Transitorooftog in Pta afgeweer

Omstander by die toneel. Foto: Verskaf

ʼn Groep swaargewapende rowers moes Donderdagaand met leë hande op die vlug slaan nadat ʼn poging om ʼn geldwa in Pretoria te beroof, suksesvol afgeweer is.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het Vrydag gesê die sukses word toegeskryf aan verskeie hoë veiligheidsmaatreëls wat deur die polisie in plek gestel is.

“ʼn Groep gewapende mans het in sedans en ʼn ligte afleweringsvoertuig probeer om omstreeks 18:00 ʼn geldwa in Gezina in die Moot te beroof. Hulle moes egter hul planne laat vaar en vlug toe hulle deur vinnige reaksie van wetstoepassingsbeamptes onderbreek is en besef het hul poging is nutteloos weens verskeie intensiewe veiligheidsintervensies wat in plek gestel is,” het Naidoo gesê.

Naidoo het gesê die rowers het skote op die geldwa gevuur en dit tot stilstand gedwing. Geen springstof is egter gebruik nie en niemand is tydens die voorval beseer nie.

Bheki Cele, die minister van polisie, en genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, het op 4 Junie ʼn stabiliseringsoperasie van stapel gestuur om transitorooftogte hok te slaan.

“Die operasie behels buitengewone maatreëls om veiligheid te verseker en sedert dit dadelik landswyd in werking gestel is, is verskeie verdagtes al aangekeer en transitorooftogte het drasties verminder. Een van die verdagtes wat aangekeer is, is die tweede mees gesoekte transitorower in die land.”

Volgens Naidoo word die sukses van die stabiliseringsoperasie toegeskryf aan hoëdigtheid-geïntegreerde operasies deur die polisie, metropolisie, die Suid-Afrikaanse bankwese-risiko-inligtingsentrum (Sabric) en geldvervoermaatskappye.

Die polisie het ʼn volskaalse soektog na die rowers van stapel gestuur. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

honourable member ·

Dis nie moeilik om te weet waar om te begin soek nie. Dis heel moontlik n inside job ….

Nettie ·

Nou wag ons net dat Min. Cele ook plaasmoorde ‘n prioriteit maak en verskeie intensiewe veiligheidsintervensies in plek stel sodat ons boere kan voortgaan met voedselproduksie vir die massas.

Nika ·

Geen springstof is gebruik nie? Ek bly twee blokke weg van waar dit gebeur het en dit het geklink asof hulle n bom gebruik het en dit was net n geskiettery.

Sannie se ook so ·

Ek stem saam Nika, ek woon ook 2 blokke weg en het 2 groot onploffings gehoor. Dit was defanitief nie Net geweer skote nie.

Thea ·

En gaan kyk hoe lyk die teerpad, daar is duidelik iets gebrand op daardie pad. En nogal op twee plekke.

SjN ·

Puik werk deur almal betrokke, word die misdadigers nog genommer ook, die tweede mees gesoekte een is gevind, laat hy sing waar sy broers is wat by die inside job betrokke is.

Vicky Alberts ·

Ek lees:” Een van die verdagtes wat aangekeer is,is een van die mees gesoekte transito rowers in die land….” Dan n paragraaf later:”Nog niemand is in hegtenis geneem nie…”
Verskoon my as dit nou nie sin maak nie?

Rihannon ·

Dit het betrekking op vorige suksesse nadat die stabiliseringsoperasie op 4 Junie ingestel was en nie op hierdie spesifieke geval nie.

Christo ·

Ek sê nog heeltyd die polisie en regering self is ook hier betrokke. Moet iemand vea buite kry om die goed oop te vlek. So ook met malema en die plaas moorde.

adriana ·

Jy is reg Vicky – wat moet ons ons lees as waar wonder ek?

Dee ·

Die berig lui dat vandat die veiliheid maatreëls in werking is is daar al verdagtes aangekeer

fanie 1 ·

Ag Vicky lees tog die berig bietjie stadiger dan sal jy sien die verdagte was gedurende in ander op volg operasies gearresteer.

celeste ·

Ons bly ook n blok daarvan af… al die venster van die woonstel blok oorkant Nissan is stukkend..
en mens kon dit 2 blokke ver weg ruik…

wees eerlik met die mense… dit kos niks.

Anoniem ·

Dit was nog daglig toe die gepoogde roof gebeur het, soos almal wat in die nabye omgewing was kan beaam. Waar kom jy daaraan dat hulle na sononder gery het?

Dee ·

ek stem Celeste…Ons bly ook n blok daarvan af en dit was verseker n ontploffing en toe skote

bea ·

Ek bly oorkant die Withuis daar is beslis springstof gebruik, mens kon dit duidelik hoor…en dit het net na 5 gebeur, was in spits verkeer.

Liberaal ·

Linkses is tog so lief vir misdadigers, daarom is die arme bloedjies toegelaat om sonder versteuring te weg te kom om hulle liberaal demokratiese vryheid te geniet.

CJ ·

Ondersteun jou standpunt, Nettie. Presies wat deur my gedagtes gegaan het: waar daar n wil is, is daar n weg. Ek onthou so duidelik hoe groot stede in 2010 in aanloop tot die sokker wêreldbeker ewe skielik “boemelaar-loos” en “bedelaar-loos” en selfs minder tannies van die nag sigbaar was. Die rede: SA wou vir buitewêreld wys ons het dit in ons om “oulik” te wees. Nou-ja, haal maar weer uit en wys – hierdié keer vir jul leeggemelkte belastingbetalers. Ai hoe lekker dagdroom ek nou …

Wat het gistermiddag in Gezina gebeur? ·

Mense het daar twee verskillende insidente laat gister in Gezina plaasgevind? Die een waaroor Maroela Media berig wat ongeveer 18:00 gebeur het en die ander insident waar ‘n bom ontplof het waaroor die Maroela lesers berig wat ongeveer 17:00 plaasgevind het?

Vasbyt Vicky en Adriana ek weet dis moeilik om by te bly deesdae met al die skietery en ontploffings reg rondom ons. Als gebeur so vining mens moet baie vining lees om by te hou en dis baie maklik on mis te verstaan wat mens lees.

Anoniem ·

Dieselfde insident, net na 17:00 is sou meer akkuraat wees. Die helikopters was teen 18:00 al amper ‘n halfuur in die lug besig om te soek en Steve Biko Road afgesper oor die kop na Wonderboom in Pretoria.

mike ·

Ek is ‘n inwoner in die Woonstel blok reg waar die transito roof plaas gevind het. eers het skote geklap en toe die springstof. Feitlik al die glas venster van onder tot bo is uit of beskadig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.