‘Trane’ toe man erge ongeluk oorleef

Die BMW waarmee drie mans in Februarie vanjaar in ’n botsing betrokke was. (Foto: Verskaf)

Toe ʼn jong man van Kriel die motorwrak sien waarin hy en twee ander mans in ʼn ongeluk betrokke was, kon hy amper nie glo hy het die botsing oorleef nie. ʼn Goeie vriend van hom (60) het egter nie die ongeluk oorleef nie en nog ʼn vriend van hom (29) is ernstig beseer.

“Ek het in trane uitgebars toe ek sien hoe die BMW lyk. Dit het my gebreek.”

Dié pa van twee, ʼn meganiese passer, het self erge beserings opgedoen in die gru-botsing wat op 25 Februarie op die N17 tussen Kinross en Trichardt plaasgevind het.

Hy kan maande later steeds nie loop nie, aangesien hy sy pelvis gebreek het. Hy het ook verskeie ander beserings opgedoen. Sy naam is aan Maroela Media bekend, maar word op versoek nie geplaas nie.

Hoewel hy agter die stuur van die BMW was, kan hy nie veel van die ongeluk onthou nie – net dat ʼn “ligte motor” voor hom ingeswaai het.

“Ek en my vennoot (die 60-jarige) het pas vleis wat ons saam bewerk het afgelaai en was op pad Trichardt toe vir nog ʼn stop,” het die jong pa Dinsdag aan Maroela Media gesê.

ʼn Opsporingstelsel het later gewys dat hy ten tyde van die ongeluk sowat 104 km per uur gery het.

Die provinsiale departement vir gemeenskapsveiligheid het vroeër gesê dat die ongeluk omstreeks 08:40 plaasgevind het. ʼn Volkswagen Jetta was ook in die ongeluk betrokke. Die bestuurder en ʼn passasier van dié motor is in die ongeluk dood terwyl ʼn derde insittende ernstig beseer is.

Die BMW waarmee drie mans in Februarie vanjaar in ’n botsing betrokke was. (Foto: Verskaf)

Die pa het verskeie spiere en ligamente in die ongeluk geskeur en sy bekken op vyf plekke gebreek. Hy het ook sy linkerbeen en regterenkel gebreek. Hoewel hy nie in ʼn koma was nie, was hy eers ná 11 dae weer by sy volle positiewe.

“My vrou sê ek het soos ʼn zombie gelyk.

“Ek is net dankbaar ek het dit oorleef vir my vrou en kinders. Ek is ook bly my ander vriend het dit gemaak.”

Hy is wel baie hartseer oor sy 60-jarige passasier se afsterwe.

“Hy was ʼn goeie mens met ʼn goeie hart. Altyd goeie raad gehad en gehelp waar hy kon – al het hy self gesukkel. Hy was baie lief vir sy vrou, kinders en kleinkinders. Hulle het die wêreld vir hom beteken.”

Die pa sê hy moet ook nog vir die volgende vyf jaar sy BMW afbetaal, aangesien hy weens die Covid-19-pandemie sy versekering én sy mediese fonds moes kanselleer.

Hy is gevolglik ná die ongeluk in ʼn provinsiale hospitaal opgeneem, wat hy as ʼn “nagmerrie-ervaring” beskryf.

Daar is glo net verbande om sy gebreekte been en enkel gedraai. Sy huisdokter, Leon Pelser, het later vir hom gips opgesit en doen volgens hom baie moeite om hom te help.

“Ek lê al van 25 Februarie af op my rug en wag vir 17 Mei om te hoor of my bekken geopereer kan word. Ek was drie weke lank in die Witbank-hospitaal waar hulle my glad nie gehelp het nie. My vrou het my laat ontslaan en na die staatshospitaal in Middelburg gevat. My linkerbeen is toe op 30 Maart geopereer.”

Hy sê die hospitaal waar hy aanvanklik opgeneem is, het boonop ʼn gemors gemaak met die kateter wat hulle vir hom ingesit het en dat sy blaas erge skade gely het. “Ek kan glad nie normaal urineer nie.

“Ek hoop dat ek die nodige operasie sal kan ontvang, want ek gaan my werk verloor as ek so lank moet afwesig wees.”

Hy kon Maandag vir 20 minute in ʼn rolstoel sit, maar sê dit is steeds baie seer.

Hy is ook effens skrikkerig om weer agter die stuurwiel van ʼn motor in te skuif.

“Ek dink ek sal bietjie bang wees om weer te bestuur, want ʼn ongeluk gebeur so vinnig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anel ·

Baie sterkte. En dit is dieselfde pad wat almal gaan loop as hierdie NGV ingestel gaan word. Behoede ons!!!

Frans ·

Alhoewel 104 km per uur nie ‘n baie spoed is nie ,is dit die kombinasie van die twee voertuie se spoed en massa wat verantwoordelik is vir die skade en beserings.Hoop hy herstel gou want om 5 jaar te betaal vir ‘n motorwrak is ‘n ontsettende las en bewys dit weer hoe ontwriigtend die Covid pandemie in menselewens is.

Cherokee ·

Indien hy nie skuldig is aan die ongeluk, en die ander voertuig verseker is, kan daar finansiële uitkoms wees.

Brandon ·

Vorige berig het almal. Gese daai bmw het vinnig gery en dis n kyalami baan en en. Mens maak so vinnig opmerkings sonder om aan die families wat betrokke is en deur soveel pyn gaan te dink. Sterkte aan almal betrokke wat nog herstel. Em rus in vrede oom.

Toy ·

Baie sterkte, hoop jy word sommer gou beter,

Die Staatshospitale weet nie of daar hoop is nog om dit weer op ‘n goeie standaard te kry soos jare terug nie.

Ek het self in Staatshospitale gewerk tot 2005, dit het die afgelope 22 jaar verskriklik agteruitgegaan. Dit is regtig tragies.

JohanR ·

Hoe kan jy verhoed om by ‘n staats hospitaal op te eindig na soe ongeluk. Ek weet jy moet seker na die naaste hospitaal gejaag word maar daar eindig jy soos die man waar daar geen eintlike hulp is nie, en sy blaas is ook beskadig. Ek het darem medisies met Discovery soe sal soe gou as moontlik as ek by is of ‘n familie lid by is will oorgeplaas word na ‘n privaat hospitaal op my privaat medies. Se maar in Engels “to many HORROR stories over the years that have come out of state hospitals!”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.