Trane by hof waar Chevonne se moordenaars gevonnis word

Chevonne Rusch, Stefan van Niekerk, Chevonne Rusch, kindermishandeling, moord, verkragting, hof

Rochelle Botha (24) Maandag in die hooggeregshof in Johannesburg. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

“Jy is ʼn monster. Jy huil nou net vir jouself.”

Só is die 24-jarige Rochelle Botha, ma van die vermoorde Chevonne Rusch (2), Maandag in die hooggeregshof in Johannesburg uitgejou.

Botha het, terwyl sy swaar gestraf is, in die hof in trane uitgebars. Terwyl die res van haar vonnis voorgelees is, het sy snikkend met haar hande in haar gesig gaan sit. ʼn Polisievrou het later vir haar ʼn stuk toiletpapier aangegee.

Botha se gewese verloofde, Stefan van Niekerk (37), is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die verwaarlosing, mishandeling, verkragting en uiteindelik die moord op Chevonne.

Van Niekerk, in voetboeie, het nie ʼn woord gerep nie en vir die duur van die vonnisoplegging na die vloer gestaar. Botha het by tye ontsteld gelyk en haar hande emosioneel in die lug gegooi terwyl sy met mense in die openbare galery van die hof gepraat het.

Chevonne Rusch, Stefan van Niekerk, Chevonne Rusch, kindermishandeling, moord, verkragting, hof

Na vonnisverrigtinge het Rochelle Botha, ma van die vermoorde Chevonne Rusch, omgedraai om met mense in die openbare gallery te praat. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Die vonnisverrigtinge is ook bygewoon deur lede van Women and Men Against Child Abuse en Action Society.

Chevonne Rusch (2). (Foto: Facebook)

Maroela Media het voorheen berig Van Niekerk het Chevonne in Mei 2022 na die Wannenburg-kliniek in Germiston gebring, waar sy later dood verklaar is. Sy het ten tye van haar dood erge trauma aan haar skedel gehad en altesame 49 wonde en kneusplekke aan haar lyf.

Botha en Van Niekerk is verlede jaar in November skuldig bevind op aanklagte van moord, kindermishandeling, poging tot moord, verkragting en mensehandel.

Die hof het Maandag bevind nóg Botha nóg Van Niekerk het enige ware berou vir hul dade getoon.

Die hof het bevind Van Niekerk het Chevonne en haar sibbes gebruik as voorwerpe waarmee hy gemaak het soos hy wou. Hy het hulle nie beskou as individue uit eie reg nie, en het, as een van hul primêre versorgers, versuim om hulle te versorg en te beskerm.

Die hof het voorts bevind Botha is ʼn manipulerende individu wat willens en wetens gehelp het om die mishandeling van haar kind te verdoesel.

“Moeders word dikwels gevier vir hul liefde en sorg, maar dié ma was selfgesentreerd en het die geskreeu van haar kinders geïgnoreer en verkies om aan haar naels aandag te gee,” het die hof gesê.

“Dit is duidelik hulle het dwelms bo hul ouerlike pligte en alles andersins gekies.”

ChatherineRheeder, Chevonne se tannie, het buite die hof gesê sy is teleurgesteld met die vonnis wat opgelê is.

“Ons is nie baie gelukkig met die vonnis nie, hulle moet die doodsvonnis terugbring.”

Sy het ʼn rukkie stilgebly voor sy hartseer bygevoeg het: “Ons is bitter teleurgesteld in die stelsel. Die stelsel het ons vandag in die steek gelaat.”

Die drukgroep Action Society het in ʼn verklaring die vonnis verwelkom. “Hierdie komende Sondag sal die tweejaarherdenking van haar dood wees,” het die groep in ʼn verklaring gesê.

“Ons hoop dat die twee monsters nooit weer daglig sal sien nie.”

Chevonne Rusch, Stefan van Niekerk, Chevonne Rusch, kindermishandeling, moord, verkragting, hof

Stefan van Niekerk, wat skuldig bevind is aan die gruwelike dood van die peuter, Chevonne Rusch (2), het net afgestaar na die vloer. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Van Niekerk is op aanklagte van verkragting en moord lewenslange gevangenisstraf opgelê. Hy is tot ʼn verdere 10 jaar gevonnis vir die seksuele aanranding op Chevonne, 10 jaar vir elk van die twee aanklagte van kindermishandeling, en 15 jaar vir poging tot moord.

Botha, omdat sy niks gedoen het om die dade teen Chevonne en haar sibbes te verhoed nie, is tot 25 jaar tronkstraf gevonnis vir Chevonne se verkragting, vyf jaar vir die seksuele aanranding, 20 jaar vir die kindermishandeling, 10 jaar vir poging tot moord en 25 jaar vir moord.

Die hof het gelas dat albei se vonnisse gelyklopend uitgedien moet word.

Chevonne Rusch, Stefan van Niekerk, Chevonne Rusch, kindermishandeling, moord, verkragting, hof

Rochelle Botha hou snikkend haar gesig vas ná sy tot lewenslange tronkstraf gevonnis is in die hooggeregshof in Johannesburg. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Botha het dadelik aangedui dat sy wil appelleer teen haar skuldigbevinding. Adv. Anton Lerm, haar regsverteenwoordiger, het ʼn aansoek om verlof tot appèl ingedien by die hof. Hulle voer in dié aansoek aan die hooggeregshof het ʼn fout begaan deur haar skuldig te bevind.

“Hierdie hof het ʼn fout begaan deur nie haar verweer in ag te neem nie. Ons is van mening dat ʼn ander hof wel na haar verweer sal luister en haar uiteindelik onskuldig sal bevind,” het Lerm betoog.

