Transaksies by Eskom ‘moet onafhanklik ondersoek word’

Argieffoto

Die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) het Sondag gesê ʼn onafhanklike ondersoek moet gedoen word na die “twyfelagtige transaksies” by Eskom asook na die skorsing van sekere beamptes hangende die uitkoms van ʼn dissiplinêre proses.

“[Numsa] neem kennis van Eskom se besluit om die miljarde rande te verhaal wat onwettig aan McKinsey en Trillian in 2016 en 2017 betaal is,” het Phakamile Hlubi, waarnemende woordvoerder van Numsa, gesê.

“McKinsey word betrek by moontlike korrupte transaksies tussen Eskom en die Gupta-verbonde maatskappy, Trillian. Dit kom nadat Bianca Goodson, fluitjieblaser en voormalige uitvoerende hoof van Trillian Management Consulting (TMC), ernstige bewerings van korrupsie teen uitvoerende beamptes van die maatskappy gemaak het. Goodson beweer Trillian is aansienlike konsultasiefooie betaal deur na bewering toegang tot top-beamptes vir McKinsey en Oliver Wyman, ʼn internasionale konsultantefirma, te fasiliteer. Eskom wil nou R1,56 miljard onderskeidelik van McKinsey en Trillian verhaal,” het hy gesê.

Volgens Hlubi is Eskom ʼn “nimmereindigende verhaal van korrupsie en staatskaping”. Eskom het erken hy het vir die media gelieg toe hy beweer het betalings wat aan Trillian en McKinsey gemaak is was bo verdenking. Anoj Singh, Eskom se finansiële hoof, is geskors nadat hy die betalings aan albei die beleërde maatskappye verdedig het.

“Die geld wat Eskom nou van hierdie twee maatskappye terugeis is moontlik net ʼn druppel in die oseaan. Dit is moontlik dat hierdie maatskappye baie meer deur onwettige betalings ontvang het. Die raad het verder homself as heeltemal onbevoeg bewys en nie in staat om die maatskappy uit hierdie krisis te bestuur nie. Numsa eis daarom ʼn onafhanklike ondersoek na hierdie transaksies. Almal wat enigsins met hierdie besluit verbind kan word, moet geskors word hangende die uitkoms van die dissiplinêre proses,” het Hlubi gesê.

Hy het gesê Numsa verwelkom die besluit van die vakbondfederasie Saftu om aanklagte teen Trillian Capital Partners en sy direkteure aanhangig te maak. Saftu het aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery teen die firma aanhangig gemaak. Die federasie eis dat die SAPD en die Valke die strafregtelike ondersoek na die maatskappy prioritiseer.

“Trillian en almal wat moontlik met Eskom saamgesweer het moet voor ʼn hof gebring word om antwoorde te gee oor die aanklagte. Numsa herhaal weer eens sy oproep dat die Gupta-familie ondersoek moet word en dat alle bewerings van staatskaping in ʼn hof openbaar gemaak moet word. Diegene wat skuldig is, moet tronk toe gaan vir korrupsie,” het hy gesê.

Hlubi het gesê Eskom se raad het duidelik nie die leierskapsvermoë om die probleme by die nasionale kragvoorsiener te takel nie. Hy het verwys na die voormalige uitvoerende hoof, Brian Molefe, se heraanstelling en afdanking wat ʼn nasionale skandaal geword het. Molefe is weer in die posisie aangestel ten spyte van die feit dat hy deur die openbare beskermer by bewerings van staatskaping betrek is.

Terselfdertyd is die Eskom-raad daarvan beskuldig dat hulle met opset die pensioenproses gemanipuleer het om Molefe ʼn uitbetaling van R30 miljoen te verseker. Matshela Koko, waarnemende uitvoerende hoof, staar nou dissiplinêre aksie in die gesig weens bewerings van korrupsie en Singh is geskors.

“Wat werklik ʼn skande is, is dat hierdie individue ruim bonusse ontvang het wanneer dit ooglopend is dat hulle net in eie selfsugtige belang optree eerder as in die beste belang van die publiek,” het Hlubi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Dalene de Vente ·

Dagsê B-man

Dankie vir jou valkoog! Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Dalene
nms. Maroela Media

Anoniem ·

Dis niks minder as reg dat daardie ruim bonusse ook van die korrupte kaders verhaal word nie.

James ·

Ek hoor by vriende van my wat in Secunda bly ,hulle krag is afgesit agv. wanbetaling deur die munisipaliteit.Hulle beskik oor ń pre-paid meter maar nog steeds word hulle krag afgesit.My voorstel aan hulle is sonpanele.

Flip ·

Ek stel voor dat al die geld wat onregmatig bestee is, eers verhaal word voordat daaraan gedink word aan tariefverhogings. Daar kan nie so voortgegaan word om die publiek te straf vir hulle foute nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.