Tragiese einde ná vrou vyf maande terug raaiselagtig verdwyn

Lorraine Bothma.

Lorraine Bothma.

Die hoofstuk van ʼn vyf maande lange soektog na ʼn vermiste vrou van Amanzimtoti in KwaZulu-Natal kan uiteindelik afgesluit word. Hoewel dit nie ʼn gelukkige einde het nie, kan Lorraine Bothma (45) se familie uiteindelik berusting vind. Hulle het die afgelope week verneem sy en haar vermeende moordenaar is dood.

Brad Nathanson, ʼn private speurder met meer as 35 jaar ondervinding, se spesialisdienste is deur Lorraine se gesin ingeroep nadat sy op 29 Maart vir die laaste keer lewend gesien is.

“As dit nie vir Brad was nie, sou ons beslis nie geweet het wat met my suster gebeur het nie. Sy leidrade en druk op die polisie het bygedra tot alles wat ons tans weet,” het Garth Bothma, Lorraine se broer, Donderdag aan Maroela Media gesê.

Lorraine was enkellopend en het in ʼn woonstel in Amanzimtoti gewoon en by ʼn plek gewerk wat naamborde vervaardig. “Sy was hardwerkend en het ʼn verskriklike drif vir die lewe gehad. Sy was mal daaroor om tyd saam met haar vriende deur te bring en te kuier,” het Garth sy suster beskryf.

Lorraine was die Sondag wat sy vermis geraak het oudergewoonte by ’n plaaslike kuierplek, Ollie’s Pub and Grill. Sy is later daar weg saam met haar vermeende moordenaar, Zama Mkhize (32), ʼn deeltydse werker by dié kuierplek wat sy daar ontmoet het.

Vandaar is die twee na die Bela Vista-kuierplek in Warner Beach waar Lorraine vir die laaste keer lewend gesien is.

Garth het ʼn vermiste persone-saak by die polisie aanhangig gemaak toe sy suster die volgende dag nie vir werk opgedaag het nie. Haar motor, ʼn oranje Kia Picanto, was ook skoonveld.

Nathanson het Donderdag aan Maroela Media gesê Mkhize was die eerste persoon wat hy ondervra het nadat die gesin by hom om hulp kom aanklop het met die hoop om haar vinniger op te spoor.

“Ek het hom die Goeie Vrydag ondervra en kon dadelik uit sy optrede agterkom dat hy haar vermoor het,” het Nathanson gesê.

“Hy was welbesproke, intelligent en het selfs ʼn onderwysdiploma gehad, tog het hy nooit die onderwys betree nie en los werkies, onder meer by Ollie’s, verrig. Hy het gesê Lorraine het hom by sy blyplek, ʼn bediendekwartier by ʼn woonstelblok, gaan aflaai en het teruggekeer Bela Vista toe. Hy het agt weke lank by dié weergawe van sy storie gebly en ek het hom drie keer ondervra.”

Nathanson kon ʼn paar weke ná Lorraine se verdwyning uiteindelik toegang tot haar en Mkhize se selfooninligting kry en kon deur die inligting te vergelyk sien die fone was saam na Himeville. ʼn Foto van haar voertuig wat deur ʼn padkamera geneem is, het ook bewys dat haar voertuig in die rigting van Himeville gery het. “Eers nadat hy met die nuwe inligting gekonfronteer is, het hy sy weergawe verander en die druk begin voel. Hy het gesê Lorraine wou haar lewe ‘herontwerp’ en hy het haar Himeville toe geneem.”

Die polisie het intussen druk op die verdagte gesit en hy het hom kort daarna uit die voete gemaak en na sy tuisdorp, Bulwer, nie te ver van Himeville af nie, gevlug. Daar het hy op 8 Augustus gesterf nadat hy vermoedelik deur sy 30-jarige broer met ’n skerp voorwerp doodgesteek is. Hy was glo besope en die twee was in ʼn bakleiery betrokke oor hul pa se trekker.

