Transgender gevangene se aansoek eindelik aangehoor

Jade September. Foto: Verskaf

Die transgender gevangene wat in die gelyksheidshof in Kaapstad vir die reg baklei om haar identiteit in die gevangenis uit te leef, se regsverteenwoordiger is versigtig optimisties nadat haar aansoek eindelik aangehoor is.

Die transgender vrou Jade September (oorspronklik Jerome Benjamin), wat in 2013 vir 15 jaar tronk toe gestuur is nadat sy erken het sy het Graham Flax (65) vermoor terwyl sy bedwelm was, kon nie vandeesweek self die twee dag lange hofsaak bywoon nie aangesien sy nie verlof by die departement van korrektiewe dienste gekry het om die Malmesbury-gevangenis te verlaat nie.

Dit gebeur baie selde dat die regter dadelik uitspraak lewer.

Haar regsverteenwoordiger, Sanja Bornman van Regslui vir Menseregte, sê die hof het uitspraak voorbehou. “Dit gebeur baie selde dat die regter dadelik uitspraak lewer. Ons weet nie hoe lank dit sal duur voor ons weet wat die hof beslis nie; dit kan twee dae, twee weke of selfs twee maande wees.”

Bornman sê sy is versigtig optimisties dat die hof in sy uitspraak die bepalings van die Grondwet ten opsigte van gelykheid en menswaardigheid sal eerbiedig.

Omdat September nie self kon getuig nie, moes Bornman haar saak aan die hof stel. “My kliënt was maar senuweeagtig,” vertel Bornman, “maar sy is baie bly dat die saak uiteindelik in die hof aangehoor is.”

Sy vertel dis ook verblydend dat ʼn aantal organisasies na die hof gekom het om hul steun aan September en haar stryd om gelyke behandeling te toon.

Ons vra niks buitengewoons of uitsonderliks nie.

“Ons vra niks buitengewoons of uitsonderliks of iets wat die staat ekstra geld sal kos nie,” het Bornman begin November aan Maroela Media gesê. “Ons vra net dat sy redelik geakkommodeer word en dat sy haarself kan uitleef op die manier wat ander mense as vanselfsprekend aanvaar.”

Hulle het reeds in 2015 met die regstappe begin, maar het verduidelik in regsprosedures teen die staat kan dit baie lank duur voordat ʼn saak eindelik hof toe gaan.

September het die hof gevra om haar die reg te gee om haar identiteit uit te leef in die beperkte mate wat dit in die gevangenis moontlik is en dat haar reg op gelykheid en waardigheid gerespekteer sal word.

Bornman het gesê die feit dat September tydens sekere van haar tronkervarings toegelaat is om haar hare ʼn bietjie langer te laat groei en ʼn bietjie grimering te dra, bewys dat dit binne die tronkstelsel moontlik is, ook in die Malmesbury-gevangenis waar sy tans aangehou word.

“Dis baie belangrik om te onthou dat sy geen teenstand of teistering van haar medegevangenes weens haar identiteit ervaar nie,” het sy gesê. “Die viktimisering kom van die amptenare wat haar probeer dwing om reëls te gehoorsaam wat geen doel dien nie.

Hulle dwing haar byvoorbeeld om haar hare te knip

“Hulle dwing haar byvoorbeeld om haar hare te knip of neem die bietjie persoonlike items af wat sy gebruik om haar identiteit mee uit te leef.”

Bornman sê September word onderwerp aan verbale mishandeling en teistering van tronkbewaarders en is in ʼn stadium in afsonderlike aanhouding geplaas nadat sy haar geslagsidentiteit probeer uitleef het.

Omdat September nog nooit ʼn geslagsveranderingsoperasie kon ondergaan nie, is die oplossing in haar geval beslis nie om haar oor te plaas na ʼn vrouegevangenis nie.

“In ʼn vrouegevangenis sal sy waarskynlik nog meer uitstaan en groter gevaar loop om geviktimiseer te word en die slagoffer van geweld te wees,” meen Bornman. “Daarom is dit die staat se plig om haar te akkommodeer waar sy haar op die oomblik bevind ingevolge die beginsels van werklike gelykheid omdat daar geen afsonderlike gevangenisse vir transgender gevangenes is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

SM ·

Goeie genade.. is daar nie belangriker dinge wat howe se tyd moet opneem nie?

Vir gelykheid ·

Ek is bietjie deurmekaar, wat presies wil hulle vir haar he, sy is nog nie vrou nie en technically bly sy nog n man. Moenie my verkeerd verstaan nie. Die feit dat sy transgender is, is nie die issue nie. Sy moet nog die hele geslags verandering doen, so wat wil hulle bereik. Haar gremering gee en haar naels lank laat groei…

Nettie ·

@Vir gelykheid – ek stem saam. Vir my is jy òf ‘n man óf ‘n vrou (ek praat nie van homo-, hetero- of biseksualisme nie). Jy het òf ‘n sekere deel van ‘n man se anatomie óf jy het dit nie.

Blackie ·

Dis die Staat se plig om misdadigers te straf, nie om hulle te akkommodeer nie.

Geregtigheid ·

Moordenaars behoort GEEN regte in die tronke te geniet nie. Moordenaars het hulle slagoffers se regte tot lewe nie gerespekteer nie.

MS ·

Die hof het baie ernstiger sake om aan te hoor as hierdie twak. “Sy” het iemand vermoor, so “sy” verdien nie om enigsins geakkomodeer te word in die tronk nie.

She-man ·

Sonde word verdoesel onder die vaandel van menseregte en gelykheid. Nou gaan hier weer ‘n hele paar opspring en skree dis reg hoe sy optree. Transgender het ‘n cool mode woord geword vir sulke bedrywighede.

Realis ·

Welcome to the real world Jade.
Jy was groot en sterk toe jy gemoor het. Wys almal jy is nog steeds groot en sterk en vat jou pak slae soos ‘n man.

Neutraal ·

Mans lede van Korrektiewe Dienste loop met oorstuds, lang hare en baarde. Dis die moderne voorbeeld vir gevangenes. Waarom kan gevangenes dit nie doen nie.

OJ ·

Wat jy waar kry. My pa werk al jare vir die diens en dit word nie gesien daar nie.

Alida ·

Ek oordeel gladnie maar in my opinie moet hy eers die operasie kry voor hy na n vroue tronk oorgeplaas word. Miskien hou dit n gevaar in vir die vroue gevangenisse. Ek weet nie so mooi nie.

Alida ·

Huidiglik is hy nog n man. Kry die operasie en hormoon behandeling en alles wat daarmee saamgaan en plaas haar dan oor.

Lana ·

Hy/sy het iemand doodgemaak en bekommer nou oor lang hare en grimering dra?
REGTIG??

Mariette ·

Sy wil nie oorgeplaas word…. Wil net haar make up en goed wat haar soos n vrou laat voel kan gebruik

JB ·

Ek voel jy het nie meer die reg om aan te dring op “dinge” as jy in n tronk is nie. Tronk moet n straf wees, vir in jou geval moord…. jy het jou regte verbeur.

Drienie ·

Stem 100 % saam met jou watter regte het iemand wat in die tronk is vir moord volgens my, niks. Nie eers stem regte nie.

Jeremia ·

In ‘n land waar kinders, kriminele, gevangenes, en ‘n onbevoegde regering die baas is, gaan dit van kwaad na erger.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.