Tragedie tydens hengeluitstappie: Liggaam spoel twee weke later uit

Hendro Schutte en sy vrou, Yolandie. Foto: Facebook

Hendro Schutte en sy vrou, Yolandie. Foto: Facebook

Die liggaam van Hendro Schutte (29), het Sondagoggend in Barberspan naby Delareyville in Noordwes uitgespoel nadat hy op 11 Julie vermoedelik saam met sy oom verdrink het.

Maroela Media het vroeër berig Hendro en sy oom, Koos Venter (56), het die dag met ʼn boot in Barberspan visgevang. Daar is alarm gemaak toe die mans nie later teruggekeer het nie.

Venter se lyk is die volgende oggend gevind waar dit by ʼn monding uitgespoel het, maar daar was egter geen teken van Hendro nie.

ʼn Omvattende soektog is van stapel gestuur om sy liggaam te vind.

Hans Schutte, Hendro se pa, het Sondag aan Maroela Media gesê hulle is dankbaar dat sy liggaam gevind is. “Nou het mens afsluiting. Ons het iets om na terug te gaan,” het hy gesê. “Die polisie het so baie opofferings gemaak, en aanhou bly soek, al was hul eie families by die huis.” Hans het gesê hy kon gister hoor die polisiebeamptes raak ook moedeloos om só tevergeefs te bly soek.

Hy het gesê die familie wil graag die polisieduikers bedank vir alles wat hulle gedoen het. “Dit was ook nie net lede van die gemeenskap wat help soek het nie,” het Hans bygevoeg. Lede van die gemeenskap van omliggende dorpe soos Ottosdal, Sannieshof en Delareyville het ook kom help. Een persoon het glo daagliks die byna 4 km om die pan gestap om te kyk of die liggaam nie dalk uitgespoel het nie.

Die gesin was vanoggend in die kerk en net ná die erediens het Hans die oproep gekry dat Hendro se liggaam gevind is.

Die hoof van die parkeraad was glo ook op die toneel om sy meegevoel met die familie te betuig.

Hendro se broer, Jaco Schutte (32), het vroeër aan Maroela Media gesê hulle weet glad nie wat gebeur het nie. Die boot waarmee hulle visgevang het, is die Saterdagaand gevind, met net een punt wat bo die water uitgesteek het.

Hendro is agt maande gelede getroud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gerhard Kleijn ·

Tragiese storie. Net ‘n goedbedoelde wenk aan Suné van Heerden en die sub-redakteurs by Maroela.: “Maar” en “egter nie” het in dié konteks dieselfde betekenis en dit is ‘n lelike taalgogga as dit saam gebruik word.
Dieselfde geld “aanhou en “bly.”

Piet ·

Dis baie tragies. Simpatie met die families. Dank aan die omgewing se mense wie ook hulp verleen het. Ek wonder net hoekom dra niemand reddingsbaadjies nie , uiters noodsaaklik op n boot want n ongeluk gebeur skielik en die koue water veroorsaak skoktoestand. Omtrent n maand gelede het presies dieselfde gebeur met twee Koppies inwoners op die Koppiesdam. So iets is baie tragies met gesinne wat agter gelaat word. Ek wens ander vissermanne en almal wie op bootjies gaan wil asseblief die belangrike veiligheids maatreels volg , hul tyd geniet en veilig tuis kom. . . Dan braai en kuier.

Ans ·

Ek stem saam. Reddingsbaadjies is wed soos n sitplekgordel in jou motor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.