Nathanson het intussen aanhoudend langs Amanzimtoti se kuslyn met behulp van die polisie se honde-eenheid, wat spesialiseer om lyke uit te snuffel, gesoek.

“Die deurbraak het sowat twee weke gelede tydens só ʼn soektog gekom. Een van die beamptes het vir my gesê die liggaam van ʼn wit vrou is op 4 April op ʼn ashoop in Pietermaritzburg gevind en hy was daar op die toneel. Dit is toe wat een en een bymekaar gesit is.”

Die liggaam wat op die ashoop gevind is, is intussen as ʼn onbekende vrou begrawe en moes opgegrawe word. Die erg ontbinde liggaam kon slegs met DNS toetse bevestig word as Lorraine s’n en die uitslag van dié toetse is verlede Donderdag bekend gemaak. Die polisie vermoed sy is met ʼn skerp voorwerp in Mkize se blyplek doodgesteek aangesien daar bewyse van bloed daar gekry is. Haar liggaam is egter te erg ontbind om presies te bepaal wat tot haar dood gelei het.

“Dit is ʼn bittersoet oorwinning. Ek is bly om te weet die man loop nie meer tussen ander mense rond nie. Ek is al lank in die bedryf en hy is regtig een van die boosste mense wat ek al teëgekom het. Ek is seker Lorraine was nie sy eerste slagoffer nie, of as sy was, sou sy nie die enigste gewees het nie.”

Die polisie ondersoek of Mkize ʼn medepligtige gehad het. Sou daar een wees, sal dié ook van haar moord aangekla word.

Buiten haar broer, laat Lorraine haar ma, Ursula, en haar suster, Michelle Young, agter. Haar pa, Michael, is in Julie vanjaar oorlede terwyl almal nog verwoed na haar gesoek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Pierre Celliers ·

Sy was 45 jaar oud, volwasse genoeg om te weet waarvoor sy haarself inlaat!
Ek is jammer dit het gebeur, maar, wat het sy verwag? Die kanse dat so-iets sou
gebeur is 98%!

candice ·

Stem… maar meer soos 99.99% Genugtig! Wat het sy gedink?

Peet Schabort ·

Weer ‘n privaatspeurder wat die polisie se werk moes doen. Veels geluk met knap speurwerk Brad Nathanson.

Bleek Sannie ·

Vermoor en op die ashoop gegooi. Wys jou net wat in sommige skepsels se gedagtes is en wat hulle beplan terwyl mense soos die arme vrou dink dis hulle maatjies met wie hulle lag en gesels. Haar eerste fout was om haar eensame ure in ‘n kroeg te verwyl. Die dood het haar waarskynlik lank dopgehou en sy was salig onbewus daarvan, vriende met almal en lekker jollie. Arme mens. Nou weet sy van beter.

Mnr Badenhorst ·

Defnetief ‘n bittersoet verhaal. Puik verslaggewing Phillip Bruwer.

Phillip ·

Baie dankie vir die kompliment Mnr Badenhorst, ek waardeer dit opreg.

Vriendelike groete

Phillip

Janine N ·

Genade…Bela Vista is seker een van die skurfste hole in Warner Beach! :/

Uys ·

Vermiste blanke vrou in KZN. Onbekende blanke vrou op ashoop gevind en as onbekend begrawe. Swak swak van SAPD hul kon nie eers een en een by mekaar sit nie.

pop ·

Ek kan nie se wat ek wil nie want dit sal nie geplaas word nie. Al wat ek kan se is, laat dit n les wees vir ander vrouens

Joan Labuschagne ·

Jammer vir haar familie wat agterbly maar sy het toe daarin geslaag om haar lewe te herontwerp en hulle s’n omver te gooi.

Christo Visagie ·

Vir wat neuk ‘n blanke vrou met ‘n swartman,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,

CB ·

Ek verstaan presies wat jle bedoel met blanke vrou en swart man… maar wat maak daardie swart man anders as Oscar? Sy wit vel of sy geld? Dit tref my nou net!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.