‘Transitorower’ bebloed in rivier aangetref

Die verdagte kort nadat hy deur polisie gevind is. Foto: SAPD

ʼn Vermeende transitorower is Maandag in ʼn ernstige toestand, met skietwonde en ʼn koeël wat steeds in sy mond vassit, in ʼn beboste gebied in die Jane Furse-omgewing in Limpopo aangetref naby die plek waar daar Sondag ʼn transitorooftog plaasgevind het.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê transito-veiligheidswagte was Sondag op pad om kitsbanke in die Jane Furse-gebied te herstel toe hulle by die Diphagane-nedersetting naby Lebowakgomo buite Polokwane deur die insittendes van ʼn silwer Toyota Corolla tot stilstand gedwing is.

“Die verdagtes het hulle opdrag gegee om stil te hou en onmiddellik daarna op hulle losgebrand. Die veiligheidswagte het teruggeskiet. Een van die verdagtes is tydens die skietgeveg doodgeskiet, terwyl die ander twee ernstig gewond is.”

Volgens Ngoepe het nog verdagtes in ʼn wit Audi A4 opgedaag, die twee gewonde verdagtes in die motor gelaai en weggejaag.

Geen kontant is tydens die voorval gesteel nie.

Die polisie is ontbied en het die liggaam van die verdagte wat doodgeskiet is in die pad aangetref. ʼn AK47-geweer, ʼn 9 mm-pistool, kontant en die Toyota Corolla is ook op die toneel gevind. Volgens Ngoepe is die Corolla vroeër vandeesmaand in die Tubatse-gebied buite Burgersfort gesteel.

Die polisie het later die Audi A4 ʼn ent weg van die misdaadtoneel gevind. Daar is intussen vasgestel dat dié voertuig vroeër in die Garsfontein-gebied gesteel is. Dit is dieselfde voertuig wat in Januarie vanjaar tydens ʼn transitorooftog by die Bloemfontein-lughawe gebruik is.

Maandag laatmiddag het gemeenskapslede die polisie in kennis gestel dat ʼn ernstig beseerde persoon in die bosse naby die Ga-Phaahla-nedersetting lê. Die provinsiale opsporingspan het vinnig gereageer en die man daar aangetref.

“Die middeljarige man is in die rivier aangetref, met skietwonde en in ʼn ernstige toestand. Hy kon nie praat nie aangesien ʼn koeël steeds in sy mond vasgesit het. Hy is dadelik onder polisiebewaking na ʼn hospitaal gehaas,” het Ngoepe gesê.

ʼn Taakspan is steeds op die spoor van die ander verdagtes wat by die transitorooftog betrokke was. Enigiemand met meer inligting word versoek om kapt. Richard Boshomane by 079 894 5501 of Stop Misdaad by 0860 010 111 te nader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hopelik . . . ·

Hopelik is sy versekering en mediesefonds volop betaal . . .

Potlood ·

hahahahahahahahaha – nee Hopelik, dis hoekom hulle NHI wil he, sodat ons die ook kan sponsor!!

Gustav ·

Nou moet hulle hom net kry om te praat, daar is geen ander keuses vir hom nie. Kan nie soos Zuma wees, wat gevra was om te sê hoekom hy nie vervolg mag word nie (nog nooit in my lewe van iets soos stupid gehoor nie)

Theresa ·

Wha ha ha ha ha!! met ‘n traan in die oog omdat dit ongelooflik stupid is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.