Transitorower gevonnis vir rooftog wat Valke-lede eis

Ao. Delene Grobler-Koonin (44).

Een van die rowers wat destyds by die transitorooftog betrokke was waarin ao. Delene Grobler-Koonin en sers. Wynand Herbst, albei lede van die Valke, dood is, is Vrydag in die hooggeregshof op Mmabatho tot 30 jaar effektiewe tronkstraf gevonnis.

Jabulani Yika (41) en sy agt medebeskuldigdes is in 2020 in hegtenis geneem en van moord, poging tot moord, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, die besit van plofstof en opsetlike saakbeskadiging aangekla. Die rooftog het op 5 Maart dieselfde jaar plaasgevind. Twee van die verdagtes is op die toneel in hegtenis geneem en die ander ses kort daarna.

Kapt. Tlangelani Rikhotso, woordvoerder van die Valke, sê die verhoor van Solomon Ngubeni (47), Musa Mkhavela (33), Terefe Demmissie (39), Edgar Marule (47), Simphiwe Msibi (24), Jabulani Sibisi (53), Omphile Maswabi (33) en Thuso Tshepo Lobelo (31) sal op 27 Februarie begin.

Sers. Wynand Herbst (42).

Maroela Media het destyds berig dat die rowers net besig was om die geldwa met plofstof oop te skiet toe die lede van die polisie se spesiale taakmag op hulle toegeslaan het. ʼn Jaagtog en skietery het uitgebreek en Grobler-Koonin (44) is in die kop geskiet. Sy het op die toneel gesterf. Herbst (42), ʼn lid van die Valke se taktiese operasionele bestuurseenheid (Toms), het op pad na die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Die polisie het destyds beslag gelê op drie AK47-gewere, twee 9 mm-pistole, 86 patrone, ʼn bakkie en ʼn minibus.

Genl.maj. Patrick Mbotho, provinsiale hoof van die Valke, het Yika se vonnis verwelkom en die ondersoek- en vervolgingspanne bedank wat onverpoosd gewerk het om te verseker dat die skuldiges gevang word en aan die pen ry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Harley Davidson ·

Sou graag wou hoor lewenslank sonder die keuse vir parool.

SomeOne ·

oor 5 jaar of minder doen hy aansoek vir parool, hy kry dit en gaan aan met sy lewe, wat van die families van die oorledenis, wat van hul lewens ? moet hulle ook maar net aangaan ?

Boer ·

Hulle het nie die reg om te lewe nie, doodstraf sou die beste wees as dit nog wettig was in ons land maar ons sal almal lewenslange tronkstraf sonder parool verkies.

Nie Verbaas ·

Ek stem. Ons sal dan ook nie met oorvol tronke sit nie. Doodstraf moet ingestel word vir moord, verkragting, staatskaping, beskadiging van infrastruktuur, renoster stropery, plunder van staatskoffer, ens. Die land sal drasties verander.

kaplyn ·

Jy moet oppas waarvoor jy wens. Die kommunistiese owerheid sal dan ook die doodstraf gebruik, saam met plaasmoorde, om die Afrikaner mee uit te roei.

Papsak ·

Maak Mc Kenzie ons president hy sal teminste dinge reg ruk punt !!!!!!

Aai ·

30 jaar twee polisie beamptes was vermoor?Wat ‘n grap in ander lande sou hulle nooit weer die son gesien het.

Eugene ·

3 Jaar gevat om die moordenaars te vonnis. Wat n’ skande!!!.

E ·

HUlle was seker nog uit op borg ook, sodat hulle dit weer kan doen. Borg is ‘n onding spesifiek vir sulke ernstige dade

Roek ·

Dit is absoluut belaglik , geen wonder die manse wat nog hul werk eerlik wil doen in die SAPD ‘n ander uitweg soek nie, !

AndrewL ·

Die vonnis is ‘n grap. Hul moet lewenslank sit sonder kans op parool.

Marcello ·

Hoe is dit moontlik dat hulle na 3 jaar eers voorkom, as hullle opp die toneel gevang is en kort daarna?
Nou gaan hulle seker weer sê: Hulle moet 3 jaar afslag kry van hulle vonnis.

Piet parys ·

Die hele lot moes 30jr gekry het want hulle almal deel van die plan om te moor om geld te roof . Eintlik moes hulle almal gehang word

Frans ·

Nou moet ek my ander broer en my suster, sy vrou en kinders beter voel?

Het geregtigheid regtig plaas gevind?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.