Trane toe polisieman se ‘moordenaars’ in hof verskyn

Kapt. Kenneth Poortman Foto: Kenneth Poortman, Facebook

Kapt. Kenneth Poortman Foto: Kenneth Poortman, Facebook

Ao. Ann Poortman, die vrou van die vermoorde kapt. Kenneth Poortman, het Woensdag in die Pretoria-landdroshof gehuil toe sy van aangesig tot aangesig kom met die vier mans wat aangekla word van die moord op haar man.

Familielede het Poortman vertroos terwyl die beskuldigdes Sipho Alfred Tlou, Thabo Mampa, Themba Mbowane en Steven Meda in die hof ingestap het.

Tlou, Mampa en Mbowane het Woensdag aan die hof gesê dat hulle nie meer om borgtog wil aansoek doen nie. Meda, ʼn Zimbabwiër, het reeds vroeër vandeesmaand sy borgtogaansoek teruggetrek.

Die vier beskuldigdes word deur Butuma Pumela, ʼn regsverteenwoordiger van Legal Aid, verteenwoordig. Hulle staan tereg op aanklagte van moord, ontvoering, roof met verswarende omstandighede en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Die verdagtes word daarvan beskuldig dat hulle in Desember kapt. Poortman (47) se motor in ʼn Pretoriase sakesentrum gekaap het, hom in die bolyf met ʼn skerp voorwerp gesteek het en sy liggaam langs ʼn pad in Mabopane gestort het.

Hulle het glo sy vuurwapen gevat en met sy motor na Winterveld gery waar Tlou, Mampa en Mbowane ure later in hegtenis geneem is. Poortman se motor en vuurwapen is in hul besit gevind.

Ao. Poortman is glo na die toneel geroep om inligting vir die media te bekom. Sy het daar eers uitgevind dat die slagoffer haar man is en het sy liggaam op die toneel waar hy gevind is, uitgeken.

Lees alle vorige berigte oor Kenneth Poortman op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

tamboti ·

Sy vrou na toneel roep vir inligting, ja SAPD jaag ……. aan, ……… rond en smeer toe. Solank die waarheid tog net nie seevier nie is hul happy.
‘n Nuwe era in SA breek aan: die lyn tussen staat en misdaad verdwyn, m.a.w. die regering sien en gebruik misdaad as ‘n bron van inkomste en manier om hul mag te verseker. En die SAPD word as voorste linie gebruik.

DPJ ·

Wat is ‘n persoon se lewe vir SAPD en staat werd as korrepsie kan voorduur?

Kathleen ·

Mense lewer kommentaar wat nie relevant is nie, lees tog die berig voordat kommentaar gelewer word.

tamboti ·

Opregte verskoning Kathleen, Kapt. Poortman was die slagoffer van misdaad en nie die onvermoee of korruptheid van die SAPD nie.
My kommentaar is egter ook oor ander berigte van die SAPD en die Staat in die algemeen oor bg. aangeleenthede. Sal in my spore trap vorentoe.
Ten minste is ek verjeug dat 4 verdagtes vasgetrek is en ek hoop dat die saak behoorlik en effektief ondersoek en verhoor word, en baie sterkte aan sy vrou en familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.