Tragedie toe drie kleuters in swembad beland

(Argieffoto: pixabay)

ʼn Gemeenskap digby Makhado in Limpopo is in rou gedompel nadat drie kleuters Vrydag in die plaaslike swembad verdrink het.

Kol. Moathse Ngoepe, polisiewoordvoerder, het gesê geregtelike doodsondersoeke word gedoen na die dood van Mashudu Angel Langanani (3), Ramovha Vhutali (4) en Shandukani Never (4).

Die kleuters, wat almal in dieselfde straat in die Tshituni Tsha Fhasi-nedersetting naby die swembad woon, het gespeel toe hulle oënskynlik ongesiens weggeglip en toegang tot die perseel gekry het.

“Een van die kinders se ouer broer het onraad gemerk toe hy hulle nie meer kon sien nie en dus besluit om na hulle te gaan soek.

“Hy het op die gru-toneel afgekom van die drie kinders wat leweloos in die swembad dryf en het sy ma geroep,” het Ngoepe gesê.

Die twee meisies en seuntjie is dadelik na die plaaslike kliniek geneem, maar is met hul aankoms daar dood verklaar.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, provinsiale polisiehoof, het ʼn beroep op ouers gedoen om seker te maak hulle weet waar hul kinders is om tragedies soos dié te verhoed.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Louis ·

Daar moet ‘n oorsaak wees vir hierdie tragedie. Hoop julle deel die uitslag (waarheid) oor die ondersoek na die gebeure met Maroela. Media.

Niklaas ·

Tragiese nuus. Kleuters moet deurgans dopgehou word , want ongelukke gebeur binne minute

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.