Transitorooftogte: 230 verdagtes agter tralies, talle rooftogte gestuit

Genl. Bheki Cele, minister van polisie (Foto: ANA)

Meer as 230 vermeende transitorowers het sedert Junie vanjaar agter tralies beland.

Dít volgens Bheki Cele, minister van polisie, wat Dinsdagoggend tydens ʼn media-inligtingsessie gesê het daar is daadwerklik ingegryp sedert die skielike styging in transitorooftogte in April en Mei vanjaar.

Rowers met swaarkaliber‑wapens en dikwels plofstof, het op geldwaens in veral Gauteng, Noordwes, Mpumalanga en Limpopo toegeslaan.

Een van dié voorvalle was die opspraakwekkende skietdood van Eric Ngobese en Boykie Moyo, veiligheidswagte by 24/7 Security Services. Dié twee is in Oktober vanjaar in Klipspruit in Soweto op kort afstand in die kop geskiet terwyl hulle in hul voertuig gesit het. Hulle is van hul dienspistole is beroof.

Die twee wagte se laaste oomblikke is op ʼn paneelbordkamera in die voertuig vasgevang.

Hulle moordenaars, Lindokuhle Cebekhulu (24) en Mbuyiselo Mthonthi (26), is sowat twee weke later in ʼn skietgeveg met die polisie in Clermont in KwaZulu-Natal doodgeskiet.

Cele sê weens die drastiese ingryping en daaropvolgende inhegtenisneming van hoëprofielteikens in dié provinsies, het misdaad verskuif na veral landelike gebiede in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, die Vrystaat en die Wes-Kaap.

Altesame 118 transitorooftogte is sedert 1 April tot 4 November vanjaar landwyd aangemeld. Hy sê in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar – toe 184 sulke sake aangemeld is – is dit ʼn daling van 36%.

“Ons het in die laaste tydperk egter ʼn aansienlik groter aantal oortreders wat in hegtenis geneem is,” het Cele tydens die mediakonferensie gesê.

Die toneel van ‘n transitorooftog in Junie vanjaar in Kaapstad. Foto: Verskaf

In dié tyd is 237 mense aangekeer en beslag is gelê op 92 voertuie en 78 vuurwapens. Cele sê aansienlike bedrae geld is ook teruggevind.

“Ons kan heelwat van dié suksesse aan die 72-uur-aktiveringsplan toeskryf. Die plan behels die maksimum mobilisering van hulpbronne, waaronder lede van misdaadintelligensie, forensiese kenners, die Valke, ervare speurders en taktiese reaksiespanne. Hulle word 72 uur lank ontplooi om te verseker belangrike inligting, intelligensie en getuienis word ingesamel sodat ʼn deurbraak in die ondersoek gemaak kan word,” het die polisieminister gesê.

“Danksy multidissiplinêre, misdaadintelligensie-gedrewe operasies oor die afgelope ses weke, het ons verskeie verdagtes aangekeer wat transitorooftogte beplan het.”

Cele sê te danke aan wenke is minstens 30 mense in Gauteng en Noordwes in hegtenis geneem. Beslag is gelê op verskeie gekaapte voertuie, ammunisie en wapens.

Die minister sê die operasies stuit rowers voordat hulle die grusame misdade kan pleeg.

Volgens hom het die operasies die aantal transitorooftogte dalk verminder, maar die stryd is nog nie gewen nie. “Dit is een van die misdade wat nog geweldige vrees by Suid-Afrikaners veroorsaak,” het Cele gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Bog ·

Sinnelose Afrika propaganda terwyl die hool se tronke oorvol is.

Derick ·

Hulle hoef nie te worry. Oor n maand of twee is hulle uit op borg en kan hulle weer voortgaan met hulle misdaad. Dis hoe die regstelsel werk in SA

marous ·

Hy moet maar vir sy bevelvoerder vra hoekom die land so verrot is .

IK ·

Dis reeds bewys dat minimale skoolopleiding nodig is vir selfs ‘n president.

Plaasmoorde ·

Nou wanneer word die statistieke oor plaasmoorde bekend gemaak en hoeveel verdagtes hulle al vasgekeer het??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.