Trane van blydskap toe UV voer skenk

Die UV het omtrent 200 ton voer aan boere geskenk (Foto: Johan Barnard, Verskaf)

Die boere in die Gariepdistrik in die Vrystaat wat verlede maand erge skade op hul plase weens wegholveldbrande opgedoen het, was oorstelp van dankbaarheid toe die Universiteit van die Vrystaat (UV) tonne voer by hulle laat aflewer het.

“Ek wens ek kon die boere se gesigte afneem om hul dankbaarheid te wys. Een boer het begin huil toe ons die voer na hom toe aanry,” vertel Keith Menton, ondervoorsitter van die Boerevereniging in Edenburg.

Voersorghum en smutsvingergras wat op die UV se Paradys-proefplaas gekweek is, is met behulp van boere van die Koppieskraal-boerevereniging, digby Bloemfontein, gesny, gehark en gebaal.

Omtrent 200 ton voere is in 428 bale verwerk en na boere wat deur die brande geraak is, gestuur (Foto: Johan Barnard, Verskaf)

Maroela Media het vroeër berig meer as 67 000 ha weiveld is twee weke gelede in verwoestende brande verwoes en duisende diere het doodgebrand.

Johan Barnard, bestuurder van die Paradys-plaas, sê altesaam 200 ton voer is in 428 bale verwerk en na ongeveer agt verspreidingspunte in die Edenburg-, Tierpoort- en Fauresmith-omgewing gestuur.

Volgens Barnard was daar ʼn surplus van voer op die proefplaas beskikbaar wat nie gebruik sou word nie. Barnard het in samewerking met die UV besluit om dit aan die boere wat deur die brande geraak is, te skenk.

Barnard het Leon Richter, voorsitter van die Koppieskraal-boerevereniging, gekontak en gevra of boere van dié vereniging met hul trekkers en implemente kan help om die voer te sny, hark en baal.

Die UV het die voer met behulp van boere van die Koppieskraal-boerevereniging gesny, gehark en gebaal (Foto: Johan Barnard, Verskaf)

“Die universiteit het die voer gehad, maar nie die nodige toerusting of hande nie. Ek en boere van die vereniging, onder wie Herman Labuschagne en Collin Steyn Jnr., het ingespring en gehelp,” vertel Richter.

Volgens Richter het BKB 400 liter-diesel vir die trekkers en implemente geskenk. Vrystaat Landbou (VL) het gehelp met die vervoer van die bale na die betrokke verspreidingspunte.

Volgens VL is minstens 114 000 ha grond en weiding deur die brande wat op 12 Julie uitgebreek het, vernietig. Dit is ongeveer 3,03% van die Gariepdistrik se totale oppervlakte.

Maroela Media het vroeër berig die brand het naby Koffiefontein en Petrusburg uitgebreek en vandaar, weens ’n sterk noordwestewind van 70 km/h, versprei. Die brand het na onder meer Jacobsdal, Fauresmith en Jagersfontein versprei.

Afsonderlike veldbrande het Maandagmiddag ook by Edenburg ontstaan en tot aan die ander kant van die N1 naby Tierpoort gebrand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Pieter ·

Mooi, positiewe nuus. Bly dat UV die nuus hiermee haal, beter as die Fees Must Fall gemors en brandstigting wat daarmee gepaard gaan by die ander universiteite.

Frank John ·

Dit is ‘n riem onder die hart om te sien hoe ons volk nog omgee vir mekaar.

Sê maar net ·

God seën julle almal. Nog juwele in julle krone daarbó! Xxx

FM ·

baie dankie Maroela Media vir goeie nuus!!!!

Ons Boere Volk staan onder GENADE saam en sal opstaan en binne ons Here se Krag weer ons pragtige land herstel en bewoon vir opkomende geslagte. Mense met murg in hul pype. Baie dankie aan elkeen se aandeel!!!!

Smurf ·

Dit is hoe ons grootgemaak is…help waar jy kan. Tot dat dit weer aan die brand gesteek word , soos die veld , uit pure jaloesie en afguns….

Stoffeltjie ·

Ongelooflike goeie nuus. E kry sommer hoendervleis, want dit is werklik ‘n goeie gebaar.

JohanR ·

Ek dink ‘n boer huil baie, en die slaaplose nagte is ook baie. Dan moet jy nog uitkyk vir die wat jou in jou bed wil martel en doodmaak.

4ntj13 ·

VL se “minstens 114 000 ha” klink nader aan die waarheid as die 67 000 ha wat 1e genoem word in die artikel. Mooiso, UV!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.