Transitorower ontsnap tweede keer

Lundi Mzimkhulu (Foto: Verskaf)

Die Valke is op die spoor van ʼn 33-jarige gevangene wat ʼn maand gelede uit die Sada-gevangenis in Whittlesea in die Oos-Kaap ontsnap het. Dit is die tweede keer wat Lundi Mzimkhulu uit aanhouding ontsnap.

Lwando Zenzile, woordvoerder van die Valke, sê Mzimkhulu en nog vyf gevangenes het op 14 Augustus ontsnap.

“Hulle het ’n vuurwapen op korrektiewe beamptes gerig, hulle in die kantoor ingedwing en die sleutels van die gevangenis se hek en die amptenare se motorsleutels gegryp. Hulle het ook die beamptes se uniforms gevat en aangetrek.”

Die gevangenes, geklee in die amptenare se uniforms, het uit die gevangenis ontsnap en met ’n staatsvoertuig weggejaag. Drie van die ses is weer in hegtenis geneem. Mzimkhulu en die ander twee is nog op vrye voet.

Mzimkhulu word saam met drie ander verdagtes aan ʼn transitorooftog in November 2018 in Whittlesea verbind. Hulle is dieselfde dag in hegtenis geneem en die polisie het op die gesteelde geld en twee vuurwapens wat tydens die rooftog gebruik is, beslag gelê.

“Die drie verdagtes het op 11 Maart vanjaar twee polisiebeamptes wat hulle na die Whittlesea-hof begelei het, oorrompel en hul vuurwapens afgeneem en met die polisievoertuig op die vlug geslaan. Die voertuig is later in die Dongwe-nedersetting gevind.”

Mzimkhulu is weer op 25 Maart in hegtenis geneem.

Die Valke doen ʼn beroep op die publiek om hulle te help om die ontsnapte misdadigers op te spoor.

Enigiemand met inligting wat tot hul inhegtenisneming kan lei, kan die ondersoekbeampte, kapt. Nobuzwe Myeki, by 076 481 3073 skakel of Stop Misdaad by 0860 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

tweeling ·

Die mense word nie geboei nie alhoewel hulle van die gevaarlikste misdadigers in die land is – skokkend

Adeline ·

Wonderlik – die misdadigers en tronk voëls is beter opgelei as die SAPdiens…. RZA is die misdadiger (dit sluit elke hoog geplaaste regerings amptenare , hof, munisipaliteite, polisie, onwettige immigrante, korrupte burgers in want hulle kom na vore met die mees kreatiewe hoogs korrupte en misleidende beplande dade in mense geheuenis – RZA staan bekend vir hulle as die kriminele paradys/hemel…. so wonderlik hoe die land in gaos en korrupsie gedompel is en die mense wat dit moet beheer is te min of te onnosel om hieraan ‘n stop te sit… wonderlikste land om in te leef – verseker. Die bietjie wat gedoen word met sukses is minimaal.

Misky ·

Julle vra ons om te help en die skelm te vang, maar doen nie julle deel en werk nie en dis so maklik om te ontsnap. Julle is pateties!!!

koos10 ·

Nou waar kry hulle die vuurwapen? En is dit nodig dat ons eers 4 weke later hiervan moet uitvind?

Niklaas ·

Dit gebeur gereeld deesdae. Daar word moontlik gehelp daarmee deur iemand in binnekringe. Dalks teen beloning ook nog daarby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.