Trane vloei toe bendelede gevonnis word

Dewi Walton (27) en Trenton Ambraal (33) in die Port Elizabeth-hooggeregshof (Foto: Raahil Sain, ANA)

Twee mans, wat skuldig bevind is aan ʼn gewelddadige moord, is Woensdag in die Port Elizabeth-hooggeregshof gevonnis tot lewenslange tronkstraf.

Dewi Walton (27) en Trenton Ambraal (33) is vroeër skuldig bevind op die moord van Rushay Cross en op aanklag van poging tot moord op Pregathon Booth, in September verlede jaar in die stad se bendegeteisterde dele.

Bendelede Walton en Ambraal was gewapen toe hulle helder oordag op ʼn missie was om die twee mans, wat lede was van ʼn mededingende bende, te vermoor. Binne ure ná die skietery is Walton en Ambraal opgespoor en in Highfieldweg in hegtenis geneem.

Regter Glenn Goosen het tydens die vonnisoplegging gesê, volgens die getuienis voor die hof, is dit duidelik dat dit nóg ʼn gewelddadige sinnelose moord is in ʼn oorlog tussen twee straatbendes.

Die mans is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord, agt jaar vir die poging tot moord, 15 jaar vir die onwettige besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en 18 maande vir die onwettige besit van ammunisie. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word. Goosen het bevind dat daar doelbewuste poging was om te moor en dat die twee mans met ʼn gesamentlike doel opgetree het.

Goosen het gesê die moord was koelbloedig en gevoelloos, en helder oordag uitgevoer en die mans het geen agting vir die gemeenskap gehad nie. Hy het gesê alhoewel die mans grootgeword het in ʼn omgewing waar bendebedrywighede algemeen was, het dit hulle nie geregverdig om ook betrokke te raak nie.

Hy het ook tydens sy vonnisoplegging verwys na skokkende statistiek wat deur lt.kol. Mike Grobler bekend gemaak is. Grobler is die hoof van die provinsiale bende-ondersoekeenheid wat vier jaar gelede gestig is om voortgesette bende-oorloë in die stad se noordelike gebiede aan te spreek.

Grobler het vroeër getuig dat daar, gedurende April 2016 en Junie 2017 tussen Bethelsdorp en Gelvandale, altesaam 143 moordsake aanhangig gemaak is, 263 sake van poging tot moord en 98 sake van die onwettige besit van vuurwapens.

Grobler het gesê dit dui daarop dat daar daagliks minstens een gewelddadige bendebedrywigheid in die gebied plaasvind. Hy het gesê staatsgetuies word ook geteiken om vermoor te word, ondanks getuiebeskermingsprogramme en huise van veiligheid.

“Ooggetuies swig gewoonlik onder druk of intimidasie en weier om te getuig of verander hul weergawes. Bendebase bied bystand aan behoeftige lede van die gemeenskap en ondersteun in sommige gevalle ʼn hele straat finansieel. In ruil daarvoor, steek gemeenskappe dwelms weg of meng in met misdaadtonele en die polisiebeamptes en gemeenskapslede is magteloos om teen bendebedrywigheid op te tree,” het Grobler gesê.

In die lig hiervan, het Goosen gesê dat gewelddadige misdade dus nie as enigiets anders behalwe ernstig beskou kan word nie. Hy het ook die trauma, wat die familielede beleef het, in ag geneem.

“Die trauma van familielede as gevolg van bendeverwante geweld, spreek vanself. Dit word nie verminder indien die slagoffers self by bendes betrokke was nie. Die impak van bendebedrywighede is baie duidelik,” het hy gesê.

Beryldene Cross, Rushay se ma, ly aan paniekaanvalle sedert die moord op haar seun. Sy het begin huil toe die mans gevonnis is en het onthou hoe sy op haar knieë geval en gehuil het toe sy haar seun se liggaam gesien het.

“Ek is dankbaar my God, ek het gebid dat hulle gevang sal word. Die dag toe my kind daar gelê het, het ek aan Vader dankie gesê dat Hy aan my die krag gee wat ek nou het. Dankie Jesus, ek eer U en sal nou nader wees aan U, my God,” het sy gehuil.

Volgens die polisie is dit die vierde skuldigbevinding die afgelope drie dae van bendebedrywighede deur die provinsiale bende-ondersoekeenheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

w ·

Sterkte aan die mammie van oorledene. Soma ook sterkte aan al die ouers wie kids verloor het as gevolg van bend geweld en moord?

Bernard ·

“Trane vloei”!!! Nou wat het hulle dan verwag, dat hulle ongestraf gaan bly.
Die gemeenskappe huil baiekeer dat van hul eie kinders of familielede “per ongeluk” doodgeskiet word in gevegte maar hier sien ons dan dat hulle baiekeer die bendes akkommodeer. Ek verstaan dit nie, word hulle dan geintimideer om die bendes te help?

Jaco. Grobler ·

143 moorde in ‘n jaar se tyf tussen twee dorpies wat ek nie eers ken nie! Ek dink dit laat plaasmoorde soos’ n vulletjie lyk. Waar is die kommentaar, wat gaan ons doen, bring die kommandos terug, ons moet begin saamstaan, my innage simpatie aan die families… Dis een van die foute van my land, ons gee net om as dit ‘myne’ raak. My huis, my gesin, my volk en my lewe.

Domvraag ·

Hoekom moet vonisse gelyklopend uitgedien word?
Belaglik. Regter bepaal lewenslank, 15jaar plus 8jaar plus 18maande en dan word dit gelyktydig uitgedien. Is dit nie belaglik nie

HFC ·

Goeie vraag, ek kan nie onthou wanneer laas ek gesien het dat hierdie klas vonisse nie gelyklopend utgedien word nie. Wat is die doel hier agter?

Mike ·

Ai ai wat help so lank vonnis,regter kon net so wel gese het,doen aansoek vir parool oor 2 jaar………………..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.