Trane loop oor hulp vir kleuterskool-assistent

Martha Lebakeng in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

“Ek dink nie ek het iemand al só dankbaar gesien nie.”

Só vertel die werkgewer van die kleuterskool-assistent wat haar kêrel én been verlede maand weens ’n rooftog in Mamelodi in Pretoria verloor het. Sy kry nou ʼn prostetiese been, wat haar ’n nuwe kans op die lewe bied.

’n Emosionele Martha Lebakeng (40) was Woensdagoggend oorstelp van dankbaarheid toe Jacaranda FM se Good Morning Angels haar die goeie nuus meedeel dat weldoeners haar met ’n prostetiese been gaan toerus sodat sy kan terugkeer na die werk waarvoor sy só lief is.

Meer as tien ouers van die Speel Speel Skool in Wingate Park waar Martha werk, het ná die skietvoorval na Good Morning Angels uitgereik om Martha by te staan.

Fritz Neethling van Meintjies and Neethling Orthopaedics in Pretoria het gevolglik aangebied om ’n prostetiese been ter waarde van sowat R160 000 gratis vir Martha te bou, terwyl ’n anonieme skenker die koste van die onderdele vir die been sal dek.

Annelie Burger, arbeidsterapeut van beroep en ouer by die kleuterskool, het op haar beurt aangebied om Martha vir die volgende 18 tot 24 maande gratis met haar rehabilitasie te help. Die rehabilitasiekoste alleen sou na verwagting tot R80 000 beloop.

Sybrand Bezuidenhout van Goldwagen het intussen onderneem om R25 000 aan Martha se behandeling en rehabilitasie te skenk, terwyl Good Morning Angels nóg R25 000 uit sy fonds sal bydra.

“Ons sien daarna uit dat jy weer saam met die kinders sal kan dans,” het Bezuidenhout vanoggend in ’n stemboodskap aan Martha gesê.

Martha Lebakeng nadat sy Woensdag die goeie nuus meegedeel is. (Foto: Skermskoot van Jacaranda FM se video)

“Dankie Here. Dankie dankie. Dankie almal,” het ’n huilende Martha gesê terwyl sy haar gesig met haar hande bedek het.

Maroela Media het vroeër berig Martha se vriend, Tumi Sekgobela, is op 23 Oktober tydens ’n vermoedelike rooftog in Mamelodi doodgeskiet. Martha is die betrokke dag in albei haar bene geskiet toe sy Tumi te hulp gesnel het en haar linkerbeen is kort daarna noodgedwonge bo die knie geamputeer.

Een van Martha se grootste bekommernisse sedertdien is dat sy haar werk as assistent by die Speel Speel Skool se babaklas gaan kwyt wees weens haar amputasie.

Nicola Maree, skoolhoof van die kleuterskool, het vanoggend aan Maroela Media gesê ’n prostetiese been sal Martha se lewe voorwaar ten goede verander. “Dit gaan haar so baie help. Sy moet heeldag mobile wees by die skool – dán is dit melk, dán is dit kinders aan die slaap maak.

“Martha kan nie ophou dankie sê nie.”

Maree vertel dat die personeel en kindertjies by die kleuterskool Martha vanoggend ná die radio-uitsending by die kleuterskool verwelkom het. Dié geliefde assistent sal egter na verwagting eers volgende jaar weer kan begin werk en verkeer nog in baie pyn.

“Ons sukkel sonder haar en ons wil haar nie vervang nie. Sy is regtig hands on en die kinders verlang na haar,” vertel Maree.

Sy meen die feit dat soveel ouers na Good Morning Angels uitgereik het, getuig daarvan dat Martha geliefd en van onskatbare waarde vir haar skoolgemeenskap is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Misky ·

Wonderlike “feel good” storie en soveel samaritane daar buite wat nog omgee vir ander.

anniekiewiet ·

Ek kry ook ‘n knop in my keel. Wonderlik, mag jy ook die hartseer by alles verwerk met genade en troos van God.

Maroelafonteiner ·

Soveel goedheid herstel weer mens se vertroue in die mensdom…

Mallie ·

Dankie vir mense soos Martha. Daar is baie min van jou en jou soort. Sterkte met die pad voorentoe.

Anel ·

Daar is nog soveel goeie mense in ons land. Net jammer die regering gee nie ook sy bydra nie. Dis altyd die gewone burgers wat ander se swaarkry moet verlig wat direk is agv die regering wat nie na sy burgers kan omsien nie. En dan word ons uitgekryt as rassiste om elke hoek en draai. Laat hierdie vir hulle ‘n voorbeeld wees van menigte hulp wat aan our people gegee word, sonder enige voorwaardes. Om menswaardigheid te hersel.

Swerwer ·

Martha niks gaan ongesiens in die lewe verby nie. Jy verdien hierdie bystand en ondersteuning deur en deur.

Elna ·

Dit is hoe ek Suid-Afrika onthou, nie die wetteloosheid en geweld nie. Hulp waar dit nodig is en vredeliewendheid oor r@sgrense heen. Dankie dat julle my weer hoop gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.