Transitorower lewenslank tronk toe gestuur

(Argieffoto: Unsplash)

’n Transitorower is lewenslange tronkstraf opgelê ná ’n transitorooftog wat in 2018 die lewe van ’n veiligheidswag geëis het.

Kapt. Ndivhuwo Mulamu, woordvoerder van die Valke, het gesê Bhekani Dladla (30) is Maandag in die Palm Ridge-hooggeregshof in Johannesburg tot lewenslank en ʼn bykomende 47 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy en ’n makker in Mei 2018 op ’n transitowa in Johannesburg toegeslaan het.

Personeel van die veiligheidsmaatskappy Fidelity ADT het die betrokke dag R30 000 by ’n slaghuis in die Goudstad opgetel waarna Dladla en Lalela Cwabaza (37) die transitowa beroof en ’n veiligheidswag doodgeskiet het. Die verdagtes het ná die voorval in ’n wit Opel Astra op die vlug geslaan.

Dladla is in Februarie 2019 in verband met dié voorval in hegtenis geneem nadat CCTV-kameras hom aan die rooftog verbind het.

Sy makker, Cwabaza, is dieselfde maand tydens ’n rooftog by ’n hoërskool in Edenvale deur polisiebeamptes doodgeskiet.

Dladla is skuldig bevind op aanklagte van moord, gewapende roof, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Dladla was sedert sy inhegtenisneming in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae