‘Tragiese Coligny-ongeluk word vir politieke redes misbruik’

Foto: Verskaf.

ʼn Tragiese ongeluk wat vir politieke redes misbruik word. Só het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gesê nadat hy Woensdag saam met AfriForum en Helpende Hand ʼn noodbesoek aan die dorp Coligny gebring het.

Hulle het die dorp besoek om die feite rakende die situasie te bekom, die dorp se buurtwagte te ondersteun en, waar nodig, maatskaplike hulp aan die gemeenskap te verleen.

Volgens Buys het die besoek aan die lig gebring dat ʼn gespanne politieke atmosfeer al ʼn geruime tyd tussen ANC-lede en die verkose burgemeester, Daniel Buthelezi, in Coligny heers.

“Die gemeenskap is oortuig dat alles daarop dui dat die dood van die 16-jarige Matlhomola Jonas Mosweu, wat dood is toe hy na bewering van ʼn boer se bewegende bakkie afgespring het, ʼn tragiese ongeluk was.”

Buys meen dié ongeluk word intussen vir politieke agendas misbruik deur mense wat nie in die dorp woon nie en met busse aangery word. “Dít het misdaad en plundering tot gevolg gehad. ʼn Swaar polisieteenwoordigheid is in die dorp ontplooi en dit was gister duidelik dat die SAPD die situasie wel in bedwang het. ʼn Gebeurlikheidsplan is ingestel indien verdere opstand ná die hofuitspraak voortduur,” het Buys gesê.

In hierdie stadium voorkom die polisie en die gemeenskap toegang van eksterne moeilikheidmakers wat die situasie wil aanstook.

Volgens Coligny se sakelui het daar oor die jare nog altyd ʼn gesonde rasseverhouding in die gemeenskap geheers en hierdie situasie word uit verband geruk deur die misbruik van sosiale media en die verspreiding van vals gerugte oor die gebeure.

Buys het gesê dit is merkwaardig om te sien hoe die gemeenskap van Coligny steeds saamstaan en mekaar help. “Dit nadat groot skade aangerig is aan privaat wonings, besighede in die informele nedersetting wat hoofsaaklik deur buitelanders besit word en winkels in die dorp.”

Ná talle gesprekke wat met lede in die gemeenskap gevoer is, is die oorheersende gevoel wat na vore kom dat die twee mans onskuldig is en dat die voorval ʼn ongeluk was.

“Die reg moet sy volle gang gaan en lede van die publiek moet hulle daarvan weerhou om self landdros te speel deur die mans in die media skuldig te bevind. Enigiemand wat ʼn moord pleeg, hetsy wit teenoor swart of swart teenoor wit, verdien om met die volle mag van die reg te doen te kry. Ons is egter van mening dat hierdie voorval ’n voorbeeld van dubbele standaarde is omdat die twee mans wat daarby betrokke is Afrikanermans is,” het Buys gesê.

Solidariteit Helpende Hand se vrywilligertak in Coligny staan tans verskeie Afrikaanse gesinne by wat deur die onlangse geweldpleging in ʼn krisis gedompel is. Hulp en bystand word verleen aan inwoners wat kos, klere en ander hulp benodig. Die Coligny-tak van Helpende Hand ontvang en koördineer steeds hulp in die vorm van lewensmiddele en meubels vir twee gesinne wat hul huise verloor het. Solidariteit Helpende Hand het Donderdag nóg R20 000 vir noodverligting geskenk en onderneem om verdere bystand te verleen waar nodig.

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, staan ook buurtwagte by en het onderneem om hulle te ondersteun deur middel van die nodige opleiding en toerusting. AfriForum beplan ook om die Coligny-voorval as ʼn inset vir sy nasionale veiligheidstrategie te gebruik. Hierdie strategie word Saterdag 6 Mei, tydens AfriForum en die Solidariteit Beweging se veiligheidsberaad, bekendgemaak.

Besoek gerus www.veiligheidsberaad.co.za vir meer inligting. “Enige dorp wat in so ʼn ongewenste situasie gedompel word, kan veilig slaap en ongedeerd daarvan afkom as hulle georganiseerd is, behoorlik opgelei word, oor voldoende stelsels beskik en daar doeltreffend met mekaar gekommunikeer word,” het Buys gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Piet Pompies ·

Politiek is vuilspel, die mense op die grond betaal die prys en die leiers lag agter hulle hande. Dit word nog steeds beweer dat die politieke geweld en aanstigting wat tans plaasvind befonds en gereel word deur die ANC se beeldpoetser wat vanaf London werk. Die geld word na bewering deur die Guptas verskaf.
Dit alles net om die beeld van die ANC onder die mense aan te blaas.

AL ·

Wit monopolie kapitaal moet as haatspraak geklassifiseer word. Dis n opruiende woord wat roekeloos rondgegooi word, selfs onder die swart vakbonde.

Jone ·

Almal het geweet die boere is onskuldig. Ek hoop hulle word vergoed vir alles wat hul aan gedoen is. En die staat moet die dorp se mense vergoed vir al die skade wat die barbare aangerig het.

AL ·

Coligny is maar net ñ spieëlbeeld van SA se politieke leiers wat politiek op voetsoolvlak speel. Politiek is ñ baie gevaarlike speletjie en verwoes mense se lewens. Die wat steel en plunder is nou nog slegter daaraan toe. Die vuil truuks wat hul speel het hul by ons geagte president geleer – diversion tactics .

Kosie ·

Ek wonder of die ouers regtig die arme kind se ouers is? As my kind 10 minute laat is of nie vir aandete opdaag nie is daar moeilikheid…… Maar eers vir n paar dae weg en dan begin soek? Swak man Swak. Die ouers soek nou seker “compensation”. Net so vielik soos die baba’s wat in asdromme gevind word. Het die mense geen selfrespek nie?

m ·

Alles in hierdie land gaan net oor kleur en politiek. Hoe oud is hierdie person nou eintlik want hy was nou al 12 en toe 16 en nou 17 of is die ouderdom ook misbruik.

Arie ·

Ek het geweet politiek gaan intree en is bly solidariteit gryp in

FM ·

Mense moet ASB Afriforum se hande sterk deur aan te sluit. Hoe meer lede, hoe meer mag. Dankie Afriforum, ons support julle!!!!!

Richard ·

Hulle sê die reg moet sy volle gang gaan, maar dar word gesê dit was definitief ‘n ongeluk?

Dat die gebeure polities misbruik word, is definitief. Maar hoe weet hulle dit was definitief ‘n ongeluk?

Sal ook goed wees om te weet of Solidariteit met almal van die gemeenskap gepraat het om uit te vind of daar nog altyd goeie rasseverhoudinge was op Coligny, of slegs met die wit mense? Help mos nie jy hoor net een kant van die saak nie.

Tinktinkie ·

Stem met jou saam Richard. “Die hele geneenskap meen dit was n ongeluk??”…wonder hoe groot was d steekproef mense? Aangetroude (wit) familie van my wie se winkel daar geplunder is, is van mening dat dit nie n ongeluk was nie….een vd boere staan glo as n moeilikheid maker bekend. Glo my ek hoop dit was n ongeluk!

Dereck Le Roux ·

Die dood van ‘n standerd vyf wit seun verlede Desember wat in ‘n oorvol bewegende trein uitgestamp of uitgestoot is geniet nie naastenby dieselfde verpolitisering as die Coligny geval nie en watter ondersteuning het die moeder van daardie seun van politici af gekry en watter reg en geregtigheid was daarvan die polisie en NVG se kant af om die skuldiges te probeer vastrek en te vervolg of geld reg en geregtigheid net I die geval as jou velkleur swart is????

Oom Piet ·

Ek wonder wie is die persoon wat die mense per bus aanry na die dorp . Hou daardie persoon verantwoordelik vir die skade. Die optrede van die mense veroorsaak dat jy hulle glad nie meer vertrou en bereid is om hulle te help nie.

Johan ·

Nou wonder ek: Lichtenburg is nie vêr van Coligny nie, en moeilikheid het die dag vóór Coligny al daar begin? Waaroor het dit dan gegaan. Dis stilletjies onder die mat ingevee terwyl almal op Coligny gekonsentreer het.

vermeende ·

Kan jy nou meer, lees die laaste paragraaf weer, is dit nie n copy van die suidlanders en hulle vrese nie.
Hoe lyk dit vir my dat daar nou na al die jare wakker geskrik is en gesien dat daar uit regse vrese nog n munt geslaan kan word.

Fanie ·

Solidariteit en AfriForum het al 10-jaar gelede die eerste Buurtwag gestig. Ek was daar. Hulle word nie gedryf deur vrese, angsdrome en ‘visioene’ nie, maar deur feite en werklikhede.

Sputnik ·

Baie goed gestel, Fanie. Ek verstaan nie waar “vermeende” die vrese en die geleentheid om munt daaruit te slaan sien nie?

Johan ·

Dis net baie snaaks dat n paar aande terug op SABC 2 nuus daar n berig is van die man wat n 4 jarige seun gedood en geeet het. En by daardie hofsaak was niks betogings of plundery in die omgewing nie. En dit direk na die berig van Coligny. Vanaand weer 3 mans wat drank gesteel het en deur die eienaar n gifdrankie laat drink het, een is dood, maar geen opstand of plundery nie. Dit lyk of dit gemeenskaps aanvaarbaar is as swart mense mekaar dood maak?

SARIE VAN HEERDEN ·

Kosie, dis niks dat die ouers nie die kind gemis het en gedink het hy het gaan kuier nie. Maar wat van die skoolhoof wat nie eens geweet het die kind is in sy skool nie en al wat hul gehad het was sy naam wat hul op een van sy tekkies gekry het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.