Riana Williams, staatsaanklaer, het die aansoek teengestaan en gesê Botha het tydens haar verhoor verskeie weergawes voorgehou. “Die hof het breedvoerig en aandagtig na elkeen geluister voor dit verwerp is as leuens. Die agbare hof het vandag in vonnisoplegging weer na haar leuens verwys en genoem dat sy baie stories gehad het oor hoekom sy niks gedoen het om haar kinders te beskerm nie,” het Williams betoog.

Uitspraak in dié aansoek is tot volgende maand voorbehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

kragaap ·

Tronkstraf is te lig. Daar is strawwe wat in die middeleeue gebruik is wat dalk van toepassing kon wees……

Nicky ·

Vonnise wat gelyklopende is is n skande want sy kom weer uit, die doodstraf is weg so hoekom nie die vonnise apart uitdien dan sal almal weet ek gaan 50 jaar plus uit dien

Anel ·

Wat is die doel dan daarvan om soveel jaar vir die misdaad en soveel vir daardie een op te lê as dit op die ou einde saam uit gefien word? Pleks dit aaneenlopend is!!! Dan is dot bietjie getegtigheid!

Danie ·

Wanneer die wat geen verantwoordelikheid vir enige iets wil neem nie, hartseer is dat hulle dit nou dit moet neem en die gevolge daarvan moet dra. Dit, terwyl hulle nie hartseer is oor die skade wat veroorsaak is nie.

Melanie ·

vlieg hoog saam die engele klein lyfie… daai monsters bestaan nie meer vir jou nie.

Ranie ·

Hulle hoort voor ‘n vuurpeleton. Daar is nie plek vir hulle in die samelewing nie.

George ·

Hoekom so lig op haar gaan? Albei verdien die ergste erg in die tronk.

Vinny ·

Ek het gistraand ‘n dokumenter op tv gekyk oor hulle, en regtig as ek petrol oor hulle kon uitgooi en hulle verbrand, sou ek…Daai klein dogtertjie is verkrag vir geld, verniel en doodgeslaan, ek kon nie ophou huil toe ek dit gekyk het nie sy was so pragtige klein poppie, enige mens sou vir haar ‘n liefdevolle huis gegee het.

George ·

@Vinny, ek weet nie van die docu nie, maar van wat ek gelees het, verdien die twee die ergste wat mens kan gebeur.

Barry ·

Stuur sommer haar prokureur saam met haar tronk toe. Ek hoop die nodige gebeur daar binne met Van Niekerk…

Ilze ·

Van Niekerk, ek bid jy kry elke dag dieselfde en meer wat jy aan daardie arme kind gedoen het.

Di ·

SA se wette is n n grap! DAAROM word daar daagliks soveel moorde gepleeg. Moordenaars se straf is HOPELOOS te lagwekkend

Joan ·

Gee hulle vir ons, ons sal dieselfde aan hulle doen wat hulle aan daardie ou klein englegesiggie gedoen het, plus, totdat hulle sterf . . . . of is dit eerder vrek . . . . .

Amelia ·

Kon die bure nie ook hoor daar is iets verkeerd nie Wat ook soms n probleem is sake word aangemeld kinders word vir n rukkie weg gevat en later weer in ouers se sorg terug geplaas Ons as bure van sulke kinders het ook n verantwoordelikheid miskien moet daar n plek wees wat kinders oor die wereld beskerm vir kinders wat mishandel word deur monsters en boelies wat hul kinders slaan hare trek of enige iets want sulke “ouers” hou net kind uit skool tot merke weg is dan daar mos nie mishandeling nie

Gaitsigubib ·

Die haat is erg, maar ek lees nerens dat daar vergelding was vir hierdie kleinding se dood nie. Dis maar net n gepraat-praat. Ek troos my daaraan dat die tronk wel die plek is vir hulle. In die lewe hierna sal hul verseker ook moet verduidelik.

Bolandse Nooi ·

@Amelia, dit is danksy die bure dat Chevonne toe wel (weliswaar te laat!!!) by ‘n kliniek uitgekom het. Daar was al glo ‘n gat in die tuin gegrawe ……… mens kan net jouself indink waarvóór … Gisteraand was dit die onderwerp van Huisgenoot se “Ware Lewensdramas” – die GPF voorsitter vir daardie area het HOEVEEL keer aan die “ma” geleentheid gebied om uit die “mishandelende omstandighede” te kom, maar sy wou nie hulp aanvaar nie.

Nee, om nóú te staan en huil nadat jy TOEGEKYK het hoe jou “boyfriend” jou 2 jarige dogtertjie verkrag en mishandel het, terwyl julle SAAM dwelms misbruik het, is mostert na die maal. Mag daar vir hierdie “ma” en “vrou” geen genade betoon word in die tronk nie – dáár word daar nie sag omgegaan met mense wat kinders seer- of doodmaak nie.

En daardie talle vonnisse wat gelyklopend uitgedien word, is blatante nonsens. Rochelle Botha het 25 jaar gekry – met “goeie gedrag” sal dit beteken dat sy sowat 8 jaar en 3 maande uitdien om die feit dat sy NIKS gedoen het om haar dogtertjie se pyn, lyding en uiteindelike dood – en om te dink daar is werklikwaar nog ‘n regsgeleerde wat in haar onskuld glo!!!

George ·

Ek hoop hulle albei word herhaaldelik verkrag in die tronk.

ES ·

Nou wil sy huil maar wat van haar dogtertjie, vir wie sy ‘n toevlug moes wees en beskerming voor moes bied!

Nee wat, daardie trane flous niemand nie. Sit lekker in die tronk waar julle albei hoort.

Republikein in die Wes Kaap ·

Barry, haar regsverteenwoordiger is ‘n beampte van die hof. Hy doen sy werk. Dis wat die hof van hom vereis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.