Tragiese einde vir gesinsvakansie toe pa sterf

Argieffoto

ʼn Man is dood en sy drie kinders na ʼn hospitaal gehaas nadat hul boot op die Swartvlei-meer in die Suid-Kaap omgeslaan het.

Craig Lambinon, woordvoerder van die nasionale seereddingsinstituut (NSRI), sê die gesin was besig om vis te vang toe die ongeluk gebeur het. Die NSRI se Wildernis-bemanning is Vrydag omstreeks 21:45 na Swartvlei ontbied, ʼn meer tussen Sedgefield en Knysna.

Die pa en sy twee dogters, onderskeidelik 7 en 16 jaar oud, en sy vyfjarige seuntjie, was glo met vakansie in George en het by vriende by Pine Lake Marina gekuier. Die gesin het omstreeks 16:00 met ʼn boot op die meer gegaan om vis te vang.

“Toe hulle teen donker nog nie teruggekeer het nie, het die man se vrou en vriende onraad vermoed en hulp ontbied. Inwoners het op jetski’s na die gesin gaan soek,” sê Lambinon.

Volgens Lambinon het inwoners omstreeks 20:30 op die drie kinders afgekom waar hulle besig was om na die oewer te swem. Slegs die seuntjie het ʼn lewensreddingsbaadjie aangehad, hoewel al drie kinders glo lewensreddingsbaadjies gegee is toe hulle op die boot geklim het. Die kinders is na die oewer gebring.

“Verpleegsters wat glo met vakansie by die oord was, het die kinders vir hipotermie en skok behandel. Die kinders het gesê die boot het omgeslaan en hul pa het uit sig verdwyn. Hulle het daarna na die kant begin swem,” het hy gesê.

Inwoners op jetski’s het voortgegaan om na die vermiste pa te soek en omstreeks 21:45 is die NSRI ontbied. Die NSRI het daarna twee reddingsbote die water ingestuur, terwyl die polisie ook hul duikeenheid en ʼn reddingsboot ontplooi het. Die Wes-Kaapse nooddienste, provinsiale reddingsdienste, plaaslike brand-en-reddingsdienste en buurtwag het ook met die soektog gehelp.

ʼn Uitgebreide soektog in die water en al langs die oewer het gevolg, terwyl die drie kinders deur paramedici na ʼn hospitaal geneem is. “Saterdag in die vroeë oggendure is die man se liggaam gevind, uit die water gebring en deur die forensiese patologiedienste weggeneem,” sê Lambinon.

“Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek. Die klein boot en die oorblywende lewensreddingsbaadjies is nog nie opgespoor nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.