ervaar dit daagliks. Kondig dit tog nou aan dan is dit “official” …

M ·

Nie almal wat reccies was is onstabiel nie. En as ek reg gelees het was dit nie die skieter wat ‘n reccie was nie.

Regsaspek ·

Natuurlik mag hy ‘n wapen besit het as hy die vaardigheidstoetse ens geslaag het.

Die vraag is hoekom is hy nie onbevoeg verklaar na al die aggresiewe optredes en die afvuur van wapen toe hy die hond geskiet het nie?

Sue ·

Hartseer soos dit is vir alle partye betrokke, wil ek graag net noem/vra:
Daar is groot fout met ons as “community”, ons sien dinge en doen nie regtig “iets” om mense te help nie. Dit is maklik om in “hindsight” te noem…”daar was al geruimte tyd opgemerk dat die persoon vreemd of onaanvaarbaar optree, ons het al gekla oor die persoon…ons het al dinge gesien wat die persoon gedoen het…of die persoon was nie ‘lekker” nie ens. ens. Wat het ons as community gedoen om hierdie persoon te help??? NIKS! Daar is vandag ‘n wêreld vol van bronne wat hierdie persoon kon gehelp het. Dit is siende dat die persoon nie “wel” is nie…maar ons verkla die persoon en doen daadwerklik Niks om die persoon tot hulp te bedien nie. Dit is ‘n community probleem – DIt gaan oral so…nie net in hierdie hartseer saak nie. Dit is jammer dat ons so gou kla oor iemand wat hulp nodig het, en tog nie hulp aan bied nie.

Kom By ·

Sue… Net as jy gewonder het. Community in afrikaans is “gemeenskap”
En as jy so beswaard is oor niemand niks doen, begin self om n verskil te probeer maak en nie net nonsens te kommentaar.

Daan ·

Die spotprent: “land is besig om ineen te stort.” Hy is ‘n kenner van storte.

Marie ·

Ek stem saam. Dit is so tragies na albei toe. Eintlik het ons as gemeenskap gefaal. Sterkte aan al die families MM

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.