Tragedie tref tydens kampnaweek: ‘Haar gees is onstuitbaar’

Soozi Dinnie. Foto: Facebook

Soozi Dinnie. Foto: Facebook

Familie en vriende van ʼn Kaapse verpleegster, wie se lewe handomkeer verander het tydens ʼn kampnaweek saam met vriende in 2014, het nou na die publiek uitgereik om haar ʼn kans op ʼn gehaltelewe te gee.

Soozi Dinnie (50), haar man en twee kinders het in September 2014 saam met ʼn groep vriende by ʼn kampterrein naby Rawsonville in die Wes-Kaap gaan kampeer. Ilene Power, Soozi se vriendin, het aan Maroela Media vertel dat hulle ʼn heerlike naweek saam deurgebring het en die Sondag besig was om op te pak toe die tragedie gebeur het.

“Soozi het so half aan die kant van ons kampterrein saam met my twee kinders, Geordie en Robert, gestaan en bid. Ons was net almal so dankbaar vir die naweek en die tyd wat ons saam kon deurbring. Ek het nog vir hulle staan en kyk en die oomblik waardeer, toe dit gebeur,” het Ilene gesê.

Een van hul vriende het met sy Ford Ranger-bakkie agteruit gery omdat hy sy sleepwa wou aanhaak. Die bakkie was ʼn 4×4 omdat die terrein baie sanderig was en Soozi se voertuig reeds vroeër die naweek vasgeval en uitgetrek moes word. Ilene vertel Soozi en die twee kinders het aan die onderkant van ʼn klein helling gestaan en omdat die bakkie so hoog was, kon die bestuurder hulle glad nie sien nie. Hy het al drie voluit getref.

“Hy het nie dadelik besef dat hy hulle getref het nie en het net gevoel die bakkie sukkel om te ry en het meer vet gegee. Ek het nader gehardloop en geskree dat hy moet stop. Toe eers besef hy dat iets fout is,” het Ilene gesê.

Robert, toe nege jaar oud, is onder die bakkie uitgegooi nadat die bakkie oor hom gery het. Volgens Ilene het sy maag onmiddellik begin swel en was dit duidelik dat hy inwendige beserings opgedoen het. Geordie, toe 12 jaar oud, is onder teen die bak van die bakkie vasgedruk. Albei haar heupe is uit hul potjies geruk en haar bene was ʼn skrikwekkende pers kleur, het Ilene vertel.

Soozi het egter die ergste seergekry. “Sy was heeltemal onder die voertuig in gefrommel. Ons het gedink sy is dood, daar was niks van haar oor nie. Sy het byna onmiddellik in ʼn koma geraak,” het Ilene gesê. Die groep het ʼn domkrag gebruik om die bakkie te lig en vir Soozi en Geordi uit te trek. Soozi se seun het in ʼn bakkie gespring en by ʼn berg opgery in ʼn poging om ʼn selfoonsein te kry en ʼn ambulans te ontbied.

ʼn Ambulans het Soozi na ʼn hospitaal gehaas, terwyl Ilene en haar man self met hul kinders in hul motor hospitaal toe gejaag het.

By die hospitaal moes Geordie ʼn noodoperasie kry om haar heupe te herstel en te kyk of daar enige aar- of senuweeskade is. Wonderbaarlik was slegs haar ligamente en spiere in haar bobene geskeur en het sy, ná tien dae in traksie, sonder enige langtermyn-skade van die nagmerrie-ervaring aangesterk. Robert se lewer was gebars en hy het erge interne bloeding opgedoen, maar ná ʼn lang pad van herstel, lei hy ook vandag ʼn normale lewe sonder komplikasies.

Soozi was egter nie so gelukkig nie. Haar ruggraat is morsaf gebreek en dit was onmiddellik vir die dokters duidelik dat sy nooit weer sou kon loop nie, het Ilene gesê. Elkeen van haar ribbes was gebreek en haar longe was heeltemal stukkend gesteek deur die gebreekte stukke ribbebene. Haar blad is heeltemal vergruis en sy het massiewe beserings aan haar kop opgedoen.

Soozi Dinnie in een van die moderne rolstoele wat sy nodig het. Agter haar staan verteenwoordigers van Ottobock wat die rolstoele vervaardig. Foto: Facebook

Soozi Dinnie in een van die moderne rolstoele wat sy nodig het. Agter haar staan verteenwoordigers van Ottobock wat die rolstoele vervaardig. Foto: Facebook

“Soozi het minder as ʼn 1%-kans gehad om die ongeluk te oorleef. Sy was ses weke lank in ʼn koma en dit was elke dag ʼn bittere geveg om haar lewe. Sy is egter wonder bo wonder deurgehaal en kan vandag steeds by haar man en kinders wees. Dit wys net hoe God se hand oor alles is en hoe Hy dit volgens sy wil bestuur, want sy was ʼn mediese wonderwerk.”

Volgens Ilene is Soozi se gehalte van lewe sedert die ongeluk baie swak. Sy is heeltemal verlam van haar bors af ondertoe en het ook beperkte gebruik van haar arms weens uitgebreide senuweeskade. Boonop het haar longe soveel skade opgedoen dat sy steeds sukkel om asem te haal. “By tye hou sy sommer heeltemal op asemhaal en dan moet haar man en kinders met haar hospitaal toe jaag sodat hulle haar weer kan bybring,” het Ilene gesê.

“Sy sal nooit weer kan werk nie omdat die risiko vir infeksie vir haar net te hoog is om in ʼn hospitaal te wees. Sy ervaar konstante pyn en kan bitter min vir haarself doen.”

Volgens Ilene wil Soozi se vriende en familie graag vir haar ʼn tegnologies gevorderde rolstoel koop wat die gehalte van haar lewe aansienlik sal verbeter. Die spesifieke rolstoel wat sy benodig, sal haar help om beter asem te haal, pynlike spierspasmas verminder, die drukking op haar ruggraat verlig, haar bloedsirkulasie verbeter en druksere verminder.

Die rolstoel is natuurlik geweldig duur en buite Soozi en haar gesin se finansiële bereik, het Ilene gesê. “ʼn Fonds is gestig om Soozi te help sodat ons hierdie rolstoel vir haar kan koop. Sy verdien nie om haar lewe in konstante pyn te leef nie. Hierdie vrou het haar lewe daaraan gewy het om ander te versorg en gesond te maak. Haar onstuitbare gees en gewilligheid om altyd van haarself vir ander te gee, is ʼn ongelooflike inspirasie. Die liefde en lig wat Soozi aan die wêreld gee, maak dat ek ʼn beter mens wil word en daarom verdien sy elke bietjie hulp wat na haar kant toe kom. Sy is ʼn wonderwerk.”

Meer besonderhede oor Soozi, die rolstoel wat sy benodig en hoe om ʼn bydrae tot die fonds te maak, is op die Facebook-blad Help Soozi get a wheelchair beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Liza ·

‘n Ongeluk gebeur so vinnig en jou lewe kan verander in ‘n enkele sekonde…. Baie sterkte, hoop jy word gou gehelp.

Gesiggie ·

Wat n hartseer verhaal… ek kan net dink hoe die bestuurder van die bakkie moes voel… n ongeluk het gebeur, en Soozi se lewe is nou omgekeer… Die vrou het baie wildskrag… en God het haar nog n kans in die lewe gegin… en ook gesorg dat jou seun mooi aansterk… Jacaranda.. Good Morning Angels… kry die vrou by jul uit, sodat jul ook haar wense kan bewaarheid… sodat sy ook gemaklik kan wees… Soozi hou aan veg, jy is n inspirasie vir baie ander.. mag al jou drome waar word…hoop om weer n opvolg van die storie te lees…

Bolander ·

Soozi, my gebed is dat jy wel gehelp sal word en ek hoop en vertrou dat dit met jou beter sal gaan.

M A ·

Ek weet van duur rolstoele en hysers wat mens desnoods moet koop. Niemand help nie, veral nie as die persoon weens n siekte en nie n ongeluk gestremd is nie. My ondervinding is dat jy maar self moet opsnork vir sulke dinge en lank nog na die persoon se dood moet afbetaal daaraan. Ek hoop Soozi se verhaal het n gelukkige einde.

M A ·

En moet ook nie dink n mens kan tweedehandse rolstoele, ens, verkoop kry nie. Mense verwag dat jy dit moet skenk want hulle kry dan so swaar. Asof jy dit verniet gekry het. Ek weet daar is mense wat spesiale toerusting maak teen n breukdeel van die prys van ingevoerde goed. Miskien lees een van hulle hier.

wynand ·

Niemand is te blameer nie.Dit was n ongeluk. Lees die berig weer Cozican.Jy het dit duidelik nie verstaan nie.

Cozican ·

En jy glo dit?
Die “ongeluk” kon beslis vermy gewees het. Waar vermorsel jy 3 mense in tru rat by die rivier en verskoon dit as ‘n ongeluk. Dolus…

Boerin ·

Ek het nie facebook….hoe kan ek die besonderhede kry om te help?

mt ·

Stuur vir my n mail dan stuur ek vir jou inligting. Soozi en haar familie bly in ons estate. Dit was n bitter hartseer freak omgeluk en sy is so n ongelooflike mens

